Tydens sy ampstermyn in die Withuis moes Barack Obama heelwat teenslae trotseer, krisisse en katastrofes hanteer, en aan die einde van die tweede termyn het hy heelwat meer grys as swart hare gehad. Maar as president van Amerika het hy nie net heeltyd gewerk nie.

In dié uittreksel uit A Promised Land, Obama se nuwe topverkoperboek, vertel hy van die ander sy van sy presidentskap: hoe dit sy privaat lewe, sy kinders en geliefde vrou geraak het. Basketbal afrig, snoeker speel en saam met die kinders lag het alles sy tyd as president gekenmerk. En hy het ook ophou rook.

Foto: Gallo Images/Getty Images
In sy boek A Promised Land onthul die voormalige Amerikaanse president Barack Obama die geweldige tol wat sy rol as president op hom en sy gesin geëis het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ek is deur die vooruitsig in die gesig gestaar om vir my dogter te jok of ’n slegte voorbeeld te stel. Toe bel ek die Withuis se dokter en vra hy moet vir my ’n boks nikotienkougom stuur. Dit het die probleem opgelos, want ek het nog nie weer aan ’n sigaret geraak nie.

Maar ek het toe een verslawing met ’n ander vervang: Dwarsdeur die res van my ampstermyn het ek onophoudelik kougom gekou. Die leë pakkies het gedurig uit my sakke geval en ’n spoor blink, vierkantige broodkrummels agtergelaat vir ander om op die vloer, onder my lessenaar of tussen rusbankkussings aan te tref.

Basketbal het ook betroubare ontvlugting gebied. Wanneer my skedule dit toegelaat het, het Reggie Love (Obama se persoonlike assistent) ’n wedstryd oor ’n naweek gereël en van sy pelle bymekaargekry en vir ons die binnemuurse baan by die Fort McNair-weermagbasis, die FBI-hoofkwartier of die departement van binnelandse sake bespreek.

Die spel was intens – met ’n paar uitsonderings was die gereelde deelnemers meestal voormalige eersteligakollegespelers in hul laat 20’s of vroeë 30’s. Ek hou nie daarvan om dit te erken nie, maar ek was gewoonlik een van die swakker spelers op die baan.

Daardie wedstryde het vir my kontinuïteit verteenwoordig, ’n skakel met my ou self. Wanneer my span Reggie s’n geklop het, het ek gesorg dat hy heelweek daarvan hoor.

Maar die genot wat ek uit basketbal geput het, was niks vergeleke met die opwinding – en stres – daarvan om Sasha se gr. 4-ligaspan te ondersteun nie. Hulle het hulself die Vipers genoem (welgedaan aan wie ook al die naam uitdink het) en ek en Michelle het elke Saterdagoggend in die speelseisoen na ’n klein openbare sportterrein in Maryland gery.

Daar het ons saam met die ander gesinne op die oop paviljoen gesit en wild gejuig wanneer ’n meisie net naby daaraan kom om ’n doel aan te teken. Ons het vir Sasha geskree om te onthou om die regte posisie in te neem en te verdedig en ons bes gedoen om nie “daardie ouers” te wees nie – jy weet: die soort wat op die skeidsregter skree.

Maisy Biden, Joe se kleindogter en een van Sasha se beste vriendinne, was die ster van die span, maar vir die meeste meisies was dit hul eerste ervaring van georganiseerde basketbal. Blykbaar was dit ook die geval met hul afrigters, ’n vriendelike jong paartjie wat by Sidwell onderwys gegee en self erken het hulle beskou basketbal nie as hul vernaamste sport nie.

Nadat ons ’n paar oulike maar chaotiese eerste wedstryde gesien het, het ek en Reggie aangebied om ’n paar informele Sondagmiddagoefensessies vir die span te hou. Ons het aan die basiese dinge gewerk (dribbel, aangee, sorg dat jou skoenveters vas is voor jy op die baan draf). Al kon Reggie tydens driloefeninge ietwat intens raak (“Paige, moenie dat Isabel so met jou mors nie!”), was dit skynbaar vir die meisies net soveel pret as vir ons.

Toe die Vipers die ligakampioenskapstoernooi in ’n naelbytwedstryd van 18-16 wen, het ek en Reggie dit gevier asof dit die premierliga-eindstryd was. Ek veronderstel elke ouer koester sulke oomblikke, wanneer die wêreld stadiger beweeg, jou strewes na jou agterkop verdring word, en al wat saak maak, is dat jy ten volle teenwoordig is om die wonderwerk van jou kind se grootword te beleef.

