Die ballonvaarders is in Maart 2017 vooraf gewaarsku dat die gebied om die huis van die papegaaiboere verbode terrein was, maar nogtans het heelwat warmlugballonne steeds naby die eiendomme (in die Zundert-dorpsgebied in die Suid-Nederlandse provinsie, Noord-Brabant) verbygevlieg. 

Die aangeklaagde ballonvaarder - wie se naam nie bekendgemaak is nie - kom van die Nederlandse dorp Schijndeland.

Hy is beveel om sowat R1,24 miljoen aan die pa en seun te betaal na die hof bevind het die voëls dood is weens stres toe die ballon te laag oor hulle eienaar se huis verbygevlieg het. Boonop was die warmlugballon se branders voluit oopgedraai. 

’n Regter het in 2018 verklaar die geraas was die rede waarom die papegaaie aan stres dood is.

Die vergoedingskwessie kon egter nie onmiddellik opgelos word nie. Dit was ingewikkeld omdat verskeie ballonvaarders aan die kompetisie deelgeneem en sommige van hulle ook oor die huis gevlieg het.

Ná nog ’n uitgebreide ondersoek het die plaaslike owerhede beslis die verweerder se ballon het slegs 15 m bo die huis gevlieg, terwyl ander ballonvaarders aansienlik hoër - tussen 70 en 100 m - gevlieg het .

Volgens die pa en seun het hulle twee hiasint-Ara-papegaaie verloor, wat die Internasionale Natuurbewaringsvereniging as kwesbaar bestempel, sowel as ’n geelnek-amazon, ook 'n kwesbaar papegaaisoort.

Volgens die hof was die paar hiasint-ara-papagaaie sowat R760 000 werd en die geelnek-amazon sowat R23 750. Die skuldige moes ook 'n ekstra R266 000 opdok omdat die hiasint-ara-papegaaie vir teling geoormerk was.


Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.