Charlotte Eksteen (60) van Mosselbaai vertel sy kon dié week nie “hond haaraf maak" toe haar dogter se GO weer in die hof hervat is nie en is nie seker wat om te dink van die feit dat nóg ’n belanghebbende, Ryno Brink, by die saak gevoeg is nie.

“Dit was ’n teleurstelling. Niks het my die laaste twee dae ontstel nie. Dit was alles net so bietjies-bietjies. Maar dit is seker hoe dit werk. Ek wens daar wil nou goed begin uitkom,” het Charlotte Woensdag aan Huisgenoot gesê nadat die GO weer tot 5 September uitgestel is nadat nog ’n belanghebbende by die saak gevoeg is.

Brink, wat aanvanklik net ’n getuie was, moet nou die geleentheid kry om eers ’n regsverteenwoordiger aan te stel voor die ondersoek kan voortgaan.

Charlotte Eksteen Foto: Argief

Volgens Netwerk24 het ’n voormalige vriendin van Anika, Hanrika Beukes, Brink glo geïmpliseer. Sy het glo destyds aan Anika se pa verskeie “stories” oor die dag van die moord vertel en gesê Brink het op dié dag na die huis gegaan omdat hy seks met haar wou hê.

Anika is op 10 Maart 2010 in haar pa se huis in Theresapark vermoor terwyl sy met oorontsteking tuis was.

Charlotte het ná die uitstel weer die lang tog per bus terug na Mosselbaai onderneem. Sy het Maandag die eerste dag van die GO misgeloop nadat die bus waarop sy gereis het, anderkant De Rust in die Karoo ’n koedoe getref het en hulle vyf uur vir ’n ander bus moes wag. Sy het eindelik 24 uur gereis en eers Maandagmiddag in Pretoria aangekom.

Die reis na antwoorde duur al agt jaar. Niemand het nog in ’n verhoor tereggestaan vir Anika se dood nie. Die jong blondekopmeisie was ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria-Noord toe sy in haar pa, Johan, se huis verkrag en doodgesteek is.

Die aanvaller/s het toe haar hande afgesny en daarmee verdwyn. Haar hande is nooit gevind nie.

Blomme is kort ná Anika Smit se dood by die Hoërskool Gerrit Maritz neergelê. Foto: Jaco Marais

’n GO, ’n hofondersoek waartydens belanghebbendes en getuies in die saak geroep word om te bepaal of daar ’n moontlike verdagte geïdentifiseer en aangekla kan word, was reeds onderweg toe 'n gewese klasmaat van Anika, André “Smiley” van Wyk (nou 25), homself een dag in die vroeë oggendure aan die polisie oorgee.

Hy het toe aangekondig hy is die moordenaar. Die saak teen hom is egter ’n jaar later teruggetrek nadat hy gebieg het dit was ’n valse verklaring en hy is “gedreig” om dit te doen.

André van Wyk (Netwerk24)

Smiley is nes Anika se pa, haar eks, Nico Venter, Charlotte en nog ’n skoolmaat, Damian Treeby, ’n belanghebbende. Die jongste toevoeging nou is Brink.

Charlotte vertel ná al die jare voel dit asof min dinge haar nog kan “skok”.

“Ek is gereed vir enigiets.”

Sy vertel om elke keer heen en weer per bus vir die GO te kom, put haar "verskriklik uit". Charlotte het in Februarie 60 jaar oud geword. Sy is 'n pensioentrekker wat nog al die jare as 'n naaldwerkster werk. 

“Ek raak nou net ouer. Al wat ek kan doen, is bid en duim vashou (vir antwoorde). Om daar te sit, maak my brein so moeg; om aan te hou luister en te hoop daar gebeur iets.”