“Ek sal haar onthou vir wat sy was: Iemand wat altyd bereid was om ander mense te help, al kon sy nie eens haarself help nie,” sê Manie Steyn oor sy vrou. 

Toe Huisgenoot einde verlede jaar telefonies met Katinka gesels het, het dit al beter met haar gegaan, hoewel sy steeds gesukkel het om te eet. 

Katinka, wat in Desember 2019 byna 90 kg geweeg het, se gewig het in Augustus verlede jaar by ’n skrale 37 kg gaan draai. Nadat ’n maagseer meer as ’n jaar gelede by haar verwyder is, moes sy medikasie neem vir ’n oorblywende seer aan haar maag. Dokters wou nie weer aan haar opereer voor sy minstens 7 kg aangesit het nie.

Sy het in Desember tydens Huisgenoot se laaste gesprek met haar gesê sy het intussen 5 kg aangesit en sal aanhou veg ter wille van Manie en hul twee kinders, Marinda (8) en Manie jr. (5). 

“Dit het beter gegaan met haar, maar alles het toe basies platgeval,” sê Manie. “Benewens die probleme met haar gewig het daar ook vog oor haar longe gekom.”

Katinka en Manie was 20 jaar getroud gewees.
Katinka en Manie was 20 jaar getroud. Foto: Facebook

Katinka was byna die hele Desember in die Eugene Marais-hospitaal in Pretoria, maar het "mooi gevra" om asseblief op 24 Desember ontslaan te word, wat gedoen is, vertel Manie. Op die 30ste Desember het haar toestand egter verswak en is sy weer in die Mediclinic Hoëveld opgeneem.

Manie bly vir ’n oomblik stil en sê dit was haar tyd om te gaan.

Die egpaar sou op 3 Junie vanjaar 21 jaar getroud gewees het. 

Katinka het voorheen vertel haar grootste wens vir Kersfees was om die dag saam met haar gesin te vier. 

“Ek wil nie nog ’n Kersfees in die hospitaal deurbring nie; dit was glad nie lekker nie,” het sy gesê oor Kersdag 2019, wat sy in die Mediclinic deurgebring het. 

Katinka se gesin het Kersdag 2019 met haar in die hospi
Katinka se gesin het Kersdag 2019 saam met haar in die hospitaal deurgebring. Foto: Verskaf

Dié wens is wel vervul, sê Manie. “Sy was baie swak, maar kon haar laaste Kersfees by die huis tussen haar kinders deurbring.” 

Volgens Manie het sy vrou se dood hul twee jong kinders hard getref. “Marinda is baie hartseer en sy verstaan amper, maar Boeta (Manie jr.) vat dit baie erg. Ek sukkel my dood met hom en sal hom vir sielkundige hulp moet vat,” sê Manie. 

Katinka word Donderdagoggend 11 uur vanuit die NG kerk in Secunda begrawe. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe