Die onafhanklike advokaat, wat genoop is om bevindings en aanbevelings oor die berugte voorval te maak waartydens die SuperSport-rugbyontleder en oud-Springbok, Ashwin Willemse, sy mede-aanbieders Naas Botha en Nick Mallett aangevat en uit ’n regstreekse uitsending gestap het, het vir ’n week uitstel gevra.

Dit beteken dat daar nog ’n naweek se rugby verby sal gaan waar dié drie nie kommentaar sal lewer nie. Hulle is reeds ná die voorval op Saterdag 19 Mei van die lug gehaal nadat SuperSport genoop was om 'n hersieningsproses in plek te sit nadat samesprekings tussen die drie misluk het.

Die senior advokaat Vincent Maleka SC, voorsitter van die hersieningsproses, was gevra om teen Maandag sy beslissing bekend te maak, maar was nog nie gereed nie, het Clinton van der Berg, kommunikasiebestuurder vir SuperSport aan Huisgenoot bevestig.

“Die senior advokaat het vir 'n week uitstel tot 18 Junie gevra, waartoe SuperSport ingestem het,” sê Clinton.

Clinton kon nie uitbrei oor bewerings wat op Twitter gemaak word dat Ashwin "nie opgedaag het" om aan die ondersoek deel te neem nie, maar slegs bevestig dat daar "nog tyd is" en dat Ashwin van die versoekte uitstel bewus was. Hy sê die advokaat skakel direk met die onderskeie partye.

Dit sal op 18 Junie reeds byna ’n maand wees sedert Ashwin, in ’n voorval wat die land laat gons het, vir Naas en Nick ná die kragmeting tussen die Leeus en die Brumbies die betrokke Saterdag in die SuperSport-ateljee in Randburg daarvan beskuldig het dat hulle “neerhalend” teenoor hom opgetree het. Hy het ook na hulle as spelers uit die apartheidsjare verwys.

Samesprekings wat in die week daarna gevolg het, het aanvanklik goed verloop, maar was eindelik ongeslaagd. Dit is toe dat SuperSport die onafhanklike hersieningsproses geloods het in ’n poging om die saak “vreedsaam en spoedig” af te handel.