Maar ondanks die oorverdowende koor dat Suid-Afrika nie ’n oomblik langer met so ’n president opgeskeep wou sit nie, het Zuma tot aan die bitter einde geweier om die regte ding te doen.

Hoe lyk die pad vorentoe vir Zuma? En wat was die vernaamste mylpale op sy pad na ondergang?

ZEXIT: WAT HOU DIE TOEKOMS VIR ZUMA IN?

Kan hy vervolg word – en selfs tronk toe gaan?

Zuma sou in sy onderhandelings met die ANC-leierskap “kon verwag dat sekere vervolgingsaansoeke nie teen hom ingestel word nie,” sê prof. André Duvenhage, politieke wetenskaplike aan die Noordwes-Universiteit.

“Die ANC sou kon sê hulle sal vir hom doen wat hulle kan mits hy nie eenheid ondermyn nie, maar hulle kon nie vir hom sê hy sal van vervolging (teen korrupsie) gevrywaar word nie.”

Selfs al sou die ANC oorweeg om hom “as regering amnestie te verleen, kan hulle hom nie regtig amnestie bied wat misdadigheid betref nie”.

“Ramaphosa is op rekord dat (hy gesê het) die reg sy gang moet gaan. En dit sal ’n onreg wees teenoor ons model van grondwetlike demokrasie en oppergesag van die reg as Zuma kwytskelding kry.

“Ek dink dus sy lang verwagte dag in die hof gaan beslis aanbreek. En kyk jy na die sake teen hom, kan hy wel moontlik in die tronk eindig.

“Vanuit ’n grondwetlik-demokratiese oogpunt is dit ook reg dat hy verantwoording moet doen vir die skade wat hy die Suid-Afrikaanse staat en samelewing berokken het.”

Volgens prof. William Gumede van Wits se skool van regeringsake kan slegs immuniteit teen vervolging weens die 783 klagte van korrupsie, bedrog en rampokkery teen hom Zuma uit die tronk hou (dié hou nog verband met die wapenooreenkoms en betalings wat Schabir Shaik aan hom gemaak het).

Foto: Twitter (@william_gumede)

Sulke immuniteit val egter nie binne Ramaphosa of die ANC se magte nie en word ook nie tans deur die Suid-Afrikaanse reg toegelaat nie.

’n Presidensiële kwytskelding is wel moontlik, maar eers ná ’n skuldigbevinding. Zuma sal dus eers die korrupsiesake teen hom in die hof moet beveg, en as hy dan skuldig bevind word, Ramaphosa (as president) sover moes kry om hom kwytskelding te verleen.

Sondagkoerante het onlangs bespiegel dat ’n moontlike ooreenkoms met die staat in die Zexit-onderhandelings geopper is – dat Zuma in ’n staatskapingsaak teen onder andere die Guptas kon draai om hom vervolging te help vermy of hom van ’n heelwat ligter vonnis te verseker.

Dit sou egter kon beteken dat hy ook sou moes getuig teen ander mense baie na aan hom, soos sy seun Duduzane.

Volgens James Grant, professor in strafreg aan Wits, lyk Zuma se opsies om vervolging vry te spring taamlik beperk.
James Grant. Foto: Twitter (@JamesGrantZA)
  • Hy kan ingevolge wetgewing om immuniteit as staatsgetuie aansoek doen. Die haakplek hier is egter dat so ’n getuie nie self die hooffiguur in die saak behoort te wees nie, maar eerder ’n voetsoldaat. In ’n dwelmsaak sal die betrokke wetsmeganisme dus byvoorbeeld vra dat ’n straathandelaar se getuienis (in ruil vir immuniteit) ’n dwelmbaas moet help vastrek, nie omgekeerd nie. Anders gestel, dit sal nie sin maak om die groot vis te laat wegkom om klein vissies te vang nie.
  • Sulke immuniteit kan ook net deur die nasionale vervolgingsgesag (NVG) toegestaan word, nie deur ’n president of aangewese president nie.
  • Die toestaan van immuniteit kan op grond van die Grondwet teengestaan word. Dit moet rasioneel wees en ’n legitieme doel dien.

