En enkele maande nadat die landboubedryf in Desember hieroor gegons het, het dié liefdesverhaal tydens die inperking sy volgende episode bereik: ’n stil troue op die platteland, en ’n nuwe bondeltjie vreugde wat vir die pasgetroudes op pad is.

Die wydgerespekteerde Dan Kriek, vroeg in die 50 en reeds grys om die slape, was tot einde verlede jaar die president van die landbouorganisasie Agri SA en voorheen ’n lid van pres. Cyril Ramaphosa se adviespaneel oor grondhervorming.

Nadat die gewese landboubaas Dan Kriek by Agri SA
Nadat die gewese landboubaas Dan Kriek by Agri SA bedank én sy huwelik op die rotse geloop het, het hy weer liefde gevind. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hy het sy persoonlike lewe voorheen privaat gehou, maar toe hy in Desember verlede jaar uit die bloute die tuig neerlê, is wyd gegis oor sy verhouding met die blonde Leanne George, nog vroeg in haar 30’s en ’n voormalige kommunikasiebestuurder by Agri SA.

Leanne het self ’n indrukwekkende CV.

Sy was toe ’n mediese student aan die Universiteit Stellenbosch en het reeds ’n meestersgraad in argeologie en ervaring as koerantjoernalis gehad.

Leanne, Dan se nuwevrou, is opgewonde oor die koms
Leanne, Dan se nuwevrou, is opgewonde oor die koms van hul baba. Foto: Twitter/@LeanneGeorge

In daardie stadium was Dan, ’n beesboer van Tweeling in die Vrystaat, die gesig en stem van georganiseerde landbou.

Hy moes met van die grootste vraagstukke in die bedryf worstel – die warm patat van grondonteiening sonder vergoeding, transformasie, die droogte – en is gereeld geraadpleeg en aangehaal oor al wat boere en hul medewerkers slapelose nagte gee.

Die stres van dié nimmereindigende uitdagings het glo te veel geraak vir Dan. Hy het “ná ’n lang en deeglike oorweging besluit om weens gesondheids- en stresverwante redes uit te tree”, het Agri SA in ’n verklaring aangekondig.

“Dit is maar ’n moeilike tyd (vir Dan). Sy gesondheid het houe gevat,” het Pierre Vercueil, wat toe aangewys is as Agri SA se waarnemende hoof, kort daarna aan Rapport gesê. Pierre het bygevoeg: “Dit gaan die laaste ruk nie goed met Dan nie.”

Maar intussen het die tonge geklap oor die verhouding tussen Dan en die veel jonger Leanne. Hy en sy vrou, Hannelie, was besig om te skei ná ’n huwelik van 12 jaar, en al drie het die swye bewaar.

Sedertdien het Dan en Leanne grotendeels uit die kollig verdwyn, hoewel hy steeds gereeld meningstukke oor landboukwessies skryf.

Maar dit blyk die winter en die inperking het vir die twee ’n persoonlike nuwe lente gebring, want hulle is onlangs getroud en verwag binnekort hul eerste baba saam.

Die twee is volgens bronne in die wolke oor hul baba wat op pad is, maar het Huisgenoot se versoeke om ’n onderhoud hoflik van die hand gewys.

“Baie dankie vir die mooi wense,” het Leanne, glo hoogswanger, laat hoor toe Huisgenoot haar genader het. “Ons laaik ons gesinsprivaatheid en dit gaan so bly. Veral nou in die pandemie is dit beter om so min moontlik te social.”

Op sy beurt het Dan laat weet: “Dis ongelukkig vir ons geensins ’n oorweging om ’n onderhoud toe te staan nie.”

Hulle het glo in die Oos-Vrystaat getrou, met sy pragtige bergreekse en uitgestrekte bewerkte landerye. Maar oor die twee se herfstroue is nie ’n woord in die sosiale media gerep nie, nie eens ’n enkele troufoto nie.

Tog het Leanne die nuus self openbaar gemaak, want die eerste openbare aanduiding van ’n nuwe hoofstuk was toe sy haar profielname op Facebook en Instagram na “Leanne George Kriek” en “leannekriek” verander het.

Dit was die eerste openbare aanduiding van ’n nuwe
Dit was die eerste openbare aanduiding van ’n nuwe hoofstuk in Leanne se lewe: Sy het in die sosiale media die van Kriek by haar naam gevoeg. Haar van was eers George. Foto: Instagram

Die blondekopskoonheid het ook in die biografie op haar Twitterprofiel, waar sy haar profielnaam onveranderd gehou het, na haarself as ’n “ma” verwys.

Sy het dit aangebring voor sy verwys na haar professionele prestasies: “Mom / Medical student / Former journalist / MSc Archaeology” staan op haar Twitterblad met sy meer as 6 000 volgelinge.

Op Twitter verwys sy ook nou na haarself as “ma”.
Op Twitter verwys sy ook nou na haarself as “ma”. Foto: Twitter/@LeanneGeorge

Maar of sy verwys na haar rol as stiefma vir Dan se twee kinders uit sy huwelik met Hannelie of na haar eersteling wat op pad is, is selfs vir bronne na aan die paartjie ’n raaisel.

“Ek het nie eens geweet hulle het getrou nie,” sê ’n bron in die landboubedryf wat nou met Dan saamgewerk het oor sy troue met Leanne.

“Hulle het dit waarskynlik doelbewus probeer stil hou.”

Oor hul verhouding – voor en ná Dan se bedanking as Agri SA-hoof – weet die bron nie veel nie. “Alles het in daardie tyd baie vinnig gebeur.”

Dan het destyds, kort voor sy bedanking, “baie druk ervaar”, sê die bron.

“Hy was altyd gestres. Ek weet dit was vir hom ’n baie moeilike tyd. Maar wat presies in sy persoonlike lewe uitgespeel het en hoe dit gebeur het dat ’n verhouding tussen hulle ontwikkel het, weet ek nie.”

‘Ons is steeds net so doodvervelig en gelukkig soos altyd’

Dan is in 2017 tydens Agri SA se jaarlikse kongres as die president van die landbouorganisasie verkies. Hy is later vir nog twee termyne verkies voor sy bedanking in Desember 2019.

Vir baie boere was hy die volmaakte kandidaat vir die pos – ’n geleerde man wat vir ’n meestersgraad studeer het en verskeie sleutelposte in organisasies in die landbousektor beklee het, en self ’n boer in murg en been.

Ook sy tweelingbroer, Albert, het draaie in die landboubedryf gestap. Die plaas op Tweeling waar Dan ’n stoetbeesboerdery met South Devon-beeste bedryf, is al sedert 1934 in sy familie. Hy kén die boere en die uitdagings waardeur die mense in landbou daagliks in die gesig gestaar word.

Leanne en Dan het tussen Oktober en Desember 2017 saamgewerk toe sy drie maande lank Agri SA se kommunikasiebestuurder was.

En al het sy reeds ’n meestersgraad in argeologie aan die Universiteit van die Witwatersrand agter die blad gehad, het sy besluit om medies aan Maties te begin studeer.

’n Bron vertel aan Huisgenoot die twee het die eerste keer in Oktober verlede jaar saam as ’n paartjie in die openbaar verskyn by Agri SA se kongres.

“Niemand weet presies wat daar gebeur het nie,” sê die bron. “Dan se persoonlike lewe is sy eie – en dit het niks met enigiemand te doen nie.

“Ek kan wel sê dat hulle voor die verskyning by die kongres na my mening nie as ’n paartjie in die openbaar verskyn het nie.”

Maar vir albei was hul onlangse herfstroue ’n tweede kans op liefde, want ook Leanne is vroeër jare ná ’n kort huwelik geskei van haar destydse Laeveldse man.

Sy het glo nou by Dan op die plaas aangesluit. “Dit gaan goed met haar en sy is baie gelukkig,” sê ’n ingeligte bron.

“Sy is werklik baie opgewonde oor die baba se koms.” Waarom hulle steeds sku is om openlik oor hul verhouding te praat, is onduidelik.

Soos ’n bron aan Huisgenoot verduidelik, wil die twee waarskynlik vir eers “buite die kollig leef”.

“Dan wil moontlik ná sy moeilike tyd by Agri SA vir eers wegbeweeg van vrae beantwoord – ek sou reken dis waarom hulle hul lewe so privaat hou,” meen die bron.

Maar dit lyk asof hy weer gelukkig is, en dat hy danksy die jong blondine en sy lewe op die plaas weer die krag herwin wat sy uitmergelende werk as baas van die georganiseerde landbou so getap het.

Aan die tydskrif Stockfarm het hy reeds in 2015 vertel sy hart hoort op die plaas en dat boere die struikelblokke van moeilike tye moet leer oorkom: “Ek onthou ek moes in st. 4 ’n opstel skryf oor wat ek wou word. Ek het geen twyfel gehad dat ek ’n boer wou word nie. Ek onthou ek het in die opstel geskryf daar is nie vaste werkure in boer nie, geen vaste salaris nie, en dat ’n mens ernstige terugslae moet kan oorkom.”

En dit het die voormalige landbouleier duidelik weer reggekry. Soos Leanne self aan Huisgenoot sê: “Ons is ongelukkig steeds presies net so doodvervelig en gelukkig soos altyd.”

Die liefde is immers geil op die land en die groen koring skiet op . . .

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe