Ná ’n ’leeftyd waarin hy as baasspeurder naam gemaak het, was sy grootste hartsbegeerte die laaste jare om ná ’n bitter familietwis met sy twee volwasse kinders versoen te raak; om weer sy kleinkinders in sy arms te kan hou . . .

Genl.maj. Karel “Suiker” Britz se wens het waar geword toe sy seun en dogter, Kallie Britz (43) en Liezl Botma (45), skaars ’n maand gelede met hom kom vrede maak het ná ’n vyf jaar lange vete.

Ook die speurder se vyf kleinkinders het op daardie blye dag saamgekom om by oupa te kuier.

Die speurder se hofstryd met sy seun was nog nie vergete of verby nie, maar pa en seun kon mekaar weer in die oë kyk.

Op Vrydag 30 November het Kallie en Liezl weer by hul bejaarde pa ’n draai kom maak – dié keer om hom vir ’n vervroegde Kersete saam met die kleinkinders te nooi.

Suiker en sy tweede vrou, Annetjie, met wie hy in 2012 ge­troud is. Foto: Facebook

Maar net ’n paar minute ná hul vertrek het die bekende speurder tot in die voortuin van sy meenthuis in Wingate Park in die suidooste van Pretoria gestap, ’n pistool teen sy slaap gedruk en homself om die lewe gebring.

Daar het sy tweede vrou, Annetjie (72), op hom afgekom. Hy was 74 jaar oud en het die afgelope drie jaar teen maagkanker gestry. Hy kon sy donker gedagtes nie ontsnap nie.

“Suiker se dood is ’n tragedie; ’n hartverskeurende ramp,” sê Gert van der Merwe, Kallie se regsverteenwoordiger in die hofsaak tussen pa en seun.

Suiker het in 2014 ’n saak aanhangig gemaak omdat Kallie hom na bewering meer as R2,57 miljoen skuld – R1,57 miljoen daarvan, het Suiker beweer, het Kallie sonder magtiging uit sy pa se rekening onttrek en ’n verdere R1 miljoen was ’n lening wat hy volgens Suiker nooit terugbetaal het nie.

Kallie sou dit egter teenstaan. “Dit kon nie op ’n slegter tyd gekom het nie,” sê Gert oor die skoknuus van Suiker se selfdood.

“Kallie en Liezl het geweet hul pa is oud en siek; dat hy dalk nie meer lank sal hê om te leef nie. Daarom het hulle sowat ’n maand gelede by hom gaan kuier en vir hom gesê hulle wil nou hierdie nonsens agter hulle stel. Hulle het selfs die kleinkinders saamgevat.

Suiker was baie opgewonde daaroor. Hy kon nie ophou drukkies uitdeel en foto’s neem nie.” Die speurder se kinders het hom op die Vrydag van sy dood na ’n Kersete daardie Sondag genooi, vertel Gert.

Genl.maj. Suiker Britz – soos hy in die ­polisie bekend was – se naam word aan verskeie plaaslike hoëprofielsake gekoppel. Foto: Felix Dlangamandla

“Selfs Annetjie het op vrede gehoop en Suiker aangepor om die uitnodiging te aanvaar. Maar die kinders was skaars weer op pad toe Suiker na buite loop en homself sonder waarskuwing doodskiet. Net daar in die tuin, minute nadat hy die vrede gekry het waarop hy al die jare gehoop het . . .”

In sy loopbaan van byna vier dekades lank het die voormalige hoof van Pretoria se (nou ontbinde) moord-en-roofeenheid die een groot saak ná die ander opgelos.

Van die opspraakwekkendste sake waarby hy voor sy aftrede in 1999 betrokke was, is die bomontploffing in Mei 1983 in die Suid-Afrikaanse Lugmag se hoofkwartier in Kerkstraat in Pretoria waarin 19 mense dood is.

Suiker het ook in 1979 die pedofiel Gert van Rooyen in hegtenis geneem nadat hy twee meisies van 10 en 13 ontvoer en seksueel aangerand het – ’n oortreding waarvoor Van Rooyen destyds tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis is.

Dit was nege jaar voor die spoorlose verdwyning van die eerste van die ses meisies wat vermoedelik deur Van Rooyen en sy verloofde, Joey Haarhoff, ontvoer is.

Tog was die skurke wat Suiker aan die pen laat ry het en sy suksesvolle loopbaan in die laaste vyf jaar van sy lewe vergete, meen die mense na aan hom.

In dié tyd het twee onopgeloste sake in sy persoonlike lewe aan hom bly knaag: sy stryd teen maagkanker en sy vervreemding van sy kinders en kleinkinders.

Sy verhouding met sy kinders het kort ná sy eerste vrou, San (68), se dood in 2010 begin verbrokkel, het Suiker vroeër aan Huisgenoot vertel.

Sy dogter was ontsteld daaroor toe hy toestemming wou gee dat die masjiene afgeskakel word wat San aan die lewe gehou het nadat sy vir ’n bloedklont in haar been geopereer is, het hy gesê.