James meen niks hiervan blyk Zuma regtig ’n uitweg te bied nie . . . sy enigste opsie is om soos enigeen in sy posisie tereg te staan.

Sal hy vorentoe steeds belastingbetalers melk?

In ruil vir sy bedanking sou hy “kon verwag om met die normale vergoedingspakket en voordele van ’n staatspresident uit te tree,” beduie André.

Kyk jy na bloot sy eie pensioen, kan dit belastingbetalers in die, sê maar, volgende anderhalf dekade meer as R40 miloen uit die saak jaag. Dit nou vir iemand wie se wanbestuur die land derbiljoene gekos het . . .

Ná sy heengaan uit dié wêreld sal sy vier weduwees boonop steeds op die helfte van sy pensioen kan aanspraak maak, het Rapport berig.

Zuma het glo boonop die volwaardige sekuriteitsdienste (talle lyfwagte en die meegaande motors en salarisse) wat die Zumas tydens sy ampstermyn geniet het, ook vir ná sy aftrede geëis terwyl sulke sekuriteit beduidend vir sy voorgangers afgeskaal is.

Zuma sou ook nou oor sy regskoste onderhandel het. Die ANC sou stellig nie namens die staat kon onderneem om sy regskoste te betaal nie, maar wel om dit as party te doen.

Dié kan egter ’n reusebedrag word – bloot op grond van daardie 783 korrupsieklagte teen hom en sy regsverteenwoordiging tydens die komende regterlike kommissie van ondersoek na staatskaping. En daar kan heel moontlik nog ander regsgedinge teen hom kom.

Die DA het byvoorbeeld uitgewerk sy Nkandla-regskoste en pogings om die korrupsieklagte teen hom te keer het die staat al sowat R6 miljoen laat opdok.

Die veelbesproke Nkandla. Foto: Gallo Images/Getty Images

Mmusi Maimane, DA-leier, meen Zuma kan op geen staatshulp met regskoste, beskerming teen vervolging of spesiale sekuriteitsdienste ná uittrede aanspraak maak nie.

“Geen plek is so veilig soos ’n maksimumsekuriteitgevangenis nie. Ons sal voortgaan met die 783 klagte van korrupsie wat byna ’n dekade gelede foutiewelik deur die NVG onttrek is.”

 
Mylpale op pad na sy ondergang

1. Vroeg reeds omstrede

In 2007 het dié politieke straatvegter ondanks ’n reeds onheilspellende klankie van korrupsie en oneerlikheid by die ANC-verkiesingskonferensie in Polokwane as partyleier uit die stryd getree.

Hy en sy bondgenote het hom voorgehou as ’n slagoffer van ’n sameswering gelei deur die destydse pres. Thabo Mbeki, wat toe daar in Polokwane en in die jaar daarna erg deur sy eie party verneder is.

Tydens die uitspraak in die korrupsieverhoor van Schabir Shaik is Zuma se vatbaarheid vir manipulasie en korrupsie, sy swak vir geld en sy onvermoë om daarmee te werk en vir sy baie kinders te sorg reeds blootgelê.

Schabir Shaik verlaat die Durbanse hooggeregshof nadat hy skuldig bevind is aan drie klagte van bedrog en korrupsie, 8 Junie 2005. Foto: Gallo Images/Getty Images

Regter Chris Nicholson het in September 2008 die NVG se korrupsieklagtes teen Zuma rakende sy verhouding met Shaik verwerp op grond van vermeende politieke inmengery in die vervolgingsproses.

Nicholson se beslissing is begin 2009 op appèl omgekeer. Maar dit was toe reeds te laat: Net weke ná die Nicholson-uitspraak is Mbeki deur die ANC as staatspresident herroep.

