So sê Maxine Fourie. Haar en haar lewensmaat, Jaco Oosthuizen, se baba, Jakes, was ’n skamele 18 weke oud toe hy in Mei verlede jaar in ’n dagsorgsentrum in Pretoria dood is. Dit was sy derde dag by dié sentrum.

Wanneer Maxine hoor van ander ouers wat ’n soortgelyke nagmerrie ervaar, breek iets binne-in haar.

Dit is vir ouers soos Natasha en Johan Ackerman van Bloemfontein, wie se vier maande oue babaseuntjie, JJ, verlede Maandag by ’n dagmoeder in dié stad gesterf het, dat sy graag iets wil beteken.

Net soos vir die Ackermans wat aan Netwerk24 gesê het hul baba was blakend gesond toe hulle hom op sy eerste dag by die dagmoeder afgelaai het, was Jakes volgens Maxine ook die oggend toe sy hom afgelaai het sy lewenslustige self. ’n Nadoodse ondersoek het gewys JJ is dood weens ’n virale longinfeksie. Maar vir Maxine “is Jakes se dood nog ’n raaisel”.

“Sommige oggende wou ek nie opstaan nie. Saans het ek buite gaan sit en huil sodat ek nie vir Jaco ontstel nie,” sê Maxine.

“Ek was aanvanklik kwaad vir die Here, maar terwyl ek teen Hom sou draai, het ek nou na Hom gedraai.”

Sy sê sy en Jaco het berading gekry, eers afsonderlik en toe saam. “Steun op mekaar en moenie die seer op mekaar uithaal nie," is haar raad aan bedroefde ouers.

Maxine sê sy het elke liewe dag van Jakes se lewe ’n foto van hom geneem en kyk nog gereeld daarna. Sy het ook video’s van hom waarna sy kyk en wanneer sy haar kom kry, lag sy vir haar seuntjie.

Sy spog graag met haar ontslape kleinding; daarom het sy baie foto’s van hom in die huis opgesit. Sy en Jaco het Jakes laat veras en sy as is in die huis “sodat hy by ons kan wees”. 

“Dit is die ergste ding wat met ’n mens kan gebeur,” sê Maxine, maar voeg by: “Moenie jouself blameer of die fout by jouself soek nie. 

“Die seer gaan nooit weg nie. ’n Mens leer hoe om daarmee saam te leef.”

Sy het in ’n stadium medikasie, soos kalmeermiddels, gedrink om deur die dag te kom, maar het opgehou daarmee.

“Die dag toe ek by die hospitaal uitstap (ná Jakes dood is), het ek gesê ek wil nooit weer kinders hê nie, maar ek is nou weer broeis.”