Snags het die pyn in sy gesig die tiener uit die slaap gehou. En wanneer hy soggens moeg opstaan en na homself in die spieël kyk, het hy gewonder hoekom hy so gestraf word. 

Die talle kere dat ’n mooi meisie in die skool se gange verby Duan Strubel (15) geloop het, onthou hy as pure foltering; hy het telkens sy oë na benede geslaan en gewens die aarde sluk hom in.

Vir enige tiener is die alewige wroeging oor puisies ’n alledaagse werklikheid, maar Duan, van Barberton in Mpumalanga, sukkel nie met gewone aknee nie. Die seldsame toestand wat hy het, het sy lewe ondraaglik gemaak. 

Dit was in ’n stadium so erg, hy het dit selfs begin oorweeg om sy eie lewe te neem. 

aknee,tienerseun
Die aknee voor hy met die behandeling begin het. Foto: Verskaf

Vandag kan Duan ’n mens vir die eerste keer in maande weer met self­vertroue in die oë kyk, al dra hy nog die letsels van die seldsame sistiese aknee wat hy in Desember verlede jaar opgedoen het toe hy saam met sy gesin van Lydenburg na Barberton getrek het.

Hy het eindelik weer hoop, en sy vel lyk al baie beter as voorheen. Ons kuier saam met hom en sy ma, Natasha (39), by ’n restaurant op die dorp waar die gesin deesdae bly. Pa John (49) werk vir ’n sekuriteitsfirma.

Voor die Strubels getrek het, het Duan soms een of twee moedswillige puisies gehad, maar nooit ernstige velprobleme ontwikkel nie. Maar binne ’n maand nadat die gesin getrek het, was Duan se gesig oortrek met aknee. 

“Ons het gedink dit is dalk die verandering in die klimaat – Barberton is baie warmer as Lydenburg,” vertel Natasha, ’n administratiewe klerk. 

'Ek het vir my ma-hulle se onthalwe skaam gekry'

“Maar dit het net erger en erger geraak,” voeg sy by.Toe hy in Januarie vanjaar in gr. 10 aan die Hoërskool Barberton begin, het die jo­­viale, ekstroverte Duan ondanks sy voorkoms maklik nuwe vriende gemaak. 

Maar nie lank daarna nie het sy vel­toestand so vererger dat bloed en ’n geel afskeiding op onverwagte tye van sy gesig gestroom het. “Ek het ál die velprodukte op die mark probeer; niks het gewerk nie,” vertel Duan. 

Dit het sy selfvertroue geknou en sy persoonlikheid het soos handomkeer verander, vertel sy ma. Hy het in sy dop gekruip en geweier om saam met familie en vriende uit te gaan. 

“Ek het vir my ma-hulle se onthalwe skaam gekry,” sê Duan nou. Natasha beaam dit. “Hy het in ’n ­sta­dium vir my gesê hy wil nie saam met ons gaan uiteet nie, want hy wil ons nie in die skande steek nie.

siek,vel,toestand,aknee
Duan tydens die chirurgiese prosedure. Foto: Verskaf

“Duan het ook minder saam met sy vriende uitgegaan en meer tyd saam met ons by die huis deurgebring. Dit het my hart gebreek om te sien hoe my tienerseun nie sy lewe voluit kan lewe nie.”

Duan was ’n doodgewone tienerseun voor die aknee als verander het, maar hy kon naderhand nie eens meer die aktiwiteite doen waarvoor hy lief is nie. 

“Ek is baie mal oor swem,” sê hy. “Krieket en rugby ook, maar veral swem.” Maar toe sy veltoestand sy voorkoms drasties verander en die aknee ook na sy skouers en rug versprei, het ander ­tieners soms by die skool se swembad uitgeklim wanneer hy in die water klim.

“Hulle het gedink hy het die een of ander aansteeklike siekte,” verduidelik Natasha. “Hy het later ophou swem omdat die kinders hom so behandel het, en hy kán swem, hoor.” 

Natasha was raadop, en die spanning oor sy toestand het op konflik afgestuur.

“Ek en Duan het baie baklei,” sê ­Natasha. “Ek wil soos enige ma net my kind help, en Duan is soos enige tiener hardkoppig. “Sy toestand het hom emosioneel en depressief gemaak, en ek het hulpeloos gevoel.” 

En toe kom die keerpunt – ’n afspraak by ’n dermatoloog in Maart vanjaar.

aknee,liefde,tienerseun
Natasha het ­hulpeloos gevoel ­terwyl haar seun so swaargekry het. Foto: Fani Mahuntsi

Natasha vertel die gebeure wat tot dié besoek gelei het, was ’n bestiering.

