Sy is nog lief vir hom – al het hy hom uit die voete gemaak, landuit gevlug en spoorloos verdwyn toe sy swanger was. Tog sal sy sorg dat haar geliefde tweeling nooit weet wie hul pa is nie . . .

Dit is nou meer as ses jaar sedert die man met die gladde mond en warm glimlag haar voete onder haar uitgeslaan het. Sy was dadelik smoorverlief, vertel Patricia*.

Ja, daar was tye dat sy hul verhouding wou beëindig, maar sy is elke keer terug na hom toe, al het haar eie familie nie van hom gehou nie en haar teen hom gewaarsku.

Sy het by hom gebly selfs toe sy tot haar skok ontdek hy steek sy ware identiteit vir haar weg – en dat hy aangekla word van die moord op sy eks.

Die man wat sy as Gerhard Henning leer ken het, was in werklikheid Gerhard Jansen van Vuuren (toe 32). Patricia het hom ontmoet toe hy op borgtog was nadat hy van die wrede moord op sy vorige meisie, Andrea Venter (25), aangekla is.  

Andrea Venter, wat in 2011 op die ouderdom van 25 na bewering buite haar woonstel deur haar ekskêrel Gerhard Jansen van Vuuren vermoor is. Foto: Papi Morake

Gerhard, ’n rekenaarprogrammeerder, het Andrea, ’n rekenmeester, na bewering op 2 Mei 2011 buite haar woonstel in Fourways, Johannesburg, met ’n vuisyster in die gesig geslaan en 14 keer met ’n knipmes gesteek.

Dit was glo nadat hy tot 30 ouditeursfirmas gebel het om uit te vind waar sy eks werk en hoe hy haar kan opspoor. Hy het homself na bewering daardie dag langs haar lyk probeer keelaf sny, maar het oorleef en in die hof verskyn op aanklag van haar moord.

Kort nadat hy in 2012 borgtog toegestaan is, het hy en Patricia mekaar ontmoet. Hulle was nog net ’n paar maande saam toe sy uitvind hy word van die moord op sy eks aangekla.

Toe Patricia hom daaroor konfronteer, het hy haar gevra om hom te sien as die man wat sy leer ken het en nie as die man oor wie die bewerings gemaak word nie.

Sy het toe besluit om hom tydens sy moordverhoor te ondersteun. “Mense het my verhouding met Gerhard altyd in my gesig gegooi. Hoe kan ek verlief wees op ’n moordenaar, het mense my aanhoudend gevra,” sê Patricia vandag op die stoep van haar woonplek in Gauteng.

“Maar ek was lief vir hom. Ek is steeds lief vir hom. Ek het lief geraak vir hom en nie vir sy verlede nie.”

Gerhard is nooit verhoor nie, want hy het landuit gevlug dae voor sy moordverhoor in 2013 sou begin. Dit was net twee maande voor die geboorte van sy tweeling, en Patricia is alleen agtergelaat om vir hul kinders te sorg.

Vandag, vyf jaar later, weet hulle steeds nie wie hul pa is nie. Ook nie dat hy ’n voortvlugtige moordverdagte is nie.

Of dat hy drie jaar in ’n Brasiliaanse tronk aangehou is nadat hy in 2013 in dié land met ’n vals paspoort betrap is nie. Die oulike bolwangkleuters weet ook nie hul pa is in 2016 uit die Brasiliaanse tronk vrygelaat nadat hy sy vonnis vir sy misdaad in dié land uitgedien en toe weer spoorloos verdwyn het nie.

“My kinders vra kort-kort waar hul pappa is. Al wat ek dan vir hulle sê, is dat hy ver oor die see bly en werk,” sê Patricia.

Maar die waarheid is niemand, nie eens Patricia, weet waar Gerhard (nou 37) is nie, want hy word beskou as ’n voortvlugtige van die gereg en is op Interpol se lys van gesoekte misdadigers.

Patricia vertel sy het geen kontak met Gerhard sedert hy uit Suid-Afrika gevlug het nie. Die wete dat hy op vrye voet is, maak haar ook nie bang nie. “Ek dink nie hy sal terugkeer nie,” vertel sy.

Sy wil nie haar regte naam of kinders se name of geslag bekendmaak nie omdat sy hulle wil beskerm. Maar sy benadruk Gerhard sal nooit in haar of hul kinders se lewe wees nie – hy het sy kinders verloor die dag toe hy gevlug het.

