Geruime tyd reeds het die stof gaan lê rondom die tragiese dood van Anni Dewani, maar die pyn vir haar ouers brand nog helder in hul gemoed.

Anni se pa het Maandag – sewe jaar ná haar dood – ’n roerende huldeblyk gebring aan die dogter wat hy verloor het.

“Sewe jaar gelede het ons ons pragtige Anni verloor en die pyn is vandag net so moeilik om te dra as toe. In daardie sewe jaar het sy ’n dogter van die wêreld geword wat mense uit alle agtergronde, gelowe, etnisiteite en seksuele oriëntasies verenig het in ’n soeke na geregtigheid.

“Ons is trots daarop dat mense oral ter wêreld in haar naam in liefde bymekaargekom het, en dit sal altyd haar nalatenskap wees.

“Geen woorde sal ooit genoeg wees of die regte woorde wees vir iemand wat so mooi is en so gemis word nie. Ons hart sal nooit heel word nie, maar ons word getroos deur die duisende boodskappe en ondersteuning van julle.

“Bid asseblief vir Anni vandag en laat weet haar dat ons haar liefhet en haar mis, ons dogter van die wêreld."

Anni is op 13 November 2010 vermoor terwyl sy en haar man, Shrien Dewani, met hul wittebrood in Suid-Afrika gereis het. Die aand van haar dood is die taxi waarmee hulle gery het, in Gugulethu gekaap.  

In die dae ná haar dood is Mziwamadoda Qwabe, Xolile Mngeni en Monde Mbolombo in hegtenis geneem. Hulle het later beweer dat die moord beplan is en dat Anni se man die meesterbrein daaragter is.

Shrien is in die hooggeregshof in Kaapstad aangekla van moord, maar die regter het hom vrygespreek.