Die klein Jaydené Croucamp Bester van Port Elizabeth is net oor ’n jaar oud en het Sondag erge brandwonde oor 30% van haar lyf opgedoen. 

Debbie Bester, Jaydené se ouma, vertel aan Huisgenoot dat Jaydene erg gebrand het toe sy ’n pan warm kookolie van die stoof afgetrek het Sondagmiddag. Dié olie het haar hele bolyf gebrand. 

"Haar ma en pa, Ricardo en Jackie, was besig om kos te maak. Jaydené is ’n jaar en drie maande oud. Ricardo is badkamer toe en Jackie het vir ’n oomblik omgedraai toe Jaydené die pan op die stoof gryp," sê Debbie. 

Jaydené het 30% van haar lyfie verbrand en baie van dié brandwonde is derdegraads. Sy is in die Dora Nginza-hospitaal in Port Elizabeth opgeneem.

"Sy kry uitstekende behandeling hier by die brandeenheid. Sy het vanoggend ’n operasie ondergaan, want sy het infeksie in haar wonde opgedoen. Sy het erg gebrand op haar ruggie, borsie en op haar gesiggie. As sy nou goed genees gaan sy volgende week vir ’n veloorplanting,” sê Debbie. 

Die familie is baie dankbaar dat Jaydené self asemhaal en dat die swelling van haar brandwonde ietwat verminder. 

Dié foto is direk na die fratsongeluk geneem, maar Jaydené se wonde lyk nou baie erger. "Dis asof haar vel aanhou brand het so dis nou rou. En ons moes haar hare afskeer om infeksie te voorkom omdat sy met olie gebrand het," sê Debbie. 

Jaydene na sy Sondag gebrand het. Haar brandwonde lyk nou baie erger. Foto: Verskaf

’n Meer onlangse foto is egter te ontstellend om te plaas. 

Debbie sê hulle sou nooit kon dink dat so iets met hul familie en hul geliefde sonskynkind sou gebeur nie. "Sy’s ons blom. Sy is so liefdevol en sal drukkies vir enigiemand uitdeel." 

"’n Ongeluk gebeur so vinnig en so maklik. Ons vra dat mense asseblief vir haar sal bid, want sy’s steeds in gevaar.”