Die baba glimlag breed in foto’s op haar ouers, Chrisma en Hendrik Hüygen se sosiale media. 

Hier druk sy iets in haar mond om te kou en daar staar sy diep in haar pappa se oë en skaterlag. Mens hoor byna hoe die lag uit die klein lyfie borrel. 

Maar klein Karliene is Maandag dood, en die oorsaak is nog onbekend. 

Chrisma sê aan Huisgenoot dat hulle geensins die kleuterskool die skuld gee nie en wil daarom ook nie hul naam noem nie. 

“Sy het in haar bedjie gelê. Ek het laas vir haar melk gegee tussen drie- en vieruur die oggend. Ek glo regtig dit kon by die huis ook gebeur het,” sê sy. 

Chrisma sê sy het seweuur die oggend vir Karliene, hulle jongste kind, afgelaai en 07:40 die oproep gekry dat haar kind nie asemhaal nie. 

“Die skool het met haar Montana-hospitaal toe gejaag, maar die pediater het vir ons gesê sy was eintlik toe reeds dood.”

Chrisma sê sy gee die skool 110% vir hoe hulle die situasie hanteer het, en hoewel die nadoodse ondersoek hopelik vir die gesin antwoorde gaan gee, het sy ’n vermoede. 

“Karliene het soms haar duim gesuig en dan het sy naar geword. Ek wonder of sy nie toe so verstik het nie. Maar ek dink op die ou end was dit net haar tyd.”

Foto:Facebook
Karliene is Maandagaand oorlede.
Foto:Facebook
Karliene is Maandag oorlede, vermoedelik weens wiegiedood.

Karliene was een van ’n tweeling. Haar boetie of sussie is oorlede toe Chrisma agt weke swanger was. 

“My ma het dit so mooi gestel: Haar tweeling het haar kom haal,” sê sy.

Sy sê hulle geloof dra hulle.

Sion, hulle oudste seuntjie van vier jaar oud, vertel sy sussie is by liewe Jesus, sê Chrisma. Haar man, Hendrik, sukkel egter om dit te verwerk. “Karlienetjie was sy oogappel. Sy was sy copy en paste. Hy sukkel baie.”

Hendrik het dié op sosiale media geskryf: “Karliene my blom, ek kon nie slaap nie, die seer die pyn binne Pappa se hart is seer, jy sou vandag sewe maande oud gewees het, net ’n daggie voor dit word jy skielik weg geneem in ’n oogblink (sic) van Pappa en Mamma af, my blou-oë blom jy het soveel blydskap in die kort tyd vir my gegee, so hoe sê ek vir jou baai, want ek kan nie, ek kan nie aangaan sonder jou nie, my liefling. Pappa het jou oneindig lief, my eerste en enigste dogtertjie. Ek is stukkend. Ek voel soos ’n zombie wat net ronddwaal, (ek) weet nie wat om te doen nie, wat doen ek volgende, elke dag kan nie aan gaan soos dit was nie, want jy is nie meer daar nie. Pappa se lewe was so ’n rush gewees want ek wou die beste vir julle doen, alles vir julle gee, Karliene jy en Sion is my alles. Pappa sal jou nooit vergeet nie, ek belowe jou, jy sal vir altyd en ewig in my hart bly, jy was ’n copy en paste van my en ek weet jy is nou by GOD se voete, en jy kyk nou oor Pappa en Mamma en boetie nie ons meer oor jou nie, jou lewe op aarde was kort maar jy is ’n engel van Jesus nou, en daar my liefie is dit so so mooi. Pappa sal jou eendag weer vashou, en dan sal ek jou nooit laat gaan nie . . .  Lief vir jou my blou-oë blom...”

Chrisma vertel hulle enigste dogtertjie is vernoem na Karlien van Jaarsveld. “Nou elke keer as ons een van haar liedjies hoor gaan ons glimlag en aan Karlienetjie dink.” 

Kleine Karliene word ter ruste gelê op Valentynsdag by die Ewige Lig-kerk in Montana.

Vriende, familie en enige een wat vir Karliene of die gesin gebid het is meer as welkom sê die gesin. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.