Dekades lank het Charles Manson mense met afgryse vervul. Hoe kon iemand ander so in sy mag kry dat hulle namens hom moor? Dié vraag klink opnuut op nadat die sosiopaat onlangs op 83 dood is terwyl hy ’n lewenslange vonnis uitgedien het.

Uit dié uittreksel uit ’n voorste biografie oor hom blyk dit dit was grotendeels te wyte aan ’n Dale Carnegie-selfhelpboek wat Manson in sy 20’s teëgekom het terwyl hy vir diefstal agter tralies was.

Motordiefstal en selfbeheersing

In Julie 1955 steel Manson ’n motor in Bridgeport, Ohio, en hy en sy vrou, Rosalie, ry Los Angeles toe daarmee. Daar woon hulle vermoedelik in by sy ma, Kathleen, terwyl hy om den brode los werkies doen.

Manson en Rosalie Jean Willis is in 1955 getroud.

Los Angeles verdwerg enige ander plek waar hy al was; hy ry met die gesteelde motor in die stad rond asof dit wettig syne is. Hy bel ’n vriend in Ohio en spog dis die beste tyd van sy lewe. Maar in September gaan ’n flink polisiebeampte die motor se vals nommerplaat na, vind uit dis gesteel en neem Manson in hegtenis.

In die federale hof beken hy skuld aan diefstal en word tot ’n proeftyd van vyf jaar gevonnis.

Maar hy moet nog verhoor word vir ’n ander motordiefstal waarop hy ook skuld beken het en in Februarie 1956 weer in die hof in Los Angeles verskyn.

Al is daar weinig kans dat hy tronkstraf sal kry, raak Manson paniekerig.

Hy en Rosalie vlug na Indianapolis. Dit is vir hom ’n bekende plek en hy dink hy kan daar wegkruip.

Op 10 Maart skenk sy die lewe aan ’n seun, Charles Manson jr. As Manson enige vreugde daaruit put, is dit van korte duur – ’n paar dae later haal die lang arm van die gereg hom in.

Op 21 is hy te oud vir verbeteringskool en word hy gevonnis tot drie jaar tronkstraf in die Terminal Island-strafgevangenis in San Pedro, Los Angeles-hawe. Die berader wat hom met sy oriëntering daar beoordeel, voorspel Manson sal dissiplineprobleme veroorsaak, want hy sukkel met selfbeheersing.

Die eerste keer dat hy as volwassene in die gevangenis was, moes hy sy vonnis uitdien in die korrektiewe sentrum Terminal Island in Los Angeles.

Manson is gewoond aan verbeteringskole, waar die oudste gevangenes nog tieners is. Onder die gevangenes op Terminal Island is deurtrapte bedrieërs wat al die ander oorheers.

In sy eerste maande daar is hy ’n stille waarnemer en hang hy aan die lippe van koppelaars wat hom alles oor hul bedryf vertel. Hulle spog by Manson hoe hulle jong vroue werf en na hul wense vorm.

Jy moet weet hoe om net die regte meisies te kies, leer Manson, dié met selfbeeld- of pappaprobleme wat sal swig wanneer ’n gladdebek by hulle aanlê. Eers sonder jy hulle van hul familie en vriende af. Dan kry jy hulle onder jou duim met ’n oordeelkundige mengsel van lieftallige gebare en net genoeg slae om hulle te herinner wie die baas is.

Manson hunker daarna om iemand se baas te wees; hy luister en leer.

Sy eerste maande op Terminal Island word opgehelder deur Rosalie en Charlie jr. se weeklikse besoeke. Manson het skynbaar die potensiaal om ’n modelgevangene te word. Volgens een verslag het sy werkprestasie verbeter toe sy eerste paroolverhoor ál nader kom, ’n bewys dat hy selfbeheersing kan toepas as hy wil.

Alle tekens dui op ’n vroeë vrylating, dalk selfs nadat hy net ’n jaar of wat van sy vonnis van drie jaar uitgedien het.

Van 'modelgevangene' tot manipuleerder

Toe, skielik, hou Rosalie se besoeke op. Manson, wat gedink het hy verstaan vroue so goed, word onkant betrap toe hy uitvind sy het die stad saam met ’n nuwe liefde verlaat en Charlie jr. saamgeneem. Skeidokumente word daarna op hom beteken; sy huwelik is verby.

Kort voor Rosalie hom verlaat het, is hy oorgeplaas na Terminal Island se minimumsekuriteitselle in ’n afsonderlike tronkgebou. Dit was ’n duidelike teken dat hy kort ná sy paroolverhoor op 22 April 1957 vrygelaat sou word.

Maar, verstom omdat Rosalie hom gelos het, verloor Manson sy geduld en selfbeheersing.

Op 10 April word hy met gewone klere aan in die tronk se parkeerterrein betrap terwyl hy ’n motor met ontstekingsdraad aan die gang probeer kry. Twaalf dae later word hy parool geweier en ’n proeftydperk word by sy oorspronklike vonnis van drie jaar gevoeg.

Die tronkbewaarders laat nie die hoop vir Manson vaar nie. Met sy aankoms by die gevangenis het hy 121 in ’n IK-toets behaal. Dit plaas hom op die “hoë normaal”- spektrum.

Sy ondergemiddelde leesvaardighede en primitiewe, krabbelrige handskrif dui op ’n gebrek aan opvoedkundige geleenthede, nie vermoë nie. By Terminal Island kan gevangenes vir ’n hoërskooldiploma studeer, motorherstel- of masjienwerkwinkelvaardighede aanleer of selfs leer hoe om om werk aansoek te doen.

Manson (steeds net 22) wys al die geleenthede buiten een van die hand.

Tot in hierdie stadium van sy lewe as gevangene was koppelaars sy nieamptelike leermeesters en het hy gretig alles ingedrink wat hulle hom geleer het. Maar nou vind hy aanklank by iemand wie se wysheid sy toekomstige optrede sou rig – ’n man wat Manson se persoonlike ghoeroe sou word, al het hulle mekaar nooit ontmoet nie.

Teen 1936 was die selfhelpboek How to Win Friends and Influence People ’n blitsverkoper (5 miljoen eksemplare) en die skrywer daarvan, Dale Carnegie, een van die beroemdste mense in Amerika.

Die Carnegie-kursus is een van Terminal Island se gewildste programme vir gevangenes, met ’n waglys vir dié wat wil inskryf. Die klas word tot ongeveer 30 beperk.

As ’n taamlik nuwe gevangene en een met ’n ontsnappingspoging agter sy naam, is Manson laag op die ranglys van aansoekers. Maar tronkbewaarders glo Carnegie se positiewe lewensuitkyk is dalk net wat die buierige, wisselvallige Manson nodig het.

Hy kry voorkeur bo die ander om vir die kursus in te skryf. So te sê elke woord in die kursusmateriaal vind by Manson byval. Vir die eerste keer in sy lewe word hy as ’n uitmuntende leerder beskou.

Die eerste blaaie van How to Win Friends kodifiseer blykbaar al die instinktiewe maniere waarop Manson mense al van kleins af manipuleer. Dis asof Carnegie Manson se gedagtes kan lees.

“Alles wat ek of jy doen, spruit uit twee beweegredes: die seksdrang en die begeerte om wonderlik te wees.

“Al manier om die ander ou te beïnvloed, is om te praat oor wat hy wil hê en hom te wys hoe om dit te kry.

“Laat die ander mens belangrik voel.

“Jy moet vertoonkuns gebruik. Die rolprente doen dit. Die radio doen dit. En jy sal dit moet doen as jy wil aandag hê . . . Dramatiseer jou idees.”

Hoofstuk sewe, oor hoe ’n mens samewerking kry, bevat raad wat Manson as die belangrikste hulpmiddel in sy manipulasie-arsenaal sou aanvaar:

“Laat die ander ou voel die idee is syne.”

Later, toe die polisie, regters en juries sou kopkrap oor hoe hy ander kon oortuig om sy misdadige voorskrifte uit te voer en soveel invloed op sy volgelinge sou hê dat hulle bereid was om vir hom moord te pleeg, sou hulle die antwoord in How to Win Friends and Influence People kon kry.

Langer as ’n halfeeu later sou Phil Kaufman, ’n kennis van Manson, onthou: “Dit was Charlie se groot truuk. Hy het besluit wat hy wou hê iemand moes doen en dan daaroor gepraat sodat die meisie of wie ook al gedink het dit was haar idee. Ek het hom dit die hele tyd sien doen. Dit was hoe hy sy mag oor (liggelowige) mense gekry het.”

Manson se instrukteurs is verbaas toe hul sterleerder opskop voor hy die program van vier maande voltooi het. Maar toe hy eers voel hy het alles geleer wat hy nodig het, was hy nie lus om langer in ’n klaskamer te sit nie.

Vryheid wink, maar dis van korte duur

In September 1958 word hy vrygelaat nadat hy twee jaar en vyf maande van sy oorspronklike vonnis van drie jaar uitgedien het.

Maar teen Junie 1961 is hy terug in die tronk – dié keer vir tjekbedrog. Hy word oorgeplaas na McNeil Island, ’n strafgevangenis in Washington. Hy is net 26, maar as sy tyd in verbeteringskole bygetel word, is hy reeds amper 14 jaar in die een of ander vorm van aanhouding of toesig. Tronk-evalueerders in McNeil bevind hy is ’n energieke mens wat jonk lyk en wie se verbalisering taamlik maklik vloei.

Manson het duidelik iets geleer uit die Carnegie-kursus op Terminal Island: “Hy beduie oordadig en kan situasies dramatiseer om die luisteraar te boei.”

Die kuns van valse opregtheid het hy nie heeltemal bemeester nie. In die verslag word opgemerk: “Hy steek sy eensaamheid, wrokkigheid en vyandigheid agter ’n skyn van oppervlakkige innemendheid weg.”

En ondanks sy stryd van ’n jaar om uit McNeil weg te bly, erken Manson hy is in ’n mate bly om daar te wees: “Hy sê instellings het sy leefwyse geword en hy ervaar ’n gevoel van veiligheid in instellings wat hy nie in die buitewêreld kry nie.”

Vir Manson beteken die tronk nie net veiligheid nie; dis ook ’n leerskool. Al skryf hy nie vir enige van die akademiese of werkopleidingskursusse in nie, sit hy sy opleiding voort.

Van die gevangenes in McNeil deel graag inligting oor uiteenlopende onderwerpe, soos swart en wit towerkuns en hipnotisme. ’n Groot broederskap wedergebore Christene is gretig om Manson nader te bring aan die Here, maar daarvan het hy al genoeg gehad.

Die groep wat eintlik sy aandag trek – nie soseer oor hul geestelike oortuigings nie, maar oor hoe hulle dit uitdruk – is die Sciëntoloë. Baie soos Carnegie in 1936 sy verkoopsfilosofie aan die publiek bekendgestel het met How to Win Friends and Influence People, gebruik die pulpskrywer L. Ron Hubbard sy blitsverkoper van 1950, Dianetics: The Modern Science of Mental Health, om sy tegniek van geestesgesondheid bekend te stel.

Sciëntologie

Carnegie fokus op hoe jy ander se beskouings kan verander; Hubbard leer jou hoe om jouself te verander. Hy staan “ouditering” voor: om traumatiese gebeure uit die verlede te konfronteer en agter jou te stel, jou van vrese en beperkings te bevry en te beweeg na ’n “helder” of theta-toestand, waar die verstand geestelike vryheid sonder negatiwiteit kan geniet.

Soos met Carnegie neem Manson die aspekte van Hubbard se lering aan wat hy kan gebruik om ander te manipuleer.

Hy sien hom steeds in die toekoms as ’n koppelaar, glad nie ’n spirituele raadgewer nie. Die meeste potensiële prostitute het ’n swak selfbeeld. Om vir sulke meisies te sê hulle hoef nie deur hul verlede verlam te word nie, dat hulle ’n onsterflike gees het wat tydelik in hul liggaam vasgekeer is, dat hulle wesenlik goed is en enigiets kan bereik – dit kan kragtige werwingstegnieke wees.

Intussen bied dit hom onmiddellike voordele om aan te kondig hy het hom tot Sciëntologie bekeer. Tronkbewaarders is altyd bly wanneer ’n gevangene ’n geloof aanneem wat ’n positiewe houding aanmoedig. En geloof gee die moontlikheid van parool ’n hupstoot.

In sy verslag van September 1961 staan: “Hy het blykbaar ’n sekere hoeveelheid insig in sy probleme ontwikkel deur sy bestudering van Sciëntologie. Manson toon vir die eerste keer in sy lewe vordering.”

Soms lyk dit wel of Manson vordering maak. Hy neem aan tronksport deel – sagtebal, basketbal, selfs kroukie. Hy sluit ook by die dramaklub vir gevangenes aan.

Al lees hy nie boeke nie, luister hy graag wanneer ander gevangenes praat oor wat hulle gelees het. Een van die gewildste romans onder die geletterde tronkvoëls is Robert Heinlein se Stranger in a Strange Land. Die temas van vervreemding, misleiding deur die staat en verlossing vir die verfoeides vind byval by die gevangenes.

Die verhaal van die fiktiewe Valentine Michael Smith, die seun van menslike ouers in ’n ruimtekolonie op Mars wat deur ruimtewesens grootgemaak is en as ’n pion van konkelende politici na die aarde teruggebring word, boei Manson. Die karakter word gefassineer deur geloof, stig sy eie godsdiens, ervaar groepseks, gebruik psigiese magte om vyande te laat verdwyn, sterf as ’n martelaar en keer in die vorm van ’n gees terug.

Soos hy met die Bybel, Carnegie en Sciëntologie gemaak het, sou Manson later elemente van Stranger in a Strange Land by ’n aanloklike hibridiese pseudofilosofie inweef.

Die smagting na roem

Maar die Beatles sou die leermeesters wees wat die grootste invloed op hom uitoefen. Die Britse musiekgroep se roem word so groot dat dit selfs sy sel by McNeil Island binnedring.

Hul liedjies speel pal oor die radio. Manson is geboei deur die musiek, maar selfs nog meer beïndruk deur die bewondering wat die Beatles kry. Hy het nog altyd na aandag gehunker; nou besluit hy roem is wat hy eintlik wil hê.

As die vier Beatles dit kan hê, hoekom nie hy ook nie? Hy sing immers ook en speel kitaar.

Terwyl hy weens tjekbedrog in die tronk was, het Manson leer kitaar speel omdat hy bekender wou word as sy rolmodelle, die Beatles.

Tallose ander jong Amerikaners voel ook so, maar weinig kan so doelgerig wees daaroor. Vir almal wat wil luister, en ook dié wat nie wil nie, begin Manson vertel hy gaan groter wees as die Beatles, en daarom groter as enige ander musieksuperster nog. Hy gee nie om hoe onwaarskynlik dit klink nie.

Manson begin by verskeidenheidskonserte speel waarin gevangenes optree. Partykeer is hy lid van ’n musiekgroep van gevangenes.

Al sou daar later geen rekord wees van hoe sy optredes ontvang is nie, kon hy nie ’n volslae mislukking gewees het nie, want hy hou aan met optree. Hy speel nie altyd kitaar nie. Die tronk het ’n gehawende tromstel vir gebruik in vertonings. Sy tromslanery is so ru soos sy kitaarspel, maar hy meen hy is begaafd in albei.

In Augustus 1966 kry Manson sy laaste tronkverslag. Daarin staan hy wys geleenthede vir beroepsklasse om werkvaardighede aan te leer sodat hy in diens geneem kan word, van die hand en voer nie meer aan hy is ’n Sciëntoloog nie.

Veilig 'agter tralies'

Manson het ’n enkele passie: “Hy het sy kitaar en musiek begin aanbid.” Tog “het hy geen planne vir sy vrylating nie, want hy sê hy het nêrens om heen te gaan nie”. Die verslag sluit af met: “Hy het ’n patroon van misdadige gedrag en aanhouding wat na sy tienerjare terugstrek.

Min kan verwag word wat ’n verandering van sy ingesteldheid, gedrag en optrede betref.”

Die evalueerder se doemvoorspelling maak geen verskil nie. Federale tronke is oorvol. Manson het uit die moeilikheid gebly en kom vir parool in aanmerking. In Maart 1967 hoor hy hy sal op die 21ste op parool vrygelaat word. Op 32 jaar sal hy eindelik ná byna sewe jaar weer vry wees.

Maar toe die datum ál nader kom, raak hy paniekerig en sê vir beamptes by Terminal Island eintlik wil hy nie vrygelaat word nie.

Hy voel veilig in die tronk; hy dink nie hy kan by die lewe daarbuite aanpas nie. As hulle hom vrylaat, sal hy op die ou end dinge doen wat hy nie behoort te doen nie.

Manson het insig in homself en is eerlik, maar die wiele van die strafstelsel se burokrasie is aan die draai.

Op die oggend van 21 Maart bevind Manson hom met ’n goedkoop koffer en sy kitaar buite op die sypaadjie, onseker oor waarheen om te gaan. Hy het ’n paar telefoonnommers van gevangenes wat hy op Terminal Island leer ken het en wat reeds op parool uit is.

Hy bel een in Berkeley, Kalifornië, en die ou sê hy moet daarheen kom. Toe kies Manson koers noorde toe, waarskynlik per bus of deur duim te gooi.

Hy weet die lewe buite sal anders wees as tevore, maar het geen benul hóé anders nie. Soos die fiktiewe Valentine Michael Smith staan Manson op die punt daarvan om ’n vreemdeling in ’n vreemde land te word. 

SY GROOTSTE HELDE

Die Amerikaanse skrywers Dale Carnegie, Robert Heinlein en L. Ron Hubbard het ’n groot invloed gehad op Manson se uitkyk. Hubbard is die vader van Sciëntologie.

Hubbard is die vader van Sciëntologie.

MANSON: VRY OM TE MOOR

In die eerste paar jaar ná sy vrylating vestig Charles Manson hom as ghoeroe in San Francisco se hippiebuurt Haight-Ashbury.

Hy lok ’n gevolg van ’n paar dosyn mense, meestal vroue, wat as die “Manson-familie” bekendstaan en hom soos ’n Jesusfiguur behandel.

Van links sit Cathy Gillies, Kitty Lutesinger, Sandy Good en Brenda McCann, volgelinge van Charles Manson, in 1971 tydens sy moordverhoor buite die hof in Los Angeles.

Vanaf ’n afgeleë plaas in Suid- Kalifornië beplan hy die moorde wat Amerikaners sou skok in ’n poging om ’n rasseoorlog te ontketen. Hy glo dit word in die Beatles se liedjie Helter Skelter voorspel.

Op 9 Augustus 1969 stuur hy sy volgelinge Tex Watson, Susan Atkins, Linda Kasabian en Patricia Krenwinkel na die platevervaardiger Terry Melcher se vorige huurhuis met die opdrag om almal daar dood te maak.

Van links is die Manson-volgelinge Susan Atkins, Patricia Krenwinkel en Leslie van Houten. Hulle het talle mense om die lewe help bring, onder wie die aktrise Sharon Tate.

Hulle skiet en steek vyf mense dood, onder wie Sharon Tate, die vrou van die rolprentregisseur Roman Polanski. Hulle was die huis se nuwe huurders en Sharon was agt en ’n half maande swanger.

Sharon Tate was getroud met die rolprentregisseur Roman Polanski.
Polisielede bedek die lyke.

Die volgende aand vergesel Manson dié vier asook Leslie van Houten en Steve Grogan na die huis van die kruidenier Leno La-Bianca en sy vrou, Rosemary, in Los Angeles. Hulle vermoor die egpaar en skryf die woorde “Death to pigs” met bloed teen die mure.

Tydens die hofsaak hou Manson hom as ’n demoniese mag voor en kerf ’n swastika op sy voorkop uit.

Manson het ’n swastika op sy voorkop uitgekerf.

Hy word eers ter dood veroordeel, maar die vonnis word later tot lewenslange tronkstraf versag. Die owerheid van die Kaliforniese staatsgevangenis waar Manson sedert 1971 aangehou is, het onlangs aangekondig hul berugste inwoner is op 83 jaar weens natuurlike oorsake oorlede.

’n Geredigeerde uittreksel uit Manson: The Life and Times of Charles Manson deur Jeff Guin (Simon & Schuster, R244) Beskikbaar teen dié prys by loot.co.za. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder vooraf kennisgewing.

Ekstra bronne: Telegraph.co.uk, Cnn.com; Foto's: Gallo Images/Getty Images, Elite Photo Agency