Dis ’n sonderlinge soort hel; een wat enige ouerpaar kan knak.

Net meer as een jaar gelede was die land geruk oor die ontvoering van baba Eden – ’n toe onskuldige 13 maande oue baba wat saam met Bronwyn en Stuart Laird se huishulp verdwyn het.

Na die ontvoering, op 2 Mei 2018, het meer as twee lang dae – en ontelbare dreigemente om die kind seer te maak – gevolg voordat baba Eden op 5 Mei ná polisie-ingryping aan sy ouers terugbesorg is.

Bronwyn was baie gelukkig om Eden weer tuis te hê
Bronwyn was baie gelukkig om Eden weer tuis te hê nadat sy drie dae lank vir sy veilige terugkoms gebid het. Foto: Onkgopotse Koloti

Nou, ’n jaar later, het die ontvoeringsaak van Amy’Leigh de Jager die ouers opnuut herinner aan daardie seer en trauma.

Dié gr. R-leerder, is Maandagoggend verlede week buite die Laerskool Kollegepark ontvoer. Die ontvoerders het ’n losprys van R2 miljoen geëis.

Sy is die daaropvolgende dag in die vroeë oggendure ongedeerd deur verbygangers in ’n straat in Vanderbijlpark gevind.

Hier, in haar eie woorde, skryf Bronwyn oor die gesin se eie pad van genesing – en oor hoe gemeenskappe moet saam staan en mekaar ondersteun.

Bronwyn se volledige brief

Nog ’n Maandagoggend; die gewone roetine om die huishouding van ses gereed te kry vir die dag wat voorlê.

Dié dag neem egter ’n draai wat ons nie kon voorsien nie, ’n dag wat die verlede sou laat terugkom om by ons te spook deur iemand anders se storie.

Nóg ’n jong, onskuldige kind ontvoer, geruk uit haar ma se arms, my hart het tot in my maag gesink soos die herinneringe van dit wat sou kom, my gedagtes oorneem.

Dit was ’n moeilike dag, ja, meer as waarvoor ek voorbereid was. Tog is dit nie my storie nie; dit is almal se storie.

Woensdag, 4 September, op my pad terug huistoe van die werk af, ontvang ek ’n oproep. Nog ‘n verslaggewer, die een is van ’n gerespekteerde mediahuis, ’n bekende een aan ons familie. 

“Bronwyn, dit sal wonderlik wees as jy bereid sal wees om ’n brief aan Amy'Leigh se mamma te skryf, iets inspirerend, om jou pyn te deel, miskien ’n paar woorde met raad vir haar, iets wat jy op die hart het wat jy graag vir haar sou wou sê sou jy die geleentheid gehad het...” 

Dit klink goed, maar kom ons wees eerlik hier, wie baat regtig? Ons morsige verhouding met die media die afgelope 15 maande het my so baie geleer, maar een ding wat ek geleer het is dat ek nie meer hoef minderwaardig of bang te voel nie.

As jy vir my ’n platform gee, kan ek dit mos gebruik, is dit nie? ’n Goeie ou het vir my die vryheid gegee om my boodskap oor te dra op die wyse wat ons probeer om ons lewens te probeer leef, met hoop en liefde en ek sal graag wil aanhou op daardie pad.

So, terwyl ek hier voor my skootrekenaar sit, met my boodskap om te deel, bid ek stil in my hart dat my boodskap gehoor sal word. Ek hoop ook dat die media wat werklik ’n verskil wil maak, wat werklik bewustheid en hoop wil versprei, en ook verandering sal wil sien, miskien die wyse sal aanpas hoe hulle kies om stories soos die te dek en help om genesing te bring vir reeds bloeiende mense.

So hier is dit, ’n brief aan ’n ma .... en ’n pa, grootouers, ’n jong volwassene, inteendeel, as jy nog springlewendig is en in Suid-Afrika bly en bereid is om ’n verskil te maak, is hier ’n brief vir jou.

’n Afgryslike misdaad tref die hoofopskrifte; mense steier onder die skok; mense is woedend en eis antwoorde en geregtigheid.

Tyd beweeg vinnig en voor ons weet, het die woedende stemme stilgeraak, die ondersteuning vir geregtigheid vir die wat die slagoffers van die aaklige misdade geword het, het opgeklaar en die wat agterbly hou aan baklei vir die stemloses en word agtergelaat in die oorweldigende hoeveelheid werk wat voor hulle lê, saak vir saak neem dit ’n klein deeltjie van hul hart met hulle saam.

