Hy kon sy oë nie glo toe hy die foto’s sien nie. Sy gewese skoonseun, Shrien Dewani, lyk halsoorkop verlief terwyl hy saam met ’n man vakansie hou. En dit in die sosiale media waar die hele wêreld dit kan sien.

Vinod Hindocha het naar geword. Die vermetelheid, het hy gedink. Terwyl hy en sy familie nog sukkel om die moord op sy dogter, Anni Dewani (28), te verwerk, spog Shrien met sy nuwe liefdesverhouding.

Op die foto’s van die twee mans wat in Indië en op die Spaanse partytjie-eiland Ibiza geneem is, lyk Shrien (38) dolgelukkig saam met die Brasiliaans gebore fotograaf Gledison Lopez Martins.

Shrien Dewani (regs)en sy minnaar, ­Gledison Lopez Martins. Foto: Instagram

Daar is selfs videomateriaal waarop hulle mekaar liefkoos.

Jare lank is oor Shrien se seksuele oriëntasie bespiegel. Uit dié foto’s wat die Britse sakeman op sy eie sosialemediablad gedeel het, blyk dit Shrien voel hy kan nou ná Anni se dood met sy lewe voortgaan.

Hy en Gledison is glo al 18 maande in ’n verhouding. Die foto’s was vir Vinod (68) soos sout in sy wonde. Hoe kan dit dieselfde mens wees wat minder as vier jaar gelede in Kaapstad vir die moord op sy geliefde dogter verhoor is?

Toe Anni in 2010 tydens haar wittebrood in Kaapstad vermoor is, was haar man onmiddellik ’n verdagte. Op die oog af het dit soos ’n mislukte kaping gelyk, maar alles het nie sin gemaak nie en Shrien is eindelik in hegtenis geneem en van moord aangekla.

'Die regstelsel het ons in die steek gelaat'

Hy is ná ’n uitgerekte hofsaak vrygespreek, al het Zola Tongo, Mziwamadoda Qwabe en Xolile Mgeni, die drie mans wat tronkstraf vir hul rol in die moord gekry het, beweer Shrien het hulle betaal vir die sluipmoord op sy bruid.

Vinod en die res van Anni se familie was nie gelukkig nie. “Die regstelsel het ons in die steek gelaat,” sê hy vir ons uit Mariestad, Swede, waar hy en sy gesin woon.

Tydens die verlowing het Shrien ’n goeie indruk by Vinod gewek met sy bewering dat hy tot ná die troue wil wag om met Anni intiem te verkeer.

Maar op die eerste dag van die hofsaak moes haar familie skokkende besonderhede aanhoor van hoe Shrien manlike prostitute vir seks betaal het.

Hy en Anni Hindocha was 18 maande saam voor hulle in 2010 getrou het. Foto: Realtime Images

Vinod wil weet: As Shrien geweet het hy is nie aangetrokke tot Anni nie, hoekom wou hy met sy dogter trou?

Hy het vir die eerste keer van die man in Shrien se lewe uitgevind toe ’n joernalis hom om kommentaar nader.

“Dit was toe dat ek die eerste keer na Shrien se profiel op die internet gaan kyk het.”

Dit vreet aan hulle dat hul dogter se man, ’n miljoenêr-eienaar van versorgingstehuise, met die goeie lewe kan voortgaan en aangaan asof niks gebeur het nie terwyl haar lewe voortydig geëindig het.

Vinod sê hy mis Anni elke dag. Hy en sy vrou, Nilam, sal nooit afsluiting kan kry of Shrien kan vergewe nie tot hulle alles weet wat met hul dogter gebeur het.

Gledison is ’n fotograaf in Londen. Hy en Shrien gaan glo al 18 maande uit. Foto: Facebook

“Ons het nog baie onbeantwoorde vrae en geen antwoorde van hom nie. Ons het nie kontak met hom of sy familie nie.”

Op ’n ander foto in die sosiale media poseer die Dewani-familie saam tydens ’n vrolike gesinsbyeenkoms in ’n restaurant oor Kersfees. Shrien en Gledison sit oorkant mekaar aan tafel, wat skynbaar te kenne gee die Dewani’s het hul seun se ontluikende verhouding aanvaar.

Dit is vir Vinod wreed en harteloos dat Shrien sulke foto’s deel terwyl hy alte bewus is van hoe swaar Anni se familie steeds kry.

“Ek dink nie ons familie sal ooit daaroor kom nie,” sê hy. “Ons het ons klein leeuwelpie verloor. Niks kan haar terugbring nie en hy kan met sy lewe voortgaan.” 

Ekstra bron: DailyMail.co.uk