Omdat ek in al die jare van verkiesingsveldtogte en wetgewersittings soveel tyd saam met my dogters misgeloop het, het ek die normale pappadinge soveel meer waardeer.

Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Vreugdevolle oomblik saam met sy vrou, Michelle, in 2013 nadat Barack vir sy tweede termyn as president ingehuldig is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar natuurlik was niks omtrent ons lewens meer heeltemal normaal nie, en ek is die volgende jaar daaraan herinner toe, in ware Washington-styl, ’n paar ouers van ’n mededingende Sidwell-span by die Vipers se afrigters, en vermoedelik by die skool, begin kla het omdat ek en Reggie nie ook afrigting vir húl kinders aanbied nie.

Ons het verduidelik daar is niks besonders aan ons oefensessies nie – dat dit net ’n verskoning vir my is om ekstra tyd saam met Sasha deur te bring – en het aangebied om ander ouers hul eie oefensessies te help reël.

Maar toe dit duidelik word dat die klagtes eintlik niks met basketbal te doen het nie (“Hulle dink seker om jou as ’n afrigter te hê is iets wat hulle in ’n Harvard-aansoek kan noem,” het Reggie laat hoor) en dat die Vipers se afrigters onder druk voel, het ek besluit dit sal vir al die betrokkenes makliker wees as ek net weer ’n aanhanger is.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Ondanks ’n paar frustrerende voorvalle soos daardie was daar geen twyfel dat ons danksy ons status as die presidentsgesin hope voordele geniet het nie. Museums in die stad het ons toegelaat om hulle nauurs te besoek sodat ons groot groepe kon vermy.

Ek en Marvin Nicholson (’n Withuis-assistent) lag steeds oor die keer toe hy besluit het om homself strategies voor ’n groot en baie gedetailleerde portret van ’n kaal man by die Corcoran-galery te plant uit vrees dat die meisies dit sou sien.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Barack en Michelle by hul dogters, Malia (links) en Sasha. Die gesinsfoto is in die Oval Office geneem. Foto: Gallo Images/Getty Images

Omdat die Motion Picture Association of America vir ons DVD’s van nuwe uitreikings gestuur het, is die Withuis se fliekteater gereeld gebruik, hoewel Michelle se smaak en myne dikwels verskil: Sy verkies romkoms, terwyl my gunstelingflieks volgens haar gewoonlik behels het dat “aaklige dinge met mense gebeur en hulle dan doodgaan”.

Die ongelooflike Withuispersoneel het dit ook vir ons maklik gemaak om gaste te onthaal. Ons hoef toe nie meer soos die meeste werkende ouers van jong kinders ons daaroor te bekommer het om ná ’n lang week op kantoor die energie bymekaar te skraap om te gaan inkopies doen, kook of ’n huis reg te ruk wat lyk asof ’n tornado dit getref het nie.

Benewens naweekkuiers saam met ons gewone vriendekring het ons elke paar maande kunstenaars, skrywers, geleerdes, sakeleiers en ander wie se paaie ons s’n gekruis het en wat ons beter wou leer ken, vir aandete genooi.

Die etes het gewoonlik tot lank ná middernag aangehou, vol gesprekke wat ons geïnspireer het (Toni Morrison, tegelyk vorstelik én ondeund, wat haar vriendskap met James Baldwin beskryf), wat ons iets geleer het (die medevoorsitter van my adviesraad vir die wetenskap en tegnologie, dr. Eric Lander, wat die jongste deurbrake in genetiese geneeskunde beskryf), ons bekoor het (Meryl Streep wat oorleun om saggies in Chinees die lirieke van ’n lied oor wolke voor te dra wat sy jare gelede vir ’n rol geleer het), en ons net oor die algemeen beter oor die mensdom se vooruitsigte laat voel het.

Een van Michelle se doelwitte as presidentsvrou was om die Withuis meer verwelkomend te maak – ’n “huis vir die mense” waarin alle besoekers sou voel hulle word verteenwoordig, eerder as ’n afgesonderde, eksklusiewe vesting van politieke mag.

In samewerking met die Withuis se maatskaplike kantoor het sy meer toere vir plaaslike skoolgroepe gereël. Sy het die South Lawn oopgestel vir Halloween en fliekaande vir militêre gesinne gehou. As deel van daardie poging het haar kantoor gereël dat ons ’n gereelde Amerikaanse reeks musiekkonserte in samewerking met openbare televisie aanbied.

Dan het van die land se voorste sangers – bekende name soos Stevie Wonder, Jennifer Lopez en Justin Timberlake, maar ook nuwelinge soos Leon Bridges en lewende legendes soos B.B. King – vir ’n deel van die dag musiekslypskole vir jeugdiges van die omgewing aangebied. Daarna het hulle voor ’n paar honderd gaste op ’n verhoog in die East Room, of soms die South Lawn, opgetree.

Saam met die Gershwin Prize-konsert, wat die Withuis elke jaar hou om ’n voorste komponis of sanger te vereer, het die konsertreeks vir my gesin drie of vier keer per jaar sitplekke in die voorste ry by ’n sterbelaaide musiekskouspel gebied. Die musikante het gewoonlik ’n dag voor hul optrede gerepeteer, en as ek dan toevallig op die boonste verdieping was terwyl hulle oefen, kon ek die klank van tromme en elektriese en baskitare deur die Treaty Room se vloer hoor weergalm.

Soms het ek by die agterste trap afgeglip tot in die East Room en heel agter gaan staan om nie aandag te trek nie. Dan het ek net gekyk hoe die musikante te werk gaan: ’n duet waarvoor hulle hul harmonieë uitwerk, ’n hoofsanger wat ’n musiekverwerking saam met die inwonende orkes aanpas.

Ek het my verwonder oor hoe elkeen sy instrument bemeester en hul ruimhartigheid teenoor mekaar terwyl liggaam, verstand en gees ineenvloei. Ek het ’n stekie jaloesie ervaar oor die suiwer, duidelike vreugde wat hulle uit hul werk put, in skrille kontras met die politieke pad wat ek gekies het.

Wat die konserte self betref, was dit absoluut elektries. Ek kan steeds Bob Dylan voor my sien, met net ’n baskitaarspeler, ’n klavierspeler en sy kitaar, wat “The Times They Are a-Changin’ ” liefderik verwerk. Toe hy klaar was, het hy van die verhoog afgestap, met my bladgeskud, effens gegrinnik, voor my en Michelle ’n buiging gemaak, en sonder ’n woord verdwyn.

Ek onthou ’n jong dramaturg van Puerto Ricaanse afkoms genaamd Lin-Manuel Miranda wat vir ons tydens ’n fotosessie voor ’n aand van digkuns en musiek gesê het hy wil graag die eerste liedjie sing uit wat hopelik ’n hip-hop-musiekspel sou word oor die lewe van Amerika se eerste minister van finansies, Alexander Hamilton. Ons was hoflik bemoedigend maar heimlik skepties, tot hy op die verhoog klim en lostrek met ritmes wat die gehoor amper waansinnig van opwinding gemaak het.

Eenkeer het Paul McCartney vir my vrou die liedjie “Michelle” gesing. Sy het verleë gelag terwyl die res van die gehoor hande geklap het. Ek het gewonder wat haar ouers in 1965 sou dink as iemand aan hulle deur in Chicago klop en sê die Beatle wat dit geskryf het, sou dit eendag vir hul dogter vanaf ’n verhoog in die Withuis sing.

Michelle was net so mal oor daardie konserte soos ek. Maar ek vermoed sy sou verkies het om dit as ’n gas eerder as gasvrou by te woon. Op die oppervlak het sy oorgenoeg rede gehad om goed te voel oor hoe sy by ons nuwe lewe aangepas het: Ons dogters het gelukkig gelyk, sy het vinnig ’n nuwe vriendekring opgebou met talle van die ma’s van Malia en Sasha se klasmaats, en sy het ’n bietjie meer buigsaamheid as ek gehad om die Withuiskompleks ongesiens te verlaat.

Haar projek om vetsug onder kinders te verminder – genaamd Let’s Move – is goed ontvang en het reeds betekenisvolle resultate getoon. Saam met Jill Biden sou sy binnekort ’n nuwe projek genaamd Joining Forces bekendstel om militêre gesinne te ondersteun.

Wanneer sy ook al in die openbaar verskyn het – of dit ’n besoek aan ’n klaskamer in ’n staatskool of ’n goedige gespot met die aanbieder van ’n laataand-TV-program was – het mense skynbaar haar opregtheid en warmte, haar glimlag en spitsvondigheid onweerstaanbaar gevind. Jy kan trouens met reg sê dat sy, anders as ek, vandat ons in Washington aangekom het geen voet verkeerd gesit het nie.

En tog, ondanks Michelle se sukses en gewildheid, het ek voortdurend spanning by haar aangevoel. Dit was subtiel maar konstant, soos die vae gebrom van ’n groot ma- sjien wat iewers versteek is.

