Die onbekende man van Adelaide, Australië, was verslae nadat hy weens die pandemie afgedank is.

Maar sy lewe het nog ’n dramatiese wending geneem toe hy uitvind hy het oor Paasnaweek sowat R58 miljoen in die plaaslike lotery gewen, berig Mirror.

Die pa van een wil anoniem bly nadat hy die eerste afdeling gewen het van ’n loterykategorie wat as Set For Life bekendstaan. Dit beteken hy sal vir die volgende 20 jaar ’n maandelikse betaling van sowat R240 000 ontvang.

Die man, wat in sy 20’s is, beskryf sy onlangse wenslag as ’n “algehele verligting”, veral nadat hy in hierdie moeilike tyd sy werk verloor het.

“Ek het onlangs weens COVID-19 my werk verloor en dit gee my net algehele verligting,” sê die boerpotwenner. “Ek was die afgelope ruk gespanne, maar nou is ek baie gelukkig.”

Die man, wat as gevolg van die opgewondenheid saans sukkel om te slaap, vertel hy en sy vrou kon hul geluk nie glo nie en hy moes sy aanlyn rekening verskeie kere nagaan om seker te maak dit is waar.

“Ek het my vrou wakker gemaak om haar te vertel en sy het geskree. Dit was ongelooflik. Ek het my aanlyn rekening vele kere nagegaan om te kyk of dit waar was,” sê hy.

Al het die man nog nie besluit hoe hy sy wengeld wil bestee nie, het sy vrou reeds planne begin maak, berig Metro.

“My vrou het reeds ’n hele klomp planne gemaak,” sê die man.

“Sy wil alles doen. ’n Nuwe motor, vakansies, ’n nuwe huis. Nie net enige huis nie, maar ons droomhuis. O, en natuurlik ’n inkopietog.”

Bronne: Mirror, Metro, Daily Mail