Dít was die vraag wat die Kempton Park-polisie gevra het toe hulle Maandagoggend op die grutoneel in ’n bekende lodge in die stad afgekom het.

Hulle is met meer vrae as antwoorde gelaat. 

Plasse bloed het op die vloer gelê en by die mure afgestroom. By die wasbak het die bloed afgestroom en in die bebloede stort het daar ’n wit stoel gestaan.

Die polisie het ook bloederige voetspore in die kamer en ’n mes onder die matras aangetref.

Maar wat presies in die kamer gebeur het, bly ’n raaisel.

Die slaapkamer. Foto: Verskaf
Die slaapkamer. Foto: Verskaf

Volgens ’n polisiewoordvoerder, sers. Dipuo Ditshego, het hulle geen lyk op die toneel gekry nie, en kan hulle dus nie met sekerheid sê of daar wel ’n moord in die gastekamer gepleeg is nie. 

Op Maandagoggend 3 Mei omstreeks tienuur was P&C Sekuriteitdienste eerste op die toneel nadat ’n ontvangsdame die bebloede kamer binnegestap het.

Die bestuur van die lodge het toe die paniekknoppie gedruk.

Volgens Ditshego het ’n man op Saterdagoggend 1 Mei omstreeks vieruur by die kamer vir die nag ingeboek. Volgens die lodge het die man die Sondagmiddag ’n tweede betaling gemaak wat hy met kontant betaal het.

Hy het glo die kontant uit ’n swart plastieksak gehaal wat later op die toneel gevind is. 

'n Bebloede spoor na die badkamer. Foto: Verskaf
'n Bebloede spoor na die badkamer. Foto: Verskaf

Die lodge se kringtelevisie wys hoe die man in ’n stadium die kamer binnegestap het met ’n klein sakkie. 

Op Sondagaand wys die beeldmateriaal dat die gas met ’n ander man buite die kamer se deur vir ongeveer 40 minute staan en praat het, maar volgens Rudolph Espach, P&C Sekuriteit se areabestuurder, het die man nooit die kamer binnegegaan nie.

Op Maandagoggend omstreeks sesuur kan gesien word hoe die man by die gastekamer uitstap sonder enige oënskynlike beserings.

“Hy het heel normaal geloop asof niks fout was nie,” het Rudolph aan Huisgenoot bevestig. 

Maar agter die deur wat toegemaak is, was ’n toneel wat ’n heel ander storie vertel het. En vier uur later was die sekuriteitsdienste, die polisie en mediese personeel op die toneel terwyl geskokte personeel van die lodge toegekyk het.

Die mes wat onder die matras gevind is. Foto: Vers
Die mes wat onder die matras gekry is. Foto: Verskaf

Volgens sers. Ditshego het die lodge slegs die naam van die gas en geen ID-dokument of selfoonnommer nie. 

Sy het gesê die polisie het die kringtelevisie gekyk van die oomblik dat die gas by die kamer ingeboek het tot hy die lodge verlaat het, maar hulle het niemand anders in die kamer saam met hom gesien nie. 

Bloed het by die wasbak afgestroom. In die stort,
Bloed het by die wasbak afgestroom. In die stort, het 'n bebloede wit stoel gestaan. Foto: Verskaf

Volgens haar word die saak nou ondersoek en het hulle ’n forensiese span na die toneel gestuur om bloedmonsters te neem. Hulle is ook in die proses om die man op te spoor wat in die kamer gebly het.

“Daar was baie bloed in die kamer, maar ons kan nie met sekerheid sê of daar ’n moord gepleeg is nie, want daar was geen teken van ’n lyk nie. En op die beeldmateriaal het die man nie beseer gelyk toe hy daar uitstap nie,” het sy gesê.

“In hierdie stadium probeer ons nou antwoorde kry van wat presies daar gebeur het.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe