Met die groetslag voel jy die dik eelte aan sy handpalm van al die kilometers wat hy op krukke afgelê het om op 10 Junie se Comrades voor te berei.

Dit was lank Xolani Luvuno se droom om aan dié uitmergelende ultramarathon deel te neem.

Al is die 90 km vanjaar afdraand van Pietermaritzburg na Durban, moes hy meer as genoeg steil bulte oorwin om tot hier te vorder.

Hy beduie na waar sy regterbeen moet wees: Dis net bo die knie afgesit nadat beenmurgkanker in sy vroeë 20’s by hom gediagnoseer is. Maar Xolani (33) se gestremdheid was nie al struikelblok op dié boorling van Port Elizabeth se pad nie.

Net twee en ’n half jaar gelede het hy nog onder ’n brug geslaap en geld gebedel vir sy volgende dosis dwelms. Hy het in asblikke rondgekrap vir kos en homself in die Jakarandastad se fonteine gewas. “ ’n Windscreen wash,” sê hy, en beduie hoe hy net sy gesig afgevee het.

Daarby was hy voor dit vyf en ’n half jaar agter tralies weens diefstal en huisbraak. Hy het al die lelikste kant van die lewe gesien, sê hy, maar dit behoort nou tot die verlede.

Dis te danke aan deursettingsvermoë en die vreemdeling wat twee jaar gelede onverwags tot sy redding gekom het, vertel Xolani. Hein Venter (53) het hom op straat gesien en ’n werk aangebied. Vandag noem Xolani vir Hein, wat saamkuier tydens die onderhoud in Pretoria, “afrigter, baas en pa”.

Xolani in sy eerste marathon. Foto: Verskaf

Xolani kan skaars glo hoe ver hy gekom het. “Ek het nou al binne-in hotelle geslaap; vroeër sou ek vóór die hotel slaap. Ek het vir die eerste keer in my lewe ’n werk en my eie plek. Die lewe is goed,” sê hy en glimlag breed.

Hardloop laat hom vry voel; dit help hom as’t ware aan sy donker verlede ontsnap, verduidelik Xolani.

Op 18 het Xolani van die huis af weggeloop en in die Baai op straat gaan leef nadat sy ouma en oom, wat hom grootgemaak het, ’n beskermingsbevel teen hom gekry het.

Hy was toe reeds verslaaf aan die dwelm nyaope (’n wit poeiermengsel van onder meer heroïen en dagga) en het hulle gedurig besteel.

Baie koue en honger nagte het gevolg. “Die lewe op straat is rof,” sê hy oor dié tyd waarin hy moes steel om te oorleef.

“Ek het byvoorbeeld iemand se 50 beeste opgepas en dan vyf gesteel.” Hy het later met die gereg gebots en is tronk toe weens huisbraak.

Toe hy jare later uitkom, het nog ’n slag hom getref: Sy been het begin pyn en beenmurgkanker is by hom gediagnoseer. Hy was geskok toe dokters sê sy been moet geamputeer word, maar het hul oordeel vertrou en toegestem tot die operasie.

“Toe ek ná die narkose wakker word, was die pyn iets verskrikliks. Ek het ure aaneen gehuil en so eensaam gevoel,” onthou hy.

Hy het chemoterapie gekry en die kanker is nou nog in remissie.

Hy weet nie hoe lank hy in die hospitaal was nie, maar ná sy ontslag was hy weer op straat en alleen. Sy aansien onder sy straatmakkers het gedaal: “Ek was nie meer die main man nie.

“Toe moes ek ophou steel,” vertel hy, “want ek kon nie vir die polisie weghardloop nie.”

Xolani sê sy onblusbare humorsin het hom die struikelblokke op sy lewenspad help oorkom. “ ’n Mens moet kan lag.”

Hy vertel kopskuddend hoe hy en pelle in die Baai ’n skool se rekenaars probeer steel het toe die polisie hulle betrap. “Daar het ek besef ek kan nie meer steel nie, want ek’s ’n vrot dief.”

Die lewe op straat het onhoudbaar geword, want te veel mense het hom geken.

In 2010 het hy besluit om Pretoria toe te gaan. Met saamrygeleenthede en die trein het hy eindelik daar uitgekom. Toe was hy volkome verslaaf aan nyaope, al sewe jaar haweloos en het hy nog nooit ’n werk gehad nie.

“Eers het ek dit net gerook; later moes ek dit inspuit.”

Toe Hein Xolani eindelik twee jaar gelede by ’n verkeerslig sien bedel, wou hy help.

“Ek het stilgehou en met hom begin gesels. Hy het natuurlik belowe hy gebruik nie dwelms nie, drink nie en is ’n maagd,” vertel Hein laggend en stamp Xolani spelerig teen die skouer.

Hein het hom ’n werk aangebied in die parfuumfabriek wat hy bestuur. Xolani het dadelik die betrekking in die afdeling vir verspreiding en logistiek aanvaar, want hy het na ’n beter lewe gesmag.

Xolani sê Hein het hom van dwelms en armoede gered. Foto: Huisgenoot/Dino Codevilla

“In die eerste week kom Xolani toe na my en sê hy’t hulp nodig, want hy gebruik dwelms. Ons het hom bygestaan, maar kon nie op so ’n kort kennisgewing ’n rehabilitasiesentrum kry nie.”

Xolani was vasbeslote om op te hou.

“Hy het elke dag werk toe gekom,” vertel Hein, “al het hy ernstige onttrekkingsimptome gekry.

“Hy het opgegooi en op die vloer lê en sweet, maar hy het vasgebyt. Ná ’n week was die simptome verby.”

“Die pyn was ondraaglik,” onthou Xolani, “maar ek was vasbeslote om deur te druk. Ek het besef as ek my lewe wil verander, moet ek dit sélf doen.”

Ná die verskriklike week was dit nie moeilik om van die dwelms af weg te bly nie. “Ek het geweet ek wil nooit weer die onttrekking ervaar nie.”

Xolani is al byna twee jaar dwelmvry, maar nadat hy die dwelms gelos het, het hy te veel gedrink, volgens hom “om die onttrekkingsimptome te verlig”.

Sy drankprobleem was binne sewe maande so erg dat Hein hom ontslaan het. Twee weke later het Xolani kom pleit vir sy werk.

“Ek het besef ek het my eerste en enigste werk verloor. Ek is die dom een en ek moet dit verander,” sê Xolani.

“Hy het gesê hy soek nie eens betaling nie,” vertel Hein. “Dis toe ek besef dat drank ook ’n houvas op hom het.”

Xolani is terug werk toe en het weekliks ’n steungroep vir alkoholiste begin bywoon. “Dis nou al langer as ’n jaar vandat ek laas gedrink het,” sê hy.

In 2016 het Xolani vir die eerste keer ’n prostese gekry en kon hy weer sonder krukke loop.

In dieselfde jaar is hy saam met kollegas KwaZulu-Natal toe om die Comrades te kyk.

“Dit was die eerste keer dat hy gevlieg het,” vertel Hein oor die uitstappie wat die fabrieksbestuur gereël het om werknemers aan te moedig om gesond te leef en ’n sport te beoefen. Dit is ook waar Xolani se droom gebore is om die Comrades-ultramarathon te hardloop.

Hy sal eers ná nog ’n operasie sy nuwe prostese kan begin gebruik. Foto: Huisgenoot/Dino Codevilla

Kort daarna het hy die drankduiwel oorwin en hom op sy atletiek begin toespits. Eers het dit stadig gegaan, want hy kon nie met sy prostese hardloop nie.

Sy eerste marathon op krukke, die Wally Hayward in Pretoria, het hy ’n jaar gelede in 7 uur en 3 minute voltooi.

Hein, wat die dag saam met hom gedraf het, vertel hulle was so ver agter die laaste deelnemers, die organiseerders wou hulle by die halfpadmerk stop.

“Ons het gesmeek en hy het net aangehou,” sê Hein. Enkele weke gelede het Xolani dieselfde marathon op sy krukke in 5 uur en 38 minute voltooi.

Ná sy eerste marathon het hy ’n borg gekry vir ’n prostese waarmee hy kan hardloop, maar dit skaaf hom te erg.

’n Tweede operasie sal hom moontlik kan help om met die prostese te hardloop, sê Hein, maar dit sal eers moet wag tot ná die Comrades. Die organiseerders het ingestem dat Xolani vyf uur voor die eerste deelnemers wegspring.

“Ek is fiks, maar dit gaan oor wat hiér en hiér is,” sê Xolani en vat aan sy kop en hart.

Hy mik daarna om die sowat 90 km binne 17 uur te voltooi, maar dit sal ’n nieamptelike deelname wees en hy sal nie vir ’n medalje in aanmerking kom nie.

Dit is maklik om te sien waarom Xolani vandag ’n gewilde motiveringspreker oor dwelmmisbruik is, onder meer by skole, in townships en by die metropolisie in Tshwane.

Hy sê hy besef watter verskil een mens in iemand se lewe kan maak en kyk na Hein.

“Ek wil vir jong mense sê om nie dom te wees nie. Dis nie ’n toordokter of jou ouers se skuld as jy verkeerde besluite neem nie; dis jou eie skuld.”

Hy het nie veel familie oor nie, want sy ouma is oorlede. Hy en sy grootmaak-oom het verlede jaar versoen geraak, maar hulle sien mekaar selde.

En wat kom ná die Comrades?

“Die Paralimpiese Spele, natuurlik,” sê hy beslis.