Sy was voor Neil Armstrong op die maan, het in 36 flieks gespeel en haar ses keer as president verkiesbaar gestel. Nou is sy ’n pensioentrekker, al lyk sy 21.

Barbie het ’n wêreldwye ikoon geword sedert haar debuut in 1959. Sy het talle veranderings ondergaan en ’n multimiljarddollar-sakeryk geword. Om haar 60ste verjaardag te vier, kyk ons terug op die lewe van die pop wat die speelgoedbedryf verander het.

Die pop wat meisies moet laat droom
Barbie was die geesteskind van Ruth Handler, vrou
Barbie was die geesteskind van Ruth Handler, vrou van Elliot Handler, die Amerikaanse medestigter van die speelgoedmaatskappy Mattel­. Foto: Gallo Images/Getty Images

Barbie was die geesteskind van Ruth Handler, vrou van Elliot Handler, die Amerikaanse medestigter van die speelgoedmaatskappy Mattel­. Sy het in die 1940’s gekyk hoe haar dogter, Barbara, met papierpoppe speel en gesien die kind het dikwels vir die poppe grootmensrolle gegee.

Tot in daardie stadium was die meeste ander poppe op die mark babapoppe.

“Ruth se seun kon droom van ruimtevaarder, cowboy, vlieënier of chirurg word,” sê Nathan Baynard, direkteur van handelsmerkbemarking van Barbie.

Die pop wat Ruth in gedagte gehad het, sou meisies leer hulle het keuses, sê Nathan.

Haar man was nie oortuig nie, maar dit het Ruth nie afgeskrik nie. In 1956 het sy die pop Lilli in Europa ontdek. Sy het drie Lilli-­poppe gekoop en haar met behulp van Mattel se speelgoedontwerper herskep.

Die eerste Barbie­pop het haar buiging op 9 Maart 1959 op ’n speelgoedskou in New York gemaak. Sy was ’n treffer; meer as 350 000 ?Barbies is in die eerste jaar verkoop.

Die regte Barbie & Ken
Die 'oorspronklike' Ken en Barbie: Kenneth en Barb
Die 'oorspronklike' Ken en Barbie: Kenneth en Barbara Handler. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hulle is al 59 jaar aan en af saam, maar in die regte lewe was die plastiekpaar se naamge­note eintlik broer en suster, genoem na Ruth en Elliot se kinders, Barbara en Kenneth.

Hoewel Barbara (nou 77) die inspirasie vir die pop was, het sy gemengde gevoelens daaroor.

In 1989 het sy op Barbie se 30ste verjaardagpartytjie gesê: “ ’n Groot deel van my is trots my ouers het die pop uitgevind. Ek wens net ek was nie daarmee verbind nie.”

Barbara, wat geskei is, bestuur ’n suksesvolle bed-en-badkamerwinkel en het twee kinders. Die een speelding wat hulle nooit besit het nie, is ’n Barbie. Haar dogter, Cheryl (26), sê haar ma wou nie met die pop verbind word nie.

“Ma wil nie spesiaal wees nie. Sy wil soos almal wees,” sê sy.

Kenneth, wat ’n eiendomsbelegger geword en in 1994 aan ’n breingewas gesterf het, was ook nie ’n aanhanger nie. Barbie het hom ’n miljoenêr gemaak, het hy erken, maar sy het die verkeerde waardes gehad.

“Sy moet oor meer as stranduitstappies omgee. Sy moet omgee oor armoede en lyding in die wêreld. Ek wens sy kon in ’n sopkombuis werk, maar dan sou mense haar nie gekoop het nie.”

’n Werkende skoonheid

Barbie het nou wel nie in ’n sopkombuis gewerk nie, maar wat werk betref, het sy al amper alles gedoen (weliswaar altyd in ’n aanvallige uitrusting).

Sy het in 1965 ’n ruimtevaarder geword, vier jaar voor die eerste maanlanding, sy was in 1985 ’n uitvoerende hoof in ’n pienk pakkie, in 1989 ’n vlieënier en in 1992 ’n presidensiële kandidaat. Sy het haarself ses keer verkiesbaar gestel.

Barbie het nou wel nie in ’n sopkombuis gewerk nie
Barbie het nou wel nie in ’n sopkombuis gewerk nie, maar wat werk betref, het sy al amper alles gedoen. Foto saamgestel (Instagram @barbiestyle)
Barbie het haarself al ses keer as presidensiële k
Barbie het haarself al ses keer as presidensiële kandidaat verkiesbaar gestel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Barbie is ook al by omstredenheid betrek, en nie net oor haar onmoontlik haalbare uurglaslyfie nie.

