Mienke, nou amper drie jaar oud, is Dinsdag weer in die hospitaal opgeneem weens longontsteking.

Die donkerkop meisietjie kan nie praat, sluk of loop nie. Haar pa, Ryno, sê hulle is moedeloos. 

“Sy is drie weke gelede in die hospitaal opgeneem weens longontsteking. Ons het haar gister neuoroloog toe geneem vir ’n check-up en toe word sy weer opgeneem met longonsteking. Haar spoeg loop in haar longe in; sy doen dus heeltyd longontsteking of brongitis op. Ek en Verna (haar ma) was daar met een kar en ons moes rondhol en klere en melk regkry. Ek probeer werk tussenin – ek is eers gisteraand net voor 22:00 by die huis,” sê hy. 

Mienke was agt maande oud toe sy by haar dagmoeder aan haar melk verstik. Dokters het haar dood verklaar, maar Verna het hulle gesmeek om aan te hou om Mienke se hart te kry om te klop en 15 minute later het hulle daarin geslaag. Mienke is egter gestrem gelaat en kan niks vir haarself doen nie.

’n Paar maande gelede was Mienke vir stamselbehandeling in Indië. Haar ouers hoop dat hulle haar vroeg volgende jaar weer vir dié behandeling kan neem. 

“Ons het klein verbeterings ná die vorige behandeling gesien. Mienke sal huil. Sodra mens haar gunstelingliedjies speel, begin sy dadelik ophou huil. Soos in dadelik. Sy is baie meer bewus van klanke om haar en reageer meer. Sy trek ook haar voetjie weg wanneer ’n mens haar sole kielie. Iets wat sy nie vroeër gedoen het nie,” sê Ryno. 

Ryno en Verna wil in Maart of April 2020 vir Mienke terugneem Indië toe. 

“Dan sal ons weer breinskanderings doen. Ons sal dan eintlik eers kan sien of dit werklik ’n verandering gemaak het. Ek dink dit het, maar dan sal ons kan sien,” sê hy. 

Die Mulders het drie dogters. Hul oudste, Leané, gaan volgende jaar gr. 1 toe. 

“Ons wil nie, soos ons aanvanklik beplan het, al in Februarie gaan nie. Ons wil eers kyk hoe Leanétjie settle.”

Ryno vertel dat dié tyd van die jaar veral moeilik is. “Mienke word groot. Sy is lank . . . maar ja. Dis hoe dit is,” sê Ryno en maak vinnig weer ’n grappie. 

“Man, dis net die tyd van die jaar. Almal is gatvol. Ons doen maar dinge in geloof,” sê hy beslis.