Nou het die Argentynse vloot 'n aankondiging oor die stand van die duikboot gemaak: die 44 bemanningslede van die San Juan is dood nadat daar 'n ontploffing aan boord van die tuig plaasgevind het.

Dit beteken nie die einde van hul soektog na die gedoemde tuig nie. Dit sal voortgaan tot daar absolute sekerheid oor die duikboot en bemanning se lot is.

Gure weer het aanvanklik die soektog na die San Juan belemmer, maar dit wil voorkom asof beter weerstoestande aan die ontwikkel is.

Luidens berigte het die tuig laer as die maksimum diepte van 300 m geduik en ontplof. Daar is egter tot dusver geen oorblyfsels van die San Juan gewaar nie. 'n Vliegtuig van die Amerikaanse lugmag het wel 'n onbekende voorwerp gewaar in die omgewing waar die duikboot se laaste sein vandaan gestuur is.

Die Britse minister van verdediging het ook sy medelye met Argentinië betuig. Daar het ook verskeie Britse vaartuie aan die soektog na die duikboot deelgeneem.

Die RFS Yantar, wat onder die Russiese vlag vaar, was onderweg van Kaapstad na Luanda, Angola, maar het ook van koers verander om met die soektog te help.

Ook 'n navorsingskip, die Shoigu, is deur Rusland na die gebied gestuur.

Verskeie lande het sonder huiwering by die uitgebreide soektog aangesluit.

'n Laaste vaart

Pedro Martin Fernandez, die kaptein van die San Juan, het 'n belofte aan sy ma, Emma Nelly Juarez (80), gemaak: Dit sou sy laaste vaart op die duikboot wees voordat hy op land sou gaan werk.

Hy is getroud en die pa van drie kinders.

Die wat agterbly

Hartroerende tonele het die afgelope paar dae by die Mar del Plata-vlootbasis afgespeel. Familielede, vriende en kollegas het verslae gereageer op die nuus dat die duikboot vermis is.

Families van die vermiste bemanning kom byeen by die Mar del Plata-vlootbasis. Foto: EITAN ABRAMOVICH/AFP/Getty Images
Elena Alfaro, Christian David Ibanez se suster, word deur 'n onbekende vrou by die Mar del Plata-vlootbasis vertroos. Foto: EITAN ABRAMOVICH/AFP/Getty Images
Tevergeefs of nie? Die ARA San Juan het in alle waarskynlikheid net voldoende suurstof vir sewe dae onderwater gehad. Foto: EITAN ABRAMOVICH/AFP/Getty Images
Roerende tonele van families en geliefdes wat gebede opsê by die vlootbasis. Foto: EITAN ABRAMOVICH/AFP/Getty Images)
Malvina Vallejos, suster van Celso Oscar Vallejos, het hierdie banier by die Mar del Plata-vlootbasis gehang. Foto: EITAN ABRAMOVICH/AFP/Getty Images

Een van die bemanningslede se vrou het luidens berigte 'n hartaanval gekry toe sy die nuus van die ontploffing gehoor het.

Op haar Twitter-rekening het Jéssica Gopar geskryf: "Tot siens, my lief." Dit was haar afskeidsgroet aan Fernando, met wie sy 13 getroud was. Die paartjie het 'n baba saam.

"Ek haal asem vir hom, ek gaan nie die soektog opgee nie, ek het jou nodig," lui een van haar ander boodskappe.

"Hulle berei ons nooit hierop voor nie, my siel is seer. Ek wil sterf, maar vir my seun sal ek veg," is een van haar ander boodskappe wat die diepe lyding en hartseer van so baie familielede eggo.

'Passasier 45'

Vir een van die duikboot se bemanningslede, wat nou "bemanningslid 45" in die media genoem word, moet die nuus van sy kollegas se dood net so onwerklik en hartseer wees.

Humberto René Vilte het toestemming gevra om nie aan boord te gaan toe die duikboot van die Ushuaia-vlootbasis vertrek het nie. Sy ma is ernstig siek en hy wou so gou as moontlik by haar kom.

Twitter se reaksie


Bykomende bronne: viapais.com.ar, lagaceta.com.ar