“Hy sal nooit die voorreg hê om sy kinders te sien grootword nie.”

Dit was in Maart 2012 toe Patricia eendag ’n Facebook-vriendversoek van ene Gerhard Henning kry. Sy het sy profielfoto dadelik herken: Hy was die “ordentlike” en netjies geklede man met wie sy kort tevore in ’n kuierplek gesels het.

“Hy het gesê hy wil my beter leer ken,” sê Patricia. Hulle het op Facebook begin gesels en in Junie 2012 op hul eerste afspraak gegaan.

“Gerhard is baie slim en voer met gemak intellektuele gesprekke. Hy praat lekker en het interessante stories om te vertel. Hy het ook ’n goeie algemene kennis,” vertel Patricia oor hoe hy haar oorrompel het.

“Ons het mekaar dadelik gevind. Van daardie dag af was ons onafskeidbaar,” sê sy.

Patricia se familie was nie gaande oor haar nuwe kêrel nie. Haar ouma het sommer prontuit gesê sy hou niks van dié man met sy kort hare nie.

“Nadat my ouma hom ontmoet het, het sy gesê hierdie man lieg oor iets. Hy steek iets weg.”

Maar Patricia het haar nie aan haar ouma of ander familielede se waarskuwings gesteur nie. Sy was mal oor Gerhard, en vir haar was dit al wat saak gemaak het.

Een aand het sy haar kêrel in haar ouerhuis oor die litteken aan sy nek uitgevra. “Hy het my hartverskeurend vertel hy was die vorige jaar, in 2011, in ’n motorongeluk. Hy het gesê die liefde van sy lewe is in daardie ongeluk dood. Dit was ook waar hy die merk aan sy nek gekry het,” sê Patricia.

“Ek kon die hartseer in sy oë sien. Ek wou nie verder daaroor uitvra nie.”

Hulle was net drie maande saam toe sy uitvind Gerhard is nie wie hy voorgee om te wees nie. Sy vertel Gerhard het daardie dag iets in ’n ysterwarewinkel gaan soek, en sy het in die motor gewag.

“Iets in my het vir my gesê ek moet in die motor rondsoek. In die konsole tussen die twee sitplekke het ek op sy identiteitsdokument afgekom. Ek sien toe hy het ’n ander van . . .”

Sy het die dokument terug in die konsole gesit en niks daaroor gesê nie. Toe hulle later by Gerhard se huis kom, het sy verskoning gemaak en huis toe gegaan.

By die huis het sy op die internet haar kêrel se regte naam gaan opsoek.

Sy het onmiddellik op ’n berig oor Andrea se moordsaak afgekom – en gelees háár Gerhard is die moordbeskuldigde en die merk aan sy keel is na bewering veroorsaak toe hy homself ná die moord twee keer probeer keelaf sny het . . .

“Toe ek besef wie hy is, het ek dadelik koud geword en begin huil,” onthou sy met ’n rilling.

Gerhard (regs) en sy regsverteenwoordiger, SW van der Merwe, voor die hooggeregshof in Palm Ridge voor hy in 2013 uit die land gevlug het. Foto: Gallo Images/Foto24/Bogiwe Gumede

Toe Gehard haar daardie aand bel, het sy nie sy oproepe beantwoord nie. “Ja, ek was bang, maar nie vir hom nie. Ek was bang omdat ek van Andrea geweet het.”

Drie weke lank het sy en Gerhard geen kontak gehad nie, maar toe hy op ’n dag die soveelste keer bel, het sy tou opgegooi en geantwoord.

“Ek het vir hom gesê ek weet alles. Toe sê hy: ‘Nee, jy weet net wat jy gelees het; jy weet nie alles nie.’ ”

Hulle het daarna nooit weer oor die gebeure op die dag van Andrea se dood gepraat nie. Patricia het besluit om Gerhard nog ’n kans te gee.

Sy is saam met hom na die landdroshof in Palm Ridge, Johannesburg, vir ’n voorverhoorverskyning net drie weke nadat sy besef het wie hy is.

“My familie het heeltyd gevra hoe ek met ’n moordenaar kan uitgaan. Mense het vir my bly sê ek gaan volgende wees. Almal het gesê daar is iets fout met my omdat ek by hom betrokke is,” vertel Patricia.

“Maar ek het regtig ’n goeie kant van Gerhard gesien. Hy het my nooit gevloek, gedreig of seergemaak nie. Hy het nie gedrink of dwelms gebruik nie. Hy was die man op wie ek verlief geraak het.”

“Almal om my het gedink ek gaan vir al die afvlerkmans. Dalk was dit so. Maar ek het nooit gedink ek kon hom anders maak as wie hy is nie.”

Eendag het Patricia en Gerhard se ma, Thea, begin gesels oor Gerhard en Andrea se aan-af-verhouding van sewe jaar.

In dié tyd het Andrea in ’n stadium ’n interdik teen haar kêrel gekry, maar dit was nie die einde van hul pad saam nie.

“Sy het vertel Gerhard en Andrea se verhouding was gedurig aan en af en dat sy vir hulle gesê het hulle moet mekaar eerder uitlos.”

“Sy het vertel van die dag dat Andrea die interdik teen Gerhard gekry het. Daardie selfde dag het Gerhard en Andrea weer ’n vriendskap begin. Andrea het ook op daardie dag vir Thea gebel en haar gevra om nie vir hulle kwaad te wees nie. Thea het vir Andrea gesê sy wil niks meer van hul verhouding weet nie en het maande nie met Gerhard of Andrea gepraat nie.”

Die voortvlugtige Gerhard het nog nooit sy tweeling gesien nie. Foto: Verskaf

Dan voeg Patricia by: “Thea het gesê Gerhard en Andrea het nog twee weke voor haar moord tyd saam deurgebring.”

Sy skud haar kop. “Al wat ek van Andrea geweet het, is wat Gerhard my vertel het . . . dat hy die liefde van sy lewe verloor het. Hy het nooit een slegte woord oor haar gesê nie.”

In November 2012 het Patricia besef sy is swanger, maar teen daardie tyd het sy hul verhouding reeds beëindig. Gerhard was dadelik soos ’n oorbeskermende pa.

Hy het vir haar gesê sy moet ophou rook en was daar om haar hand vas te hou toe sy vir die eerste sonar gaan, al was hulle nie toe meer in ’n verhouding nie.

Met dié sonar het hulle gesien daar is twee hartkloppies. Ná die sonar het hulle besluit om weer aan hul verhouding te werk. Maar gou het die krake opnuut begin wys.

“Dinge het woes begin geraak. Dit was ’n spanningsvolle tyd so met die hofsaak wat kom en die swangerskap. Dan was daar nog die wete dat Gerhard vir ’n tydperk kon tronk toe gaan.”

“Alles het net te veel geraak. Hoe nader die hofsaak gekom het, hoe meer het ons van mekaar begin wegdwaal.”

Die breekpunt het gekom toe hy haar eendag tydens ’n uitval met haar klere begin gooi omdat hy haar met ’n sigaret betrap het.

Patricia het haar pa gebel om haar te kom haal en by ’n nabygeleë winkelsentrum vir hom gaan wag. Gerhard het haar op haar selfoon gebel en wou weet waar sy is.

Sy het gesê sy loop in die sentrum rond om stoom af te blaas. Maar die volgende oomblik loop sy hom in ’n klerewinkel raak – hy het haar heeltyd in die sentrum agtervolg.

“Hy het saggies vir my gesê: ‘Ek kan ruik jy het weer gerook.’ Toe kon ek net nie meer nie. Ek het vir hom gesê ons is klaar.”

Maar Gerhard het aangehou om haar te bel. Hoewel hulle nie meer amptelik in ’n verhouding was nie, het hulle gereeld saam gefliek of gaan uiteet om oor hul ongebore tweeling te praat.

Een Dinsdagaand het Gerhard Patricia gebel en gevra om hom by ’n restaurant te ontmoet. “Ek het hom reguit gevra of hy beplan om te vlug. Hy het my in die oë gekyk en gesê: ‘Nee, hoe kan ek vlug?’ ”

‘Ek het hom gevra of hy beplan om te vlug. Hy’t gesê: “Nee, hoe kan ek vlug?” ’

Wat Patricia nie daardie aand geweet het nie, was dat Gerhard reeds ’n vervalste paspoort en immuniseringsertifikaat gehad het.

