“Dit gaan eintlik goed met Ruaché, maar haar longe is maar swak. Sy sukkel om self asem te haal,” vertel Mari Botha (30) aan Huisgenoot.

Dit is waarom sy steeds in die Life Wilgers-hospitaal in die ooste van Pretoria is. Ruaché het ook ’n voedingsbuis omdat sy op ’n masjien is wat haar help om asem te haal. 

“Ons sal haar weer moet leer drink en suig.” 

Ruaché is verlede jaar op 15 Mei gebore op net 26 weke en sy het maar 440 g geweeg, soveel soos ’n blikkie koeldrank.

Foto: Verskaf
Mari en Johan gaan kuier elke dag vir hul eersteling.
Foto: Verskaf
Johan en sy dogtertjie tydens 'n teer oomblik in die hospitaal.

Nou, op nege maande oud, weeg sy net oor die 3,3 kg, soveel soos die meeste ander voltermbabas met geboorte. 

Daar was ’n bloedklont in die naelstring en Ruaché het dus byna ophou groei toe dokters besluit hulle sal haar moet uithaal. Op 26 weke was sy so groot soos meeste babas op 19 weke en dokters het nie geweet of sy dit gaan maak nie.

“Dit is baie moeilik want ons mis al haar eerstes. Ons het gemis toe sy die eerste keer lag of glimlag. Ons hoor dit by die personeel as ons kom kuier. Sy het nou onlangs die sagte speelding in haar kot gegryp, dis ook ’n eerste,” vertel Mari en raak sommer bewoë.

Mari en Johan (38) woon in Kempton Park en ry daagliks die meer as 65 km na hulle enigste kind. Die egpaar het vir drie jaar gesukkel om swanger te raak en sê Ruaché is hulle wonderwerkkind. 

“Ruaché raak maar soms baie geïrriteerd met al die pype en dinge. Ons grootste wens is dat sy net moet huis toe kom,” sê Mari. 

Mari vertel Ruaché se broncioli (weefsel in haar longe) is beskadig maar dokters sê dit kan moontlik self verbeter soos sy ouer word.  

“Ons hoop dit doen en dat dit eerder vroeër as later gebeur maar vir nou wens ons regtig net sy kan huis toe kom. Ons wil haar eerstes eerstehands beleef. Die ver ry elke dag is ook erg. Ons ry vyf uur, spandeer twee ure by haar en ry terug.” 

Mari het ook tydens die geboorte terugslae beleef en haar lewe het ook aan ’n daadjie gehang na haar niere beskadig is. Sy ontvang nou talle keer ’n week dialise. 

“Ek het die jaar 30 jaar oud geword en my motto is: ‘The way I think is the way I am’ so ek het besluit om positief te dink,” sê sy. 

Ten spyte van haar eie gesondheidsterugslae en haar kind s’n het dié vrou haar eie besigheid. Sy het ’n kultuurskool waar kinders kan leer voordra, sing en toneelspel begin.

“Ek het net besluit ek gaan nie in sak en as sit nie. Life goes on en ek sal mal raak as ek nie besig bly nie,” sê sy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.