Vertel meer oor jou nuwe album, Padkos

"Dit is musikale padkos bestaande uit organiese musiek vir die langpad. Ek het ses jaar lank aan dié een gewerk en dit is meer akoesties as my ander onlangse albums.

"Dit het geen tromstel of elektriese kitaar nie, maar ’n mens hoor ’n mondfluitjie, banjo, saksofoon, ’n trompie en viool, om net ’n paar te noem.

"Hiermee gaan ek terug na my wortels, met die klank van die eerste albums," vertel die liedjieboer aan Huisgenoot.

Was die liedjieskrywery persoonlik?

Ja, die liedjies gaan oor my belewenis van hoe ek situasies rondom my waarneem. Soos die eerste snit (Diep Blou See).

Dit verduidelik dat ek in ’n simboliese boomhuis woon waaruit ek die omgewing rondom my dophou. Ná die gewapende aanval in Gauteng (in 2007), toe ek Kaap toe trek, was dit vir my belangrik om die negatiewe in ’n positiewe te verander.

Dis ’n happy album.

Vertel van die lied Ou Blou Geroeste Kruiwa.

Dit was nege jaar gelede en ek en Estie (Geldenhuys) het net begin uitgaan. Ek was besig met ’n Gautengse toer, maar het haar so gemis dat ek gesê het sy moet opvlieg.

Ek het haar op die lughawe gaan haal met my ou Corsa-bakkie wat al deurgeroes was. Toe ek verskoning vra vir die gehalte van die bakkie, antwoord sy ek kon haar maar met ’n ou geroeste kruiwa ook kom haal het.

Op ons troudag in Junie 2017 op Stanford in die Overberg het ek haar op ’n nuwe blou kruiwa by die onthaal in­gestoot.

Anton Goosen en sy vrou, Estie, op hul troue in die Overberg, 2017. Foto verskaf.

Hoe het julle mekaar ontmoet?

Sy het 10 jaar gelede twee brugjare ­geneem en in Londen gewerk toe ons ­mekaar ná een van my vertonings in Aardvark, ’n Suid-Afrikaanse kuierplek, ontmoet.

Ons het uitgevind ons albei kom van Gansbaai. ’n Maand of wat later het ons mekaar weer op Facebook raakgeloop. Daarna het ons begin skryf, en met haar terugkeer het ons gekuier.

Sedertdien is ons aanmekaargeplak. Sy is ’n gekwali­fiseerde gr. R-onderwyseres en doen tans haar B. Ed.-graad. Sy het ook die omslagfoto van Padkos geneem.

Hoe beskou jy verhoudings?

Voor ek en Estie mekaar ontmoet het, was ek 20 jaar single. Maar die isolasie van alleenwees is nie gesond nie.

Om saam met iemand te wees bring vervulling. Die jin en jang. Dis ook ’n Bybelse begrip. En baie normaal.

Hoe gaan dit met die gesondheid?

Ek het langer as drie jaar gelede ophou rook. Dan kan ’n mens se gewig ’n probleem raak, want as jy ophou rook, sit jy gewig aan.

Sedertdien kyk ek na wat ek eet en volg Tim Noakes se bantingdieet. Ek het nog nooit so goed gevoel nie.

Terugflits


Op ons speellys

FILTHY: JUSTIN TIMBERLAKE

JT weet hoe om ons voete te laat jeuk. Sy jongste electro-funk-snit is geen uitsondering nie. Filthy is net so aansteeklik soos Man of the Woods.

FINESSE (REMIX): BRUNO MARS & CARDI B

Dié liedjie was reeds ’n treffer met net Bruno Mars as hoofsanger, maar met die rapper-­van-die-oomblik, Cardi B, wat ook hierop haar ding doen, is dié snit nog meer kookwater.

KEN JOU WAARDE: EARLY B & ADAM

Die Ghoema-wenner, wat bekend is vir liedjies soos Cerebellum, is terug met Ken Jou Waarde saam met die mansgroep Adam.

SMOTHER: CRAIG LUCAS & PAXTON

Hy het The Voice SA gewen en sy Idols. Nou span dié twee saam vir ’n sexy weergawe van Craig se Smother.

– LARA ATSON

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, Facebook, Verskaf