Die 47-jarige marathon- en veldwedloop-geesdriftige moes net 'n rukkie ná haar eerste Comrades in 2013 verneem die borskanker waarmee sy in 2007 gediagnoseer is, is terug.

En dié keer het dit na haar skelet versprei.

Haar destydse dokter het gesê sy sou haar hardlopery en die bergfietsry, waarin sy intussen ook begin presteer het, moes laat vaar. Met haar kankerlyf sou dit eenvoudig te riskant wees. 

Maar dit het Moksie net meer vasberade gemaak om nie die Groot K toe te laat om haar haar leefstyl te ontneem nie. En watwou, ná nog drie Comrades wedlope, spits Moksie - 'n aërobiese, fiksheid- en landloopafrigter wanneer sy nie hardloop nie - haar nou op ultra-veldwedlope toe.

Sy het dan pas die asemrowende Mac Mac Ultra van 80 km agter die rug.

“Ná vier Comrades'e wou ek iets anders aanpak. Ek stel elke jaar vir my 'n groot doelwit. Dis vir my 'n viering dat ek lewe,” reken sy.

'Daar's nie 'n manier waarop jy meer kan hardloop nie . . .'

“Moxie”, die Engelse woord, verwys na durf en deursettingsvermoë. En jy sal skaars iemand vind vir wie dit beter pas as vir Elize. Al kom haar bynaam eintlik van haar nooiensvan, Mocke, het heelparty mense al gesê dié vrou is die versinnebeelding van moxie.

Sy was nog altyd ’n "sportiewe tomboy. Ek sou byvoorbeeld destyds met my broer se gewigte speel. Ek was 'n woelige enetjie,” vertel Elize, wat op Klerksdorp gebore is, maar op Thabazimbi grootgeword het.

Haar man Sol (55), wat vandag vir Discovery werk, het ’n gim op Thabazimbi besit en dis ook waar sy hom op dié Limpopo-dorp leer ken het.

“Ek was 35 toe ek in 2007 'n knop in die bors ontwikkel,” beduie Moksie.

“Dit was kwaadaardig en ek het toe 'n volle mastektomie gehad, is deur chemo en alles, en het in remissie gegaan. Gedurende my sewe jaar in remissie het ek weer begin hardloop, maar ook goed in bergfietsry begin vaar.

“Ek het toe in 2013 my eerste Comrades voltooi. Maar toe ek ’n paar maande later eendag van 'n fietsrit af terugkom, sê ek nog vir Sol dit voel asof my borsbeen en rug wil afbreek.

"Die kanker was toe waarskynlik reeds in my skelet, maar ek het eers ’n rukkie so aangegaan.

“Daardie Desember het ek egter soveel pyn gehad dat ek gesukkel het om my arms in my aerobics-klas op te lig. Ek het plate laat neem, maar hulle het nie dadelik fout gesien nie. ’n Radiografis-vriendin, terug van oorsee, het egter geskrik toe sy my sien, en nadat onlangse plate met dié van vorige jare vergelyk is, het ek 'n noodafspraak by 'n onkoloog gekry.

“So kry ek toe in 2014 die diagnose: mammakarsinoom met metastase na die skelet . . .

"Die dokter het gesê daar was nie 'n manier waarop ek meer kon hardloop en fietsry nie – ek moes baie versigtig na myself kyk, want as ek sou val en bene breek sou ek groot moeilikheid optel. Toe besluit ek ek sal van die fiets af bly, maar aanhou oefen.

“In 2014 en '15 het ek dus meestal my vriende ondersteun en help slyp vir die Comrades. Maar nadat ek een aand in 2015 baie bedruk geraak het omdat ek nie self dié marathon doen nie, het ek net vir myself gesê: kom wat wil, ek gaan weer die volgende een aanpak. 

“Ek het net al hoe harder geoefen . . . en toe in 2016 die Comrades in 10 uur en 15 minute voltooi. En toe weer in 2017 in 10 uur en 26 minute.”

Laasjaar het sy weer daardie 90 km aangepak.

