Vir haar duisende volgelinge op sosiale media was sy ’n waaghals van die eerste water – ’n onverskrokke avonturier wat berge oor die wêreld heen gaan uitklim het. Om alles te kroon het sy dan op die kruin haar klere vir ’n bikini verruil – al was die temperatuur onder vriespunt – sodat sy ’n selfie kan neem om te wys sy het nog ’n piek oorwin.

Maar nou is daar niks oor van die vrolikheid op Gigi Wu se Facebookblad en Instagram nie.

Gigi Wu
Gigi Wu het dikwels temperature laer as vriespunt trotseer om ­selfies te neem. Foto: Verskaf.
Gigi Wu
Foto: Verskaf.

Pleks van al die gelukwensings wat haar avonture altyd ingeoes het, stroom boodskappe van skok en hartseer in. “Wees nou vry, engel,” skryf een volgeling.

“Ek ken jou nie, maar ek kan sien jy is ’n dapper vrou. Rus in vrede.”

“Ek respekteer en salueer ’n dapper, individualistiese mens,” skryf ’n ander een. “My grootste simpatie aan die familie.” Want Gigi se waaghalsigheid het tot haar dood gelei.

Die 36-jarige vrou van Taipei, Taiwan, is onlangs na ’n nasionale park in haar land waar sy die Bantongguan-roete aangepak het. Sy het haar selfie geneem, maar op pad terug 30 m in ’n ravyn afgestort en haar ernstig beseer.

Sy het dit dié Saterdag reggekry om ’n vriend te bel en die koördinate te gee van waar sy lê, maar weens die beserings aan haar onderlyf kon sy nie beweeg nie. ’n Soekgeselskap kon haar deur ’n satellietfoon opspoor, maar weens die swak weersomstandighede kon die span nie ’n helikopter gebruik nie.

Gigi Wu
Foto: Verskaf.
Gigi Wu
Foto: Verskaf.

Hulle moes dus die byna onbegaanbare terrein te voet takel. En teen die tyd dat hulle die Maandag, sowat 43 uur ná haar val, by haar uitgekom het, was dit te laat. Die ervare klimmer het vermoedelik verkluim.

Baie van haar geliefdes vind effens troos daarin dat sy dood is terwyl sy iets gedoen het waarvoor sy lief was.

Gigi se swembroekeskapades het begin nadat sy ’n weddenskap teen ’n vriend verloor het. Die “straf” was dat sy ’n foto van haarself moes neem nadat sy tot op ’n berg geklim het, het sy verlede jaar in ’n TV-onderhoud gesê. Die straf was egter vir haar so lekker dat sy nie opgehou het nie en die afgelope vier jaar meer as 100 kruine oorwin het.

Gigi Wu
Foto: Verskaf.
Gigi Wu
Foto: Verskaf.

Op een foto hou sy ’n foto van haar kat vas terwyl sy teen ’n rotswand hang. In ’n ander een strek sy oor ’n klomp skerp rotse om ’n kennisgewingbord bo-op ’n berg te soen. En op elke foto is sy natuurlik in ’n bikini geklee.

“Ek het op elk van die 100 berge ’n bikini aangetrek,” het sy vertel. “Ek het net omtrent 97 bikini’s, so ek het per ongeluk party herhaal.”

Haar ongewone ritueel het aan haar die bynaam Bikini Climber besorg en meer as 14 000 bewonderaars het haar op Facebook en Instagram gevolg. Toe sy gevra is waarom sy dit doen en dikwels gevaarlike berge vir haar bikiniselfies klim, was Gigi se antwoord eenvoudig: “Dit lyk net so pragtig. Hoe kan ’n mens nie daarvan hou nie?”

Selfiesterftes

Die beerselfie

Prabhu Bhatara was op pad terug van ’n troue in die Indiese staat Odisha toe hy langs die pad stop om ’n selfie saam met ’n beseerde beer te neem. Die beer het op sy voete gekom en hom doodgemaak.

Prabhu Bhatara
Prabhu Bhatara. Foto: Verskaf.

Die klimselfie

Tu Thanh Nyugen (32) van Kalifornië het Michigan se North Country Trail op haar eie geklim toe sy haar doodgeval het. Sy het selfies geneem op die rand van ’n krans wat 60 m hoog is toe sy haar balans verloor, in die Superior-meer val en sterf.

Die skietselfie

Deleon Alonso Smith (19) wou ’n selfie neem terwyl hy ’n vuurwapen in die hand het. ’n Skoot het afgegaan, ’n koeël het sy keel deurboor en hy het gesterf.

Deleon Alonso Smith
Deleon Alonso Smith. Foto: Verskaf.

Die dronkselfie

’n Kaliforniese paartjie, Meenakshi Moorthy en Vishnu Viswanath, het 243 m ver van ’n krans afgeval in die beroemde Yosemite-park terwyl hulle ’n selfie geneem het. ’n Lykskouing het aan die lig gebring die twee was dronk toe hulle geval het.

Meenakshi Moor­thy en Vishnu Viswanath
Meenakshi Moor­thy en Vishnu Viswanath. Foto: Verskaf.

Die Taj Mahal-selfie

Hideto Uedo van Indië wou ’n selfie neem op die wit marmertrap van die liefdestempel toe hy daar afval en ’n hartaanval kry. Die 66-jarige man is hospitaal toe gehaas, maar hulle kon nie sy lewe red nie.

Die hangselfie

’n Tienerseun wou ’n selfie neem waar hy van ’n hoë gebou in Rusland hang. Die 17-jarige het egter nege vloere ver geval, en hoewel sy val deur bosse gestuit is, het hy dit nie oorleef nie.

Bronne: South China Morning Post, CNN, New York Post, USA Today, Independent.co.uk, Daily Mail, Mirror.co.uk