Nes Kersdag sal Verna Mulder (27) weer haar jongste se gesiggie dophou wanneer sy op 31 Januarie haar tweede verjaardag vier. Dié jong ma se grootste wens is dat Mienke, nes haar sussie Zamoné, wat twee dae later drie jaar oud word, ook opgewonde sal wees om haar verjaardag te hou.

Maar Verna weet sy sal nie soos haar sussie self die kersies op haar verjaardagkoek kan uitblaas nie. Sy sal waarskynlik nie eens weet sy verjaar nie, want Kersdag het dit van voor af haar en haar man, Ryno (31), se harte gebreek toe Mienke nie soos haar sussies in verwondering haar presente onder die Kersboom kon oopskeur nie.

Terwyl Zamoné en hul sussie, Leané (5), hul poppe in stootwaentjies rondgestoot het, het Mienke net daar in haar eie stootwaentjie gesit. Sy kan steeds nie praat, self eet of sit nie.

Nie sedert sy in Augustus 2017 breinskade opgedoen het nadat sy by haar dagsorg in Mbombela, Mpumalanga, aan haar melk verstik het nie. Serebrale verlamming is eindelik by Mienke, wat ook na die voorval blind gelaat is, gediagnoseer.

Facebook
Mienke in November verlede jaar by die huis ná meer as ’n week in die hospitaal. Foto: Facebook

Die gesin bly deesdae in Benoni, Gauteng. In November het Huisgenoot berig Mienke is vier uur lank in ’n Gautengse hospitaal geopereer om die ligamente in haar bene te verleng. Hoewel die operasie suksesvol was, het dit ander probleme meegebring soos dat haar voetjies skeef trek.

“Ons het gehoop dit sal dit makliker maak om selfs ’n doek te ruil, maar haar beentjies kruis steeds oor mekaar. Dit voel soms as jy een ding fix, loop die volgende ding verkeerd,” sê sy en probeer nie moedeloos klink nie.

Mienke dra ondanks haar jong ouderdom nou ook vier tot vyf jaar-grootte klere en dokters kan steeds nie bepaal hoekom sy by die dag groter word en steeds daagliks stuiptrekkings kry nie.

Maar die hoop beskaam nie. In Februarie neem hulle Mienke Indië toe vir neuroterapie en stamselbehandeling.

“Jy kan nie moed verloor nie. Never say never. Dis nie te sê dat dit nie op vier jaar kan gebeur nie? Dis hoekom ons aanhou met behandeling. Ons sal enigiets doen vir haar om net ook ’n normale lewe te kan hê.”

Baba Mienke snoesig in haar ma, Verna se arms. Foto: Facebook

“Daar ís klein verbeteringe, soos wanneer sy haar koppie self draai, maar dis nie groot nie. Ons word ook hartseer. Ons het dalk te hoë verwagtinge gehad. Dit is menslik.”

Hulle het al amper genoeg geld ingesamel vir die reis Indië toe wat per behandeling nagenoeg R300 000 sal kos.

Hulle gaan dié jaar egter weer hard moet werk om fondse vir die opvolgbesoek in te samel. Hulle wil haar later die jaar vir 'n tweede behandeling  stuur, maar moet dit wanneer hulle daar is, reeds in die geloof vasmaak om weer die onkoste te kan dek.

Mienke se gebeds- en ondersteuningsgroep op Facebook, Please Pray for Mienke, het reeds meer as 60 000 lede.

“Ons het nog nooit moed opgegee nie en terwyl daar behandeling is wat ons vir haar kan doen, sal ons dit doen. Maar die stryd is nie sonder hartseer nie.”