Dit het nie so goed soos vorige kere gegaan nie, maar aangesien bestraling wat sy in haar bekken en regterdybeen moes ondergaan haar spiere so aangetas het dat sy oorspronklik heeltemal sou uitsit, was haar blote voltooiing daarvan eintlik een van haar merkwaardigste prestasies.

Haar lyf se positiewe reaksie in Body20-oefensessies, waar elektro-spierstimulering ingespan word, en dat sy ook vroeër die jaar die Mall of the North-marathon kon voltooi, het haar eindelik laat besluit om tog weer met die Comrades deur te druk, verduidelik sy.

Sy het dit toe klaargemaak in omtrent elf uur.

En verlede maand is sy “deur die genade van Bo” binne sowat 18 uur deur die berge en dale van die Mac Mac Ultra met sy 80 km van dikwels baie uitdagende terrein. 

'Soos aanhoudende tandpyn . . . maar die liggaam is ook wonderlik aanpasbaar'

Ja, die pyn van die indringer in haar gebeente is erg, gee sy toe - byvoorbeeld heelwat intenser as artritispyn. Konstante tandpyn is die naaste beskrywing wat sy kan gee.

Die skoonheid van die skepping het haar by die Mac Mac Ultra nou weer krag gegee, “maar dit was regtig een van my taaiste reise nog. Weens my lyf se reaksie op chemo het ek 'hand-en-voet-sindroom' gehad . . . my voete was die ene blase en my toonnaels almal af.

“Maar gelukkig het ek ’n taamlik hoë pyndrempel.”

Dit het nou al so deel van haar bestaan geword dat sy al aan vriende gesê het as sy die dag sonder pyn opstaan, skrik sy haar dood, beduie sy half-skertsend.

“En my ma sê my beskermengel moet al baie moeg wees!”

Op x-strale wys al die skadukolle op haar skelet hoe meedoënloos haar vorm van kanker kan wees en hoe moeilik om te beheer. Die kanker het ook al van haar boonste rugwerwels omtrent laat ingee.

“Maar mense besef nie altyd hoe wonderlik aanpasbaar die liggaam eintlik is nie, en as jy dit dan nog met goeie oefening kombineer . . . Jou spiere vorm soortvan die werking van aangetaste werwels of gewrigte in, om die gewig daarvan af te haal. 

“Ek dink as ek nie sulke sterk spiermassa gehad het nie, sou my skelet seker al ingekonk het!"

’n Algemene praktisyn op haar dorp waarsku haar lankal sy moet ophou; dat sy haar liggaam onder geweldige druk plaas. Dié is bekommerd as sy val en bene breek, gaan dit nooit herstel nie . . . en veral oor haar groter risiko vir spinale beserings wat haar in ’n rolstoel kan laat eindig.

Haar onkoloog het egter ’n mate van begrip vir waarom Moksie moet doen wat sy doen.

“Hy sê ek moet luister na my lyf, of dié vir my sê ek kan iets aanpak.

“Tog vind hy dit elke keer ongelooflik as ek hom vertel ek het so ’n marathon of veldwedloop klaargemaak,” vertel Moksie.

'Genade van Bo'

Sy's gewoonlik al soggens voor vier op om ’n uur lank te gaan draf, voor die aërobiese klasse wat sy aanbied. Sy rig ook langafstande by die Hoërskool Frikkie Meyer af en doen soveel moontlik dinge saam met haar groot vriendekring, en haar seun Tjaart (18).

Haar sorgsaamheid oor haar grootseun en syne oor haar is nog ’n bron van krag vir haar. Sy wil ook veral vir hom ’n voorbeeld stel met haar lewensbenadering.

En die gedagte dat sy dalk mense 'n kopskuif kan help maak, “byvoorbeeld iets kan beteken vir 'n moedelose in 'n gesonde liggaam” is vir haarself ook verdere aanmoediging.

Boaan haar lys van dinge wat haar sover deur al haar gesondheidsuitdagings gedra het, “is dat ek ’n pad saam met die Here loop. Sy genade vir my en dat Hy my hierdie positiewe denke gegee het . . . om net elke dag daardie eerste tree te gee.

“As jy daardie eerste tree gegee het, sal jy sien dit raak makliker.”