Dis enkele van die dringende vrae wat later vandag (Woensdag) in die begrotingsrede ter sprake sal wees - die begroting wat blykbaar wel deur die "Zupta"-minister Malusi Gigaba voorgelê sal word. Sy debuutbegroting sal waarskynlik ook sy swanesang wees. Maar die nuwe president wil blykbaar eers ná begrotingsdag die vrot appels uit die JZ-kabinet begin skud.

Dit kan wel dalk eerder as Cyril se begroting beskou word, of ten minste die eerste staatsbegroting van die Ramaphosa-era.

Maar nuwe hoop of te nie, dit gaan ’n bitter taai oefening wees.

TAAISTE BEGROTING IN ’N LANG TYD
"Vanjaar se begroting sal een van die moeilikste in jare wees," sê Kyle Mandy, belastingbeleidhoof van PwC SA in ’n oorsig saam met ’n paar van sy medeontleders by dié finansiëledienstegroep.

"Belastingverhogings van minstens R30 biljoen kan na verwagting in die begroting aangekondig word. Maar gegewe die aankondiging van gratis hoër onderrig, kan dit selfs meer wees, al was die aanduidings dat dit vir eers deur die hertoewysing van staatsbesteding gefinansier sou word."

Lullu Krugel, PwC-hoofekonoom, sê die onvoorsiene ekstra uitgawe van gratis hoër onderrig "kan in 2018 alleen sowat R12,3 biljoen beloop.

Om dit te finansier, sal die tesourie óf besteding elders moet besnoei óf staatsinkomste beduidend moet verhoog. Gebiede wat bekyk kan word vir moontlike bykomende inkomste, is hoër BTW of welvaartbelastings . . ." Wat die regering se plan vir nasionale gesondheidsversekering betref, verwag Kyle vir eers nie nuwe belastings nie – "die uitfasering van mediesefonds-belastingkrediete word voorgestel vir aanvanklike NGV-finansiering”.

MEER GEGOEDES KAN MEER OPDOK
Barry Knoetze, die groep se belasting-en-regsdienste-direkteur, sê ons persoonlike inkomstebelastinglas is reeds weer terug by die hoë vlakke "wat ons laas in 1999 en 2000 gesien het". Dis byvoorbeeld beduidend hoër as die gemiddeld vir die lande in die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling, waarvan ons lid is.

Omdat die tesourie bekommerd is oor ’n nadelige uitwerking op ekonomiese groei en weerstand deur Suid-Afrika se klein belastingbetalersbasis, twyfel hy of die "2018/19-belastingkoerse sal verander. Ons voorsien egter dat belastingbetalers minder verligting sal kry wat inflasie betref".

Waar middel- en hoë-inkomste-groepe in dié opsig "die grootste las sal moet dra, kan laerinkomstegroepe wel verligting verwag as vergoeding vir ’n moontlike styging in die BTW-koers".

DIT KAN AANDUI OF CR-BESEM SKOON GAAN VEE
Dit sal bemoedigend wees om te sien dat dieselfde doelgerigtheid waarmee die ANC in die afgelope week of wat van Jacob Zuma ontslae geraak het, nou in die heropbou van ons ekonomie ingespan word, meen Gary van Staden, ontleder van NKC African Economics.
"Die nasionale begroting sal 'n belangrike aanwyser wees van hoe die nuwe besems uiteindelik beoordeel sal word," sê hy.

DUIDELIKHEID OOR BELEID
Uit die begroting kan burgers vandeesweek hopelik ook meer wys raak oor presies watter koers ’n nuwe administrasie onder Ramaphosa sal inslaan. Dié beleidskwessies sal byvoorbeeld aandag moet kry, sê Gary:
• Staatsondernemings moet waarde toevoeg – inkomstegewys of deur baie beter dienslewering – of andersins verkoop of bloot toegemaak word;
• ’n beleggersvriendeliker mynbouhandves;
• die idee van ’n Russiese kernkragprogram moet vir goed die nek ingeslaan word.

Ekonomiese vooruitgang kan natuurlik ook nie geskied sonder die uitroei van yslike korrupsie en die beëindiging van staatskaping nie, benadruk Gary.

Ramaphosa weet "mnr. Zuma was nie al probleem nie . . . en waar die swaard moet val’’.

IEWAT BETER VOORUITSIGTE, KREDIETAFGRADERINGS EN DIE IDEALE GROEITEIKEN
Nadat Suid-Afrika in die eerste helfte van laas jaar nog resessietoestande ervaar het, kan ons ekonomiese groeikoers vanjaar verbeter na 1,7-1,9%, meen dr Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge-dinkskrum.

"En as 'n oortuigende saak vir groei in die begrotingsrede uitgemaak kan word, verskraal die kans vir 'n verdere kredietafgradering vir Suid-Afrika tot minder as 50 persent.

"Om 'n betekenisvolle verskil aan die