  • In 1963 is ’n tiener-Barbie wat kinders opgepas het, verkoop met ’n dieetboek waarop gestaan het: “Don’t eat”.
  • En in 1992 is Teen Talk Barbie geprogrammeer met die woorde: “Wiskunde is moeilik”, wat tot groot kritiek teen Mattel gelei het omdat dit meisies glo sou leer dis belangriker om maer as slim te wees.

Richard Dickson, hoofbedryfsbeampte van Mattel, sê Barbie het “altyd vrouebemag­tiging verteenwoordig. Dit gaan oor keuses. Barbie het loopbane gehad in ’n tyd toe vroue beperk was tot huisvrou wees. Ironies genoeg is ons kritici juis die mense wat ons behoort te aanvaar.”

Haar omstrede figure

Barbara se ma wou dalk hê haar dogter moes ’n positiewe rolmodel hê, maar Barbie se lyf was allesbehalwe realisties. En daardie parmantige borste en piepklein middeltjie het van die begin af ongeloof en woede ontlok.

Dit sal onmoontlik wees vir ’n vrou om met so ’n figuur staande te bly, wat nog te sê loop, het kritici gekap.

Mattel het oor die jare geleidelik veranderings aan haar lyf aangebring, maar veral in die afgelope dekade aanpassings gemaak.

In 2016 is drie nuwe liggaamsoorte bekendgestel – fyngebou, lank en een met kurwes – asook sewe velskakerings en 22 verskillende oogkleure.

Curvy Barbie was juis toe op die voorblad van die tydskrif Time met die hoof­opskrif: “Now can we stop talking about my body?

Haar mense

Ken

Barbie het in 1961 haar hart op Ken verloor. Sy het hom in 2004 vir die Australiese branderplankryer Blaine gelos. Nadat Ken ’n mooimaaksessie ondergaan het, het hulle hul romanse op die stel van die 2010-fliek Toy Story 3 hervat.

Skipper

Barbie se kleinsus Skipper is in 1964 as ’n nege­j
Barbie se kleinsus Skipper is in 1964 as ’n nege­jarige meisie bekendgestel.

Barbie se kleinsus is in 1964 as ’n nege­jarige meisie bekendgestel. Sy is oor die jare ver­skeie kere verander en word gewoonlik as ’n tiener uitgebeeld. Sy speel nou teenoor haar ousus in Barbie: Dreamhouse Adventures op Netflix.

Midge

Midge is Barbie se oorspronklike beste pel en sy i
Midge is Barbie se oorspronklike beste pel en sy is in 1963 bekendgestel.

Barbie se oorspronklike beste pel is in 1963 bekendgestel. Sy het in 1991 met Ken se beste vriend, Allan Sherwood, getrou en het in 2001 die oë laat rek toe sy uitgereik is met ’n ietwat vreemde magnetiese baba in haar maag.

Christie

Christie was die heel eerste swart pop in die Barb
Christie was die heel eerste swart pop in die Barbiereeks toe sy in 1969 uitgereik is.

Christie was die heel eerste swart pop in die Barbiereeks toe sy in 1969 uitgereik is. Haar jonger suster, Nikki, wat in 1996 in speelgoedwinkels haar debuut gemaak het, is steeds een van Barbie se beste vriendinne.  

BELANGRIKE MYLPALE

1959

Barbie maak haar debuut.

1961

Sy kry haar eerste Dream House

1972

Malibu Barbie maak haar verskyning.

1992

Sy stel haar die eer­ste keer as presidensiële kandidaat ver­kiesbaar.

2000

Jewel Girl Barbie is die eerste een met ’n naeltjie.

2001

Die eerste Barbie­fliek, Barbie in the Nutcracker, word uitgereik.

2016

Barbie kry ’n mooi­maaksessie gemik op ’n positiewe liggaamsbeeld.

58 miljoen

Dis hoeveel Barbiepoppe jaarliks ­wê­reldwyd verkoop word.

150 lande

Dis in hoeveel lande jy Barbiepoppe kan koop.

12 tot 18 maande

So lank neem dit om ’n nuwe Barbie te ­ontwerp.

1,9 miljoen

So­veel aanhangers het sy op Instagram.

55% van Barbiepoppe

het nie blonde hare en blou oë nie.

$8,5 miljard

Dit is ­Mattel se netto waarde.

Kom neem deel aan die gesprek

 Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!


BRONNE: PEOPLE, DAILY MAIL, THE GUARDIAN, NEW YORK TIMES, TIME, ENTERTAINMENT WEEKLY, NY TIMES
FOTO’S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, INSTAGRAM/@BARBIESTYLE