Alicia Lamprecht (25) van Brackenfell in die noordelike voorstede van Kaapstad sê Henco het gisteraand baie gehuil wanneer hulle hom neergesit het.

“Selfs wanneer hy geslaap het en ons hom wou neersit het hy begin huil. Hy het toe in my arms aan die slaap geraak en ek het hom so laat slaap. Henco het gisteraand by ons in die bed geslaap, maar vanoggend is hy weer homself. Hy lag en speel weer,” vertel sy verlig.

En hoewel Alicia gister gesê het sy sal Henco nie weer onder haar oë uitlaat tot dié knaap 18 is nie, sê sy laggend dat sy nie so drasties sal wees nie. 

“Dit sal wel ’n rukkie neem voor ek weer gemaklik sal voel om Henco uit te neem en iewers heen te gaan. Vir nou maak dit my angstig en my bors trek toe, maar ons sal daar kom. Ek is net so dankbaar vir elke mens wat gebid en gehelp soek het. En ek is so dankbaar dat ons vir Henco gekry het.”

alicia
Alicia, Coenie en Henco is weer saam nadat hy gisteroggend in die gesin se Volkswagen Polo was toe dit gesteel is. Foto: Verskaf

Alicia en haar man, Coenie (28), is gister langer as 'n uur deur 'n soort hel wat geen ouer wil ervaar nie. En dis om nie te weet waar jou kind is nie. Dit kom nadat hul sewe maande oue Henco in Observatory in die suidelike voorstede ontvoer is. 

Alicia het aan Huisgenoot vertel sy was Maandagoggend omstreeks 10:15 by haar vriendin besig om ’n pakkie af te laai, toe ’n man in haar Volkswagen Polo inspring en met Henco wegjaag. 

“Ek het begin skree: My kind! My kind! En toe hardloop ek agter die motor aan in die pad af, maar ek het besef ek sal nie die motor kan inhardloop nie. Dit is toe dat ek besef my motor het ’n opsporingstelsel in. Ek het die maatskappy gebel en vir hulle vertel wat gebeur het.”

Sy sê haar vriendin het intussen saam met haar eie baba in die huis ingehardloop en ’n gewapende-reaksie-eenheid gebel. 

Alicia het in die motor van die gewapende-reaksie-eenheid gespring en hulle het haar motor agternagesit, terwyl sy vir Coenie laat weet het wat aangaan. 

Coenie se werk het vir hom gesê om die werk se voertuig te vat en na sy kind te gaan soek, terwyl twee van Coenie se kollegas ook na Henco help soek het. 

alicia
Henco is vandag weer homself en hy is rustig na sy nagmerrie-ervaring gister. Foto: Verskaf

“Ons sien toe die motor het in Mowbray gaan staan. Toe ons by die motor kom, was Henco nie in die motor nie. Ek het net begin gil en met my vuis teen die venster geslaan.”

Alicia vertel sy was glad nie bekommerd oor haar voertuig of besittings toe hulle omstreeks elfuur by die voertuig kom nie. Sy wou net vir Henco hê. 

Die polisie, vriende, vreemdelinge en mense van die kerk het toe na Henco begin soek. 

Hoewel hulle in Mowbray na Henco begin soek het, was Henco toe eintlik in Maitland, net 'n paar kilometer van daar af. 

’n Vrou het gesien hoe ’n baba met babastoel en al uit ’n motor in haar straat in Maitland gegooi is. Sy het die polisie ontbied. 

Coenie is toe saam met die polisie na Maitland waar die paramedici besig was om ’n baba te ondersoek, vertel Alicia. 

alicia
Die paramedici het Henco ondersoek voor hulle vir Coenie toegelaat het om te kyk of dit wel Henco is. Foto: Verskaf

Coenie moes dus wag tot die ondersoek verby is voor hy kon gaan kyk of dit sy kind is. 

En dit was, sê Alicia. 

Coenie het net vir haar laat weet hulle het hom gekry. 

Alicia, Coenie en Henco is toe polisiekantoor toe waar die polisie hulle so rustig as moontlik probeer maak het. Die polisie het selfs vir hulle koeldrank en pasteie gaan koop, terwyl ’n ander polisielid uit sy sak vir Henco babakos gaan koop het. 


alicia
Alicia vertel die ure wat Henco weg was, het vir haar soos dae gevoel. Foto: Verskaf

Alicia sê dit waardeur sy is, wens sy vir niemand toe nie. Nie eers die mens wat haar baba gesteel het nie. 

“Daardie ruk wat Henco weg was, het vir my soos dae gevoel. Dit is die ergste pyn wat jy ooit kan ervaar. Ek het net gebid dat hy oukei moet wees. Ek het vir die Here gevra om Henco te beskerm en oor hom te waak. Nou is Henco darem weer rustig.”


henco
Henco het gisteraand begin huil toe Alicia en Coenie hom neergesit het. Die knaap het gisteraand by sy ouers geslaap en vandag is hy weer oukei. Foto: Verskaf


alicia
Die gesin het so twee weke terug vir 'n fotosessie gegaan. Foto: Verskaf


Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.