Hy het ook gesê albei sy kinders het hom “verwyt” toe hy twee jaar ná hul ma se dood weer trou. Ná San se dood het Suiker Kallie gevra om sy geldsake te hanteer, maar toe hy met Annetjie trou, het sy dié taak oorgeneem.

In 2014 het die oudspeurder ’n siviele eis teen Kallie ingestel en ook ’n klag van diefstal teen hom gelê. Suiker het aangevoer transaksies van meer as R1,57 miljoen is tussen Oktober 2010 en November 2011 uitgevoer waarvoor hy geen magtiging gegee het nie.

Hy het verder beweer Kallie het nie ’n lening van R1 miljoen aan hom terugbetaal nie. Kallie het toe glo op sy beurt sy pa daarvan weerhou om sy kleinkinders te sien.

Die verlange na hulle was vir die eens geharde polisieman so erg, hy het in April verlede jaar sy hart in ’n Facebookinskrywing uitgestort.

‘Die kinders was skaars weer op pad toe Suiker na buite loop en homself sonder waarskuwing doodskiet’

“Kan iemand wat my 5 kleinkinders ken, asb. vir my foto’s van hulle stuur?” het hy gevra. “Ek het hulle 4 jaar laas gesien . . .”

Ook tussen Annetjie en Suiker se kinders het die spanning hoog geloop.

In Maart vanjaar het Liezl aan Huisgenoot gesê sy en haar broer het nog nooit met hul stiefma oor die weg gekom nie en dat sy vermoed Annetjie het haar pa oorreed om Kallie te dagvaar, maar Annetjie het dit teenoor Huisgenoot ontken.

Spanning tussen Suiker en sy kinders was op ’n naaldpunt toe maagkanker in 2015 by hom gediagnoseer is.

Tog wou hy nie die hofstryd teen sy seun laat vaar nie.

Suiker was “ongelooflik depressief” toe die saak vroeër vanjaar van die rol verwyder is, sê Chris Greyvenstein, sy regsverteenwoordiger.

Suiker was vyf jaar lank van sy dogter, Liezl, en haar man, Cornel, vervreem. Foto: Facebook

Dit was nadat Kallie se regspan daarop gewys het die saak sou nie in die gewone tyd vir ’n verhoor in ’n siviele geding – ’n maksimum van vyf weekdae – afgehandel kon word nie.

’n Hofdatum vir ’n verhoor van ’n langer tydsduur is toe vir Augustus 2020 bepaal. “Hy het gesê hy weet nie of hy die nuwe verhoordatum sal haal nie,” vertel Chris.

“Sy grootste bekommernis was om Annetjie sonder geld agter te laat.” In die laaste maande van sy lewe het sy gesondheid verswak.

Die maagkanker was wel in remissie, maar Suiker het ook aan diabetes en hoë bloeddruk gely en het vanjaar twee operasies aan sy lies ondergaan.

Die speurder wat op skool in die Vrystaat die bynaam “Suiker” gekry het omdat hy so vinnig met die bal kon hardloop, het ál swakker geword.

“Hy het baie gekla oor sy seer lyf en die feit dat hy nie maklik loop nie,” vertel ’n oudkollega, die afgetrede genl.maj. Bushie Engelbrecht.

“Ek het hom so ’n maand gelede hierheen genooi, maar hy kon nie kom nie weens sy gesondheid. Dit het my hart gebreek. Hy het baie pyn en lyding gehad.

“Na aan die einde het dit so sleg met hom gegaan, ek kon hom nie meer in die oë kyk nie . . . Ek het hom liefs gebel, maar elke keer het hy sieker geklink.

“Tog het niemand so iets drasties van Suiker verwag nie. Niemand sou kon dink hy sou ooit tot so iets in staat wees nie. Die enigste afleiding is die pyn moes ondraaglik gewees het – dat hy bloot nie kon voortgaan nie.”

Annetjie is sedert sy op haar man se liggaam afgekom het in “ ’n verskriklike toestand en huil heeltyd”, vertel Chris. In ’n verklaring sê die familie Suiker se “ontydige dood” is ’n groot skok.

“Sy dood laat ’n groot leemte in die familie en in sy vriendekring. Annetjie, haar kinders en Suiker se kinders waardeer die meelewing, deernis en gebede sedert Vrydag. In acta est fabula. Plaudite,” sluit hulle die verklaring in Latyn af – die toneelstuk is verby; klap hande.

  • Genl. André Wiese, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig Suiker Britz se dood is ’n “onnatuurlike sterfgeval”. Geen gemene spel word vermoed nie, sê hy.
  • In ’n verweerskrif wat Kallie in Januarie 2015 by die hof ingedien het, ontken hy hy skuld sy pa enige geld en voer aan Suiker se eise is “ongegrond”. Hy ontken ook hy en sy pa het ooreengekom Kallie sal die bedrag van R1 miljoen wat hy vir die aankoop van ’n huis op ’n landgoed by Midrand gebruik het aan Suiker terugbetaal.