Die diens is Donderdag in die Nederduitsch Hervormde kerk Pretoria-Oos gehou. 

Van Rooyen is 11 dae gelede (op 3 September) oorlede nadat pankreaskanker onlangs by hom gediagnoseer is.

Anneli van Rooyen.

Anneli en haar broer, Gerhard, het voor in die kerk weerskante van hul bejaarde ma, Tillie (84), gesit. 

Anneli en haar broer, Gerhard, het voor in die kerk weerskante van hul bejaarde ma, Tillie (84), gesit.

Die sanger en Hervormde predikant ds. Innes Benadé, ’n familievriend, het die roerende diens gelei. Sestien mense wat na aan Rit was, het hulde aan hom gebring in die gedenkboekie, onder andere ook oudmin. Pik Botha.

“Een van my vroegste herinnerings is hoe ek op ’n driewielfietsie ontsnap het uit die kleuterskoolperseel, en toe juffrou my op die sypaadjie inhaal en hygend vra: ‘Waar dink jy gaan jy?’, my helder, eenvoudige antwoord: ‘Ek gaan na my pa toe!’” skryf Anneli in haar huldeblyk.

“Wat ’n fenomenale voorreg en genade om julle as my ouers te hê . . . Pappa, die dankbaarheid strek hemelhoog en oortref die droefheid. Ons enigste troos in lewe en in sterwe is inderdaad Jesus Christus. Vir Pappa is Hy die Ewige Lewe. Matelose liefde, dank, agting, Anneli,” sluit sy haar huldeblyk af.

Tydens die diens het nog ’n singende predikant, Jan de Wet, die Koos du Plessis-lied Laat My Nooit U Grond Verlaat Nie gesing.

Daarna is foto’s van Rit op ’n skerm vertoon terwyl Anneli se lied Die Here Is by Jou op die agtergrond gespeel het.

“Geliefdes van ons harte, van ons lewe met ewige band met die liefde wat ons bind,” het Anneli die rouklaers toegespreek, “dankie dat ons eer en lof aan die Here kan bring. 

“Ek wil net graag iets sê op ’n punt van orde: dat ek in my lewe nog nie vele begrafnisse te hoef bygewoon het nie, maar nêrens het ek al so ’n oorwinnende boodskap gekry nie. Die Verlosser leef en ons is veilig.

Anneli van Rooyen se pa, adv. Rit (Retief) van Rooyen se gedenkdiens.

“Hy was bekend as ’n ‘iron fist’ in die hof en dan ’n ‘velvet glove’ by die huis. In die howe was daar min mense wat soos hy kon inboor deur murg en been om by die waarheid te kom. By die huis het mamma altyd vir hom gesê: ‘Ag, Tiefie, jy het tog so ’n wonderlike persoonlikheid.’” 

“Mamma sou ons inspireer en hy sou homself inwerp met ondersteuning, die man wat gesing het in die strate,” het sy gesê.

Anneli van Rooyen se ma, Tillie.

Gerhard het die bedankings behartig. “Die eerste word van dank gaan aan die God wat hy liefgehad het.

“Retief het die Inligtingskandaal openbaargemaak. Hy het geweet sy familie se lewe sou in gevaar wees, maar hy het steeds die eerbare gedoen en voortgegaan. Ons eer hom daarvoor.”

Die draers het daarna die kis na buite geneem waar die familie en vriende Retief vir laas kon groet.