2. Vervreem alliansie, bondgenote

Die voormalige Cosatu-leier Zwelinzima Vavi het spoedig van Zuma weggebreek.

“Ons stuur af op  ’n roofstaat waar ’n magtige, korrupte elite van politieke hiënas toenemend die staat misbruik om ryk te word,” het hy in 2010 gesê.

Julius Malema se verhouding met Zuma het ook verbrokkel.

Jacob Zuma en Julius Malema tydens die ANC-jeugliga se 66ste verjaardagviering. Foto: Gallo Images/Getty Images

In Februarie 2012 is hy as ANC-jeugleier uitgeskop. Hy sou later die leier van die EFF word. Zuma het hom daarop toegespits om sy party te onderwerp.

3. Nkandla

In 2014 het die destydse openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, in haar Nkandla-verslag bevind dat Zuma onregmatige voordeel getrek het uit miljoene rande se verbeterings aan sy KZN-woonkompleks.

Adv. Thuli Madonsela. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy het aanbeveel dat hy ’n deel daarvan terugbetaal.

Tog het hy hom deurgaans onskuldig gehou.

In 2016 het die konstitusionele hof egter bevind Zuma het die Grondwet geminag deur Madonsela se aanbevelings – dat hy die geld terugbetaal – te ignoreer. 

4. Kaping van sleutelinstellings

Zuma het spoedig die staat se veiligheidsgroepering (die staatsveiligheidsagentskap, die polisie, Valke, en NVG) en mettertyd ook staatsondernemings soos die SAL en Eskom en belangrike finansiële staatsinstellings gevul met lojaliste en meelopers wat hom sou help beskerm en bevoordeel.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is byvoorbeeld ook eindelik “ge-Zumafiseer”. Want dalk juis danksy hul bekwaamheid het die SAID aanvanklik probleme veroorsaak vir baie van Zuma se familie, vriende en begunstigdes.

Einde 2014 het Zuma sy vertroueling Tom Moyane as SAID-kommissaris aangestel. Daarna sou die SAID tientalle senior amptenare verloor.

5. Staatskapingverslag

Sy bewind is gekenmerk deur ’n begunstigingsnetwerk van familie, vriende en sakevennote wat wyd in die staatsmasjinerie ingegrawe was.

Tot watter mate, het in 2016 uit Madonsela se staatskapingsverslag geblyk. Mmusi Maimane, DA-leier, het haar gevra om aantygings oor staatskaping te ondersoek nadat Mcebisi Jonas, die nou voormalige adjunkminister van finansies, en Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, beweer het die Guptas het hulle kabinetsposte aangebied.

Vytjie Mentor. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Belangrike uitvloeisel van dié verslag is die komende ondersoek deur ’n regterlike kommissie na ondere andere die Guptas, jare lank goeie vriende met die Zumas (veral Jacob se seun Duduzane), se beweerde onbehoorlike invloed oor die staat en regeringsake.

Staatskontrakte is byvoorbeeld telkens aan entiteite met Gupta-bande toegeken.

6. Nenegate

JZ se bewind is gekenmerk deur kabinetskommelings sodra hy ’n bedreiging vir sy invloed en magsvergrype bespeur.

So het hy byvoorbeeld in Desember 2015 die land in ’n oogwink biljoene in ’n aandelemarkbloedbad laat verloor toe hy skielik ’n knap finansiesminister, Nhlanhla Nene, afdank en hom vervang met die plooibare Des van Rooyen.

Van Rooyen het dadelik met twee “adviseurs” met regstreekse Gupta-bande by die tesourie uitgeslaan.

Des "Weekend Special" van Rooyen is op 10 Deember 2015 ingesweer as die minister van finansies. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die daaropvolgende woede en finansiële slagting het Zuma genoodsaak om Van Rooyen (nou in die volksmond bekend as “Weekend Special” omdat sy termyn van sulke korte duur was) weer tjop-tjop met Pravin Gordhan, die internasionaal gerekende voormalige minister van finansies, te vervang.