Dit het eintlik al begin toe sy en Duan in Desember verlede jaar in die plaaslike winkelsentrum gaan inkopies doen het. “Ek het in die apteek staan en wag vir Duan se velprodukte toe ’n vreemde vrou my op die skouer tik. Sy het my gevra wat fout is met Duan en of hy brandwonde opgedoen het. 

“Toe sy hoor dit is aknee, het sy my na dr. Edward Berry by die Busamed-Laeveldhospitaal in Mbombela verwys.”

Natasha was huiwerig om ’n afspraak by dié dermatoloog te maak omdat sy bekommerd was oor die koste van ’n besoek aan ’n spesialisarts, maar toe sy die dokter se sekretaresse die week daarna bel, het sy verneem iemand het reeds vir Duan ’n afspraak gemaak. 

“Dit was die vrou wat ek in die apteek ontmoet het – sy was met die dokter bevriend,” vertel Natasha. 

Duan se eerste afspraak by die dermatoloog was in Maart. 

Omdat dit ’n kosmetiese prosedure is, sou ons mediese skema nie daarvoor betaal het nie – dit sou ons amper R25 000 gekos het,

“Hy was stomgeslaan deur Duan se toestand en het gesê dit is die ergste geval van sistiese aknee wat hy al teë­gekom het,” vertel Natasha. 

Edward het eers vier opeenvolgende kursusse antibiotika asook kortisoon voorgeskryf – en dit het die eerste verligting begin bring. In Junie het Duan ook chirurgie ondergaan om die ergste aknee aan sy gesig te verwyder. 

“Omdat dit ’n kosmetiese prosedure is, sou ons mediese skema nie daarvoor betaal het nie – dit sou ons amper R25 000 gekos het,” vertel Natasha.

Maar drie dae voor Duan se operasie het dr. Edward laat weet hy sal die pro­sedure gratis doen. “Dit was wonderlik van hom. Hy het gesê hy wil graag help; hy wil ’n verskil maak.” 

Dis nou byna ’n maand ná die prosedure en dit lyk nie meer asof die tiener in pyn is nie. Die groot en bloeiende karbonkels aan sy gesig is iets van die verlede, en sy vel begin geleidelik herstel. 

Ek hoef nie meer bekommerd te wees dat my aknee my in die verleentheid gaan stel nie.

Duan moet die volgende drie maande voorgeskrewe medikasie vir sy aknee gebruik, en sal Edward dan weer vir sy opvolgondersoek besoek.

“Dit is moontlik dat Duan plastiese chirurgie gaan benodig om van die letsels ontslae te raak,” vertel Natasha. 

Tog sê Duan moedig: “Ek hoef nie meer bekommerd te wees dat my aknee my in die verleentheid gaan stel nie.” 

Hy beklemtoon sy skoolvriende het hom nooit verstoot nie.“Ek is gelukkig om vriende op skool te hê wat my aanvaar het vir wie ek is en my die hele tyd ondersteun het,” vertel hy. 

Hy hoop sy ervaring sal ander tieners help. “Ek sou nooit gedink het daar is hulp nie. Ek het gedink ek gaan die res van my lewe so lyk,” sê hy.

“As ek enigiemand in my posisie raad kan gee, sal dit wees om vas te byt. Moenie moed opgee nie. Daar ís hulp.”

Watter behandeling help?

Daar is drie hoofsoorte aknee, sê dr. Suretha Kannenberg, ’n dermatoloog van Kaapstad.

“Komedogene aknee bestaan uit witkoppies en swartkoppies. Inflammatoriese aknee is witkoppies, swartkoppies en rooi-en-geel puisies. 

“Nodulosistiese aknee is inflammatoriese aknee waar groot knoppe en siste onder die vel vorm,” verduidelik sy. 

Duan het laasgenoemde, die skaarsste soort.
Suretha sê die eerste twee soorte aknee kan dikwels met goeie velprodukte behandel word, maar die soort sistiese aknee wat by Duan gediagnoseer is, verg kortisoonbehandeling om die inflammasie op te los. Dit sal ook keer dat littekens later vorm.

Haar raad aan ander? “Neem kinders vroeër eerder as later vir akneebehandeling. Dit is baie makliker om aknee in ’n vroeë stadium te takel as om littekens en ’n gekrenkte selfbeeld te behandel.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.