“Gerhard se gesprekke was daardie aand anders as tevore. Hy het gepraat asof hy tronk toe gaan of ’n lang tydperk nie deel van enigiemand se lewe gaan wees nie.”

Hy het vir haar ’n koevert gegee. Toe sy dit oopmaak, was daar R20 000 in. “Ek weet dis nie veel nie, maar gebruik dit vir die tweeling,” het hy gesê.

Ná die ete het Gerhard saam met haar na haar motor gestap en haar gegroet. Sy het dit nie toe geweet nie, maar sy sou hom nooit weer sien nie.

Die volgende Maandag moes Gerhard weer in die landdroshof verskyn. Sy onthou die datum nog goed: 20 Mei 2013. Deur die loop van daardie dag het Patricia se selfoon gelui.

‘Hy het gesê hy is landuit en ek moet mooi na ons kinders kyk’

Dit was Gerhard se ma. Saggies het sy gesê: “Hy is weg.”

Dieselfde dag het die polisie by Patricia se huis opgedaag. Hulle het haar ondervra oor waar Gerhard hom bevind. Al wat sy kon sê, is sy weet nie waarheen hy sou vlug nie.

Die polisie was skaars by die hek uit, toe lui haar foon. Die oproep was van ’n privaat nommer. Toe sy antwoord, was dit Gerhard.

“Hy het net gesê hy is landuit. Hy het gesê ek moet mooi na ons kinders kyk. Hy het nie verder verduidelik nie . . .” Sy het nooit weer van hom gehoor nie.

Twee maande nadat Gerhard gevlug het, in Junie 2013, is hul tweeling ’n paar weke te vroeg gebore.

Die tweeling was nog in die hospitaal se hoësorgeenheid toe Patricia by Gerhard se ma hoor hy is in Brasilië vasgetrek.

Hy is tot vier jaar en vier maande tronkstraf gevonnis weens die besit van ’n vervalste paspoort.

“Ek was so ontsteld. Ek het nie meer kans gesien vir die drama nie. Ek wou net hê alles moet verdwyn,” sê Patricia.

Sy vertel Gerhard se ouers het haar in die maande en jare ná die tweeling se koms gehelp waar hulle kon.

Die twee in Andrea se kamer, wat nog dieselfde gelyk het as toe sy gelewe het. Annetjie is intussen oorlede. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ja, dit was met tye baie moeilik. Veral die eerste twee jaar was regtig rof. Daar was byvoorbeeld tye dat ek met twee siek babatjies alleen in die hospitaal gesit het,” sê sy.

Maar hoewel sy ’n enkelouer is, het sy ’n steunnetwerk, wat haar eie familie insluit, en hou sy kop.

In 2016 het Patricia gehoor Gerhard is in Brasilië uit die tronk vrygelaat eerder as om na Suid-Afrika gestuur te word vir sy moordverhoor.

Maar selfs toe het hy nie van hom laat hoor nie. Sy sê Gerhard sal nooit ’n verhouding met sy twee kinders kan hê nie. Sy wil nie hê hulle moet ooit uitvind hy is ’n vermeende moordenaar nie, en sy maak hulle alleen groot.

“Ek wil nooit hê mense moet hulle veroordeel oor wat hul pa gedoen het nie. Hulle het die reg om hul eie lewe te lei, en mense moet hulle ken vir die oulike en goeie kinders wat hulle is. Hulle is twee wonderlike kinders.”

’n Portret van die vermoorde Andrea het in haar ouers, Dries en Annetjie, se huis gestaan om hulle te laat voel sy is by hulle. Foto: Lubabalo Lesolle

Ja, erken sy: “Soms sien ek Gerhard in hulle.” Maar dan voeg sy by: “Ter wille van my kinders bid en hoop ek dat hulle in vrede met hul lewe kan aangaan.”

Patricia skud haar kop en probeer moedig glimlag.

“Ná die swangerskap en alles wat gebeur het, was dinge tog beter nadat hy na ’n ander land gevlug het. Ek weet diep in my hart hy sal nooit terugkom nie,” sê sy.

“Ek is nie kwaad vir Gerhard omdat hy my met ’n tweeling agtergelaat het nie. Ek kry hom eintlik jammer. Hy wou graag kinders van sy eie hê, maar gaan nooit sy kinders leer ken nie.” 

* Patricia gebruik ’n skuilnaam om die identiteit van haar kinders te beskerm.