7. Totsiens, Gordhan en Jonas

Gordhan het hom glad nie wat staatsbesteding betref laat voorskryf deur gierige politici wat ook die tesourie, as laaste bastion teen wanbesteding, korrupsie en staatskaping, wou oorneem nie.

Ná ’n lang koue oorlog het Zuma verlede jaar vir Gordhan gepos, nog ’n roekelose skuif wat beleggersvertroue in die land kwaai geknou, die rand laat verswak en tot kredietafgraderings bygedra het.

Pravin Gordhan is in Maart 2017 deur pres. Jacob Zuma beveel om afsprake met beleggers in die VK te staak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Boonop het hy van Mcebisi Jonas ontslae geraak, die adjunkfinansiesminister wat vertel het hoe die Guptas hom in Duduzane se teenwoordigheid beloof het hulle sou hom skatryk maak as hy Nene se pos oorneem en die “Saxonwold-sjebien” se eie finansiesminister word.

8. Rampspoedige 2016-verkiesing

Onder Zuma het die regerende party groot steun verloor.

So is hulle byvoorbeeld SA se finansiële en administratiewe hoofstede, Johannesburg en Pretoria, asook Nelson Mandelabaai in die 2016-munisipale verkiesing kwyt.

Hul algehele populêre steun het toe vanaf sowat 62% – in sowel 2014 se algemene as 2011 se munisipale verkiesing – tot 53,9% gekrimp.

9. GuptaLeaks

Die Guptaleaks verwys na skokonthullings in ’n stroom e-posse wat fluitjieblasers laat uitlek het – onder meer inkriminerende gesprekke en korrespondensie tussen staatsamptenare en die omstrede Gupta-familie en hul werknemers.

Ajay en Atul Gupta met Duduzane Zuma (toe direkteur van Sahara) in Midrand, 4 Maart 2011. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit het byvoorbeeld onthul hoe die Guptas talle mense in die Zuma-kamp glo met geskenke en beloftes omgekoop het.

Vir Zuma het hulle na bewering selfs ’n paleisagtige huis in Doebai gekoop.

Sy verhouding met die Gupta-familie het reeds in 2013 ’n opskudding veroorsaak toe hul private huurvliegtuig op die Waterkloof-lugmagbasis geland het met sowat 200 gaste vir ’n glansryke familietroue by Sun City.

JZ het na bewering self daarvoor goedkeuring gegee.

10. Eskom: kanaal vir Zupta-verryking

Die voormalige Eskom-raadsvoorsitter Zola Tsotsi het Zuma die afgelope November regstreeks aan die ineenstorting by die kragvoorsiener gekoppel.

Tsotsi het tydens ’n ondersoek na staatskaping in Eskom getuig Zuma het saam met Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, en sy Gupta-vriende sake by Eskom van buite af beïnvloed.

Lynne Brown en Lalit Modi by die opening van die One & Only-hotel in Kaapstad se opening, 2009. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tsotsi het vertel die voormalige SAL-voorsitter Dudu Myeni, ’n innige Zuma-vriendin, het hom na bewering genader om hom by die president se Durbanse huis te ontmoet.

Daar is die skorsing van vier Eskom-raadslede in 2014 bespreek, wat eindelik sou plek maak vir Brian Molefe en Anoj Singh om onderskeidelik Eskom se uitvoerende en finansiële hoof te word.

Albei is voorheen betrek by saketransaksies met Gupta-ondernemings en was na bewering veronderstel om geld na Gupta-sakke te help vloei.

EKSTRA BRONNE: ENEMY OF THE PEOPLE DEUR ADRIAAN BASSON EN PIETER DU TOIT, SAHISTORY.ORG, NEWS24.COM, JAMESGRANT.CO.ZA, HUFFINGTON POST, AL JAZEERA, QUARTZ MEDIA, TIMESLIVE.CO.ZA