Ingeperk tussen die Withuis se mure soos ons was, was dit asof al haar vorige bronne van frustrasie meer gekonsentreerd en duideliker geword het – of dit was omdat ek dag en nag gewerk het, of die manier waarop die politiek ons gesin voortdurend aan oordeel en aanvalle blootgestel het, of die geneigdheid selfs van vriende en familielede om haar rol as minder belangrik te beskou.

Bowenal het die Withuis haar daagliks herinner dat basiese aspekte van haar lewe nie meer heeltemal binne haar beheer was nie. Saam met wie ons tyd deurgebring het, waar ons gaan vakansie hou het, waar ons ná die 2012-verkiesing sou woon, selfs die veiligheid van haar gesin – dit alles het op ’n manier afgehang van hoe goed ek my werk doen, of van wat die personeel in die West Wing gedoen of nie gedoen het nie, of van die giere van kiesers, of die media, of van die een of ander onverwagte gebeurtenis aan die ander kant van die planeet.

Niks was meer bestendig nie. Nie eens naastenby nie. En daarom, bewustelik of nie, het ’n deel van haar op haar hoede gebly, watter klein triomfe en vreugdes ’n dag of week of maand ook al bring. Sy het bly wag en uitkyk vir die volgende draai van die wiel en haar vir ’n ramp gestaal. Michelle het selde sulke gevoelens reguit met my gedeel. Sy het geweet watter las ek dra en het geen sin daarin gesien om daartoe by te dra nie.

Minstens vir die afsienbare toekoms sou ek nie veel kon doen om ons omstandighede te verander nie. En dalk het sy ophou praat omdat sy geweet het ek sou haar vrese probeer wegredeneer of haar op ’n onvanpaste manier probeer paai – of daarop sinspeel dat sy net haar houding moet verander. As ek oukei was, moes sy ook wees.

Daar was tye wanneer dit werklik piekfyn gevoel het – aande wanneer ons twee onder ’n kombers ’n televisieprogram gekyk het, Sondagmiddae wanneer ons saam met die dogters en ons hond, Bo, op die mat gesit en die hele eerste verdieping van die huis met ’n gelag gevul het.

Maar meer dikwels het Michelle ná aandete na haar studeerkamer gegaan, terwyl ek met die lang gang af na die Treaty Room gestap het. Teen die tyd dat ek klaar gewerk was, het sy reeds geslaap. Ek sou my nagklere aantrek, my tande borsel en versigtig onder die komberse inklim sodat ek haar nie wakker maak nie.

En hoewel ek selde in die Withuis gesukkel het om aan die slaap te raak – ek was so moeg dat ek binne vyf minute nadat my kop die kussing getref het, geslaap het – was daar nagte toe ek in die donker langs Michelle lê en dink het aan die dae toe alles tussen ons ligter gevoel het, toe haar glimlag meer konstant was en ons liefde nie so swaar belaai was nie.

En my hart het skielik ineengekrimp by die gedagte dat daardie dae dalk nie sou terugkeer nie. Dit laat my nou wonder, met die wysheid van nabetragting, of Michelle se reaksie op al die veranderings eerliker was, of ek met my oënskynlike kalmte terwyl die krisisse opstapel, my aandrang dat alles op die ou end sou uitwerk, eintlik net myself beskerm het – en tot haar eensaamheid bygedra het.

Ek weet ek het in hierdie tyd ’n herhalende droom begin kry. Daarin bevind ek myself in die strate van ’n naamlose stad, ’n buurt met bome, winkelvensters, ligte verkeer. Die dag is aangenaam en warm, met ’n sagte briesie, en mense doen inkopies of stap met honde of kom van die werk af.

In een weergawe ry ek met ’n fiets, maar meestal is ek te voet en stap sonder enige besondere gedagtes rond wanneer ek skielik besef niemand herken my nie. My lyfwagte is weg. Daar is nêrens waar ek moet wees nie. My keuses het geen nagevolge nie. Ek dwaal tot by ’n hoekkafee en koop ’n bottel water of ystee, gesels oor ditjies en datjies met die persoon agter die toonbank. Ek gaan daar naby op ’n bankie sit, maak my koeldrank oop, vat ’n sluk.

En kyk net hoe die wêreld verbygaan. Dit voel of ek die lotery gewen het.

Foto's: Gallo Images/Getty Images © Barack Obama 2020.
'n Geredigeerde uittreksel uit 'A promised land deur Barack Obama (Viking)
Die prys was korrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing. R519 by Takealot.com.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe