Huisgenoot het Woensdagmiddag self met Charlotte gepraat terwyl die geregtelike ondersoek na haar dogter, Anika Smit, se moord in die landdroshof in Pretoria-Noord aan die gang was.

“My suster bel my met die boodskap sy hoor ek is vermis. Ek sê vir haar dan het ek seker self in die jamblikke geval. Ek kook mos baie konfyt!” het Charlotte vanuit haar huis in Mosselbaai geskerts.

Sy het vertel haar ou selfoonnommer werk nie meer nie nadat haar SIM-kaart gebreek het. Sy het intussen ’n nuwe nommer gekry en het nie geweet wanneer presies die ondersoek weer hervat nie.

Berigte dat Charlotte moontlik vermis is, het gekom nadat haar regsverteenwoordiger, Arno Olckers, in die hof ’n beroep op die media gedoen het om te help om Charlotte op te spoor. Hy kon haar ná vele pogings nie opspoor nie, en sy het ook nie by haar dogter se GO, wat sy in die verlede getrou bygewoon het, opgedaag nie. 

Volgens Charlotte het sy met hom kontak gemaak. Huisgenoot het haar met die hulp van haar tweelingsuster, Betheldo Krasse, opgespoor. Sy het vertel sy het self groot geskrik.

Charlotte is ’n belanghebbende in die geregtelike doodsondersoek, wat verlede jaar tot stilstand gekom het nadat André “Smiley” van Wyk (25) hom einde 2016 vir die opspraakwekkende moord en verkragting van haar dogter op 10 Maart 2010 oorgegee het. 

Die ondersoek het toe al twee jaar geduur. Die aanklagte is intussen vroeër vanjaar teen dié oudklasmaat van Anika teruggetrek. Sy DNS het onder meer nie by die DNS wat op die toneel gevind is, gepas nie.

Anika was 17 jaar oud en die dag af siek by die huis met oorontsteking toe sy in haar pa, Johan Smit, se huis doodgemaak en met ’n bottel verkrag is.

Anika se hande is in die voorval afgekap, maar nooit gekry nie.