Klein Carys Pickles van Warwickshire in Engeland het al van geboorte af ’n uiters sensitiewe vel en kan skaars vyf minute in die son wees, dan slaan haar vel rooi uit.

Die vierjarige is allergies vir swembadchloor, sonskerm, gras en roomys, weens haar suiwel-intoleransie. 

Haar ma, Sophie (25), moes vanjaar hul somervakansie afgelas omdat sy bang was Carys kon oorsee die een of ander dodelike reaksie toon.

“Die somer is veronderstel om die opwindendste tyd van die jaar vir kinders te wees, maar vir Carys is dit een van die gevaarlikste,” sê Sophie.

“Sy is vanaf geboorte vir allerhande goed allergies, maar dit het die afgelope jaar vererger.”

Die gesin – Sophie, pa Liam (30), Amelia (5) en die nege maande oue Phoebe – hoop nou om ’n manier te vind dat Carys vir die volgende paar maande pynloos kan leef.

Carys Pickles en haar ma, Sophie. Foto: Magazine Features

“Ons sien op na die somer omdat ’n mens soveel voorsorgmaatreëls moet tref om seker te maak sy verkeer nie in pyn nie.

“Sy is selfs allergies vir sonskerm; daarom moet ons ’n spesiale een vir haar gebruik. En ook vir swembaddens; so sy kan nie daarin afkoel nie.

“En ons moet versigtig wees tydens vleisbraaie ingeval Carys tamatiesous inkry, want dit gee haar ’n uitslag.”

Al is haar allergie vir sonlig eers verlede jaar geïdentifiseer, sukkel die vierjarige al sedert geboorte met allergiese reaksies.

En nadat hulle meermale met haar hospitaal toe moes gejaag weens lewensbedreigende reaksies, leef haar ma nou in vrees vir waarop haar dogter volgende keer sleg sal reageer.

“Dit voel asof Carys elke dag op iets anders reageer, en ons is gedurig bang vir hoe erg die volgende reaksie gaan wees.

“Toe sy vyf dae oud was, moes ons ’n ambulans ontbied omdat sy ’n reaksie op melk getoon het; van toe af het dit net vererger.

Die vierjarige is allergies vir swembadchloor, sonskerm, gras en roomys, weens haar suiwel-intoleransie. Foto: Magazine Features

“Dit het begin met rooi kolle aan haar lyf, maar nou swel sy binne vyf minute van kop tot tone op.”

Sophia soek nou antwoorde by dokters oor hoekom haar dogter ’n “wandelende allergie” is en hoe om die pyn te verhoed. 

“Haar allergieë raak voortdurend ál erger en sy het ’n wandelende allergie geword; soms toon sy ’n reaksie op absoluut alles,” sê Sophie.

“Al het ons haar na verskeie dokters geneem, kon niemand nog sê wat skort nie.

“Dit breek my hart om haar te sien ly en dat sy ’n oorversigtige lewe moet lei, waar sy nie dieselfde dinge as ander kinders kan geniet nie.

“Ons hoop dokters diagnoseer binnekort (die een of ander toestand by haar) sodat dit die laaste somer sal wees waarvoor sy allergies is.”