Verandering begin met my, met jou, elke ma, elke pa, elke man, elke vrou, elke ouderdom, elke kleur, elke inkomstevlak, elke kultuur, elke een van ons. Een mens kan nie alleen ’n verskil maak nie, maar elke persoon kan ’n ander persoon inspireer, en dan nog een, en nog een, en nog een.

Ons is tans ’n nasie in pyn, maar kom ons laat nie toe dat die pyn ons tot op ons knieë dwing nie, kom ons staan en maak die verandering wat ons graag wil sien. Kom ons vind daardie doel en krag in ons pyn. Kom ons vind ’n manier om die ketting van negatiwiteit en vrees te breek, kom ons hou op twyfel en skep ’n visie. Want daar ís ’n visie, daar is hoop en waar daar hoop is, is daar altyd ’n manier vorentoe.

So baie het al getwyfel in die mag wat hulle het om ’n verskil te maak, ongeletterd, ondergekwalifiseerd, swak toegerus ensovoorts. Ek het vir solank dieselfde gevoel, dit het die trauma gevat van my kind wat ontvoer is en vir ’n losprys gyselaar gehou te word voordat ek die krag van binne kon kry om op te staan. En ons staan op deur ander op te hef, ons het so baie maniere om dit te doen, as ons net sou kies om dit te doen.

Ja, ons kind was ontvoer, en ja, dit was traumaties. Ek sal dit wat ons deurgemaak het nooit as niks afmaak nie – maar ek kan ook nie die mees ongelooflike mense en organisasies ignoreer wat in die agtergrond gewerk het asof dit hulle eie kind was wat ontvoer was nie.

Hulle het skaars geëet, hulle het nie geslaap nie, en toe ons kind gered is, het hulle geen dank of erkenning gevra nie. Sommige het eenvoudig stil verdwyn en aanbeweeg om (bystand te gaan lewer) in die volgende hulpkreet. 

Daar is so baie organisasies wat vorendag gekom het en ons almal se hulp nodig het om te help met die verandering (in die land) waarna ons so verlang.

In ons eie verhaal is lede van organisasies soos The Pink Ladies, die GPF, Afriforum (en ’n paar ander wat gevra het om nie genoem te word nie) van die beste mans en vroue wat jy sal teëkom. 

Hulle het nie net hul werk gedoen nie: hulle het by ons gesit, ons hande vasgehou, ons trane afgedroog – hulle het ons vertroos en aangemoedig.

En hoewel dit nie ’n liefdadigheidsorganisasie is nie, kan ek nie hierdie brief skryf sonder om melding te maak van die Suid-Afrikaanse polisie en hul vertakkinge – soos diegene wat met ontvoering werk – nie te noem nie. Hierdie afdelings wat aan ons saak gewerk het was vriendelik, simpatiek, professioneel en ywerig.

Sommige (soos van die organisasies wat ek hier noem) het soos familie geword en stuur steeds boodskappe; hulle vra steeds oor ons welstand.

’n Christenleier in ons land het eenmaal gesê: “Be a thermostat, not a thermometer, because a thermometer reacts to its surroundings, but a thermostat changes the atmosphere it’s surrounded by...”

Kom ons kies die atmosfeer deur te kies om agter ’n organisasie te staan wat baklei vir verandering. Uitdagings is geleenthede om nuwe oplossings te skep – so kies jou uitdaging; staan op en neem standpunt in.

CWA (Community Women’s Action Group), Get Up Woman, Durbanville Kinderhuis, Earthchild Projects, Ethelbert Kinderhuis, NICRO (die Misdaadvoorkoming en Herintegrasie van Oortreders, Pink Ladies, Dare 2 Care – hierdie isnmaar net ’n paar organisasies wat ’n verskil maak.

Omring jouself met vegters en word ’n game changer. Elke vermiste mens; elke ouer wat wag vir terugvoer oor hul kind; elke verkragtingslagoffer; elke slagoffer van misdaad – elkeen van hulle wag vir jou om die oplossing te wees.

Voeg jou stem by, in enige hoedanigheid wat vir jou moontlik is, tot ’n organisasie waaroor jy passievol voel – en jy sal verandering sien. In jouself, en in jou gemeenskap.

Die doel waarvoor jy jou tyd en krag gee, kan môre ’n lewe red. Moet nooit jou pogings as onbelangrik beskou nie. Jy inspireer iemand wat jou aksies dophou en luister na jou woorde.

So wees dus vriendelik, wees positief, wees onwrikbaar en kyk hoe ’n hele land genesing vind. Dit begin by my – en dit begin by jou.