Met Huisgenoot se besoek aan die Laird-gesin se kerk het Nikki Coleman, vrou van past. Trevor Coleman van die Bridge-kerk in Alberton, gesê hulle as gemeente bid gedurig vir die seuntjie. Hulle bly ook in aanraking met al die gemeentelede wat saam vir die veilige terugkeer van baba Eden bid.

Gevra hoe dit met die familie gaan, het Nikki gesê sy weet nie.

Vanoggend kon die polisie nog nie aan Huisgenoot bevestig of ontken dat dié seuntjie vir 'n losprys ontvoer is nie, maar Netwerk24 berig dit is glo die geval en dat die eerste oproep waarin ’n losprys vir baba Eden geëis is, as ’n grap afgemaak is.

Die tweede oproep is toe, luidens die berig, met meer erns hanteer. Bronwyn, baba Eden se ma, het haar man, Stuart, gevra om te gaan kyk wat by hul huis in Brackendowns, Alberton, aangaan.

"(Bronwyn) is ook gebel, maar sy het eers gedink dis ’n grap en afgelui," het ’n verteenwoordiger van Fox Security, wat na verneem word op die toneel van die ontvoering was, aan Netwerk24 vertel. "Hulle het haar later weer gebel en toe haar man (by die huis) gaan kyk, het hy besef die baba en sy oppasser is weg." 

Mense landwyd is omgekrap oor die baba se verdwyning nadat die organisasie Pink Ladies ’n inskrywing oor Eden op hul Facebook-blad gemaak het.

Volgens hul inskrywing, wat al meer as 35 000 keer gedeel is, is Eden laas gesien toe Cleopatra met hom op haar rug gaan stap. Hy het ’n vaal sweetpakbroek met prentjies van pampoene daarop aangehad, saam met ’n hempie waarop staan “Granny Sunshine”.  

Lt.kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Huisgenoot.com bevestig die kind en die gesin se huishulp is nog nie gevind nie.

Eden se ouers het hom al Woensdagoggend as vermis by die polisie aangemeld. Lungelo sê hulle het dadelik met ’n soektog begin.

Kontak

As jy enige inligting het wat die polisie kan help, bel konst. Malele van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings in Brackendowns op 082-358-8360 of 082-771-6328.

Die Pink Ladies kan op 072-214-7439 of 083-378-4882 gebel word.