Mienke het erge koors en diarree gehad, en ook wat lyk na epileptiese aanvalle gekry.

Huisgenoot het verlede week berig dit gaan glad nie goed met die kind nie. Maar haar pa, Ryno Mulder, sê dit gaan nou baie beter met sy jongste.

“Die dokters weet nog nie presies wat fout was nie. Dit was nie ’n virus nie, maar hulle gaan nou haar melk verander. Hoewel sy steeds die aanvalle kry, is dit minder en nie so erg nie,” sê hy.

Ryno sê Mienke is baie minder huilerig. “Sy’t selfs vir my so ’n effense glimlag gegee toe sy by die huis kom, so ek weet sy voel beter,” sê hy.

Die Mulder-gesin is positief oor Mienke se toekoms. Hulle hoop om haar binne die volgende twee maande Indië toe te neem vir behandeling. Mienke het breinskade en kan nie self sit of sluk nie. Huisgenoot het ook voorheen berig Mienke se lyf swel so erg dat sy sukkel om haar bene te buig, maar die oorsaak is onbekend.

Dié behandeling sal elke ses maande plaasvind en tot drie jaar duur. “Die tegnologie daar is net baie gevorderd; dis hoekom ons haar soontoe wil neem. Haar neuroloog het dit voorgestel,” sê Ryno.

Dit is ’n intense behandeling wat stamselkweking en -oorplanting behels, asook terapie daarna. Ryno verduidelik dat die stamseloorplanting hoop om gesonde selle te gebruik om haar brein te ‘herprogrameer’. “As die gesonde selle eers daar is, moet ons hulle net leer funksioneer; daarom sluit dit intense terapie in,” sê hy.

“Ons is nog besig om al die informasie te kry oor koste en hoe lank ons daar sal wees, maar is bereid om dit te doen. Mienke se neuroloog wat dit voorgestel het, het voorheen goeie resultate gesien met haar ander pasiënte wat soontoe was vir behandeling,” sê hy.

Hy beklemtoon dit is nie ’n wonderkuur nie, maar is gegrond op deeglike wetenskap. Daar lê steeds harde werk voor. “Ons gaan nie met ’n gesonde kind huis toe kom nie, maar verbetering is verbetering en dis waarop ons hoop,” sê hy.