Mienke, die baba wat in Augustus verlede jaar by ’n dagsorg aan melk verstik het en so byna haar lewe verloor het, het Woensdag in ’n Gautengse hospitaal ’n operasie ondergaan om die ligamente in haar bene te verleng omdat sy in die laaste paar maande gesondheidsprobleme ervaar het weens onderontwikkeling, verduidelik haar pa.

Mienke is serebraal verlam weens die voorval. Sy kan nie praat of self eet nie.

Ryno sê hoewel Mienke se herstelproses ná vandeesweek se operasie effens moeilik gaan wees omdat haar bene nou in gips toegedraai en gespalk is, was die operasie ’n sukses.

“Ek is nou op pad om my pop te gaan haal,” sê ’n emosionele Ryno.

“Ons het dit glad nie verwag nie; ons het gedink die herstelproses gaan baie langer neem. Ek het maar pas in Middelburg (waar hy werk en deeltyds woon) aangekom, maar het nou weer teruggedraai om my kind te gaan haal.”

Mienke saam met haar ma, Verna. Foto: Facebook

Mienke moes die operasie ondergaan omdat haar ligamente nie soos dié van ander kinders gegroei het nie, verduidelik hy.

“Die dokters het aan ons verduidelik dat die ligamente gewoonlik met oefening groei. Dit wil sê wanneer kinders loop, speel en ook strek. Omdat Mienkies nie regtig beweeglik is nie, het haar ligamente nie gegroei nie, en dit het baie gevolge gehad die laaste paar maande.

“Wanneer sy stuiptrekkings kry, bou spanning in haar bene op wanneer sy haar beentjies styftrek, en omdat die ligamente te kort is, moet daardie spanning êrens deur haar lyfie ontsnap. Gewoonlik skiet die spanning dan hoër op in haar lyf en haar heupe haak uit hul potjies uit. Maar dis vir nou eers iets van die verlede, en ons is baie dankbaar,” vertel hy.

Ná Mienke se herstelproses sal sy na verwagting meer buigsaam wees.

Ryno sê hoewel daar nog geen tekens is dat hul jongste dogter ooit weer normaal sal wees nie, bly hulle glo en bid dat sy ten volle herstel.

“Niemand wil ons regtig hoop gee nie; dis ’n  verskriklike groot verantwoordelikheid om iemand hoop te gee en dan realiseer dit moontlik nie.

“Maar ons leef saam met ons dogtertjie – ons sien hoe sy beter en beter word. Ons as ouers kan nie net terugsit en onsself jammer kry omdat hierdie ding met ons gebeur het nie. Ons moet baklei vir ons kind; selfs al is daar ook net die kleinste kans op hoop.

“Daar was nie ’n dag in die laaste stormagtige jaar dat ek nié gedink het ek wil my 32 gesonde jare op aarde prysgee om my kind ’n nuwe lewe te gee nie. Daarom baklei ek elke dag – dis al wat ons het.”