Annalise is Woensdag in die Vergelegen-hospitaal op Somerset-Wes oorlede.

“Sy het verlede week ’n operasie ondergaan en ’n bloedklont in haar long gekry,” het Burgert, haar projekleier, aan Huisgenoot gesê.

“Annalise was ’n besonderse mens; baie kreatief en gelowig. Dit is moeilik om dit in woorde te beskryf. Sy was ’n mense-mens,” voeg hy by.

"RIV, liewe Annalise Wiid," het die Afrikaanse sangeres Amanda Strydom op Facebook geskryf. "Ek het haar nie persoonlik geken nie, maar ons was Facebook-vriende," het Amanda by navraag aan Huisgenoot gesê. "Sy is goeie vriende met (die sanger) Jannie du Toit en dis hoe ek haar ken," sê Amanda.

“Dit is verskriklik hartseer dat sy op so ’n betreklik jong ouderdom gesterf het. Sy was regtig ’n goeie sangeres en skrywer,” vertel Amanda aan Huisgenoot.

“Sy het die harte van so baie mense aangeraak met haar inspirerende optredes dwarsoor die wêreld," het die NG gemeente Helderberg op hul webtuiste geskryf. "Sy laat ’n groot leemte in Helderberg-gemeente en -uitreik."

Volgens Annalise se webtuiste het sy sedert 1993 ses soloalbums uitgereik. Sy het ook al saam met groot name in die musiekbedryf gewerk, onder wie Jannie du Toit, Christa Steyn en Matthys Maree.

Sy het ook vier boeke die lig laat sien. Hieronder is Abjater Is 'n Kuierkat en Skewe Snytjies Brood. Sy het ook sedert 2007 maandelikse rubrieke vir die tydskrif Lig geskryf, volgens haar webtuiste.

Annalise het landwyd as geleentheidspreker opgetree en was onder meer van 2008 tot 2011 lid van Bybel-Media se direksie.

Sy is verlede jaar met ’n Andrew Murray-FAK-prys vir die bevordering van Christelike musiek vereer.

Annalise was ongetroud en het nie kinders gehad nie, berig Netwerk24. Sy word oorleef deur haar ouers en suster. ’n Gedenkdiens word op Saterdag 7 Julie om 11:00 vanuit die NG gemeente Helderberg op Somerset-Wes gehou.

Ekstra bron: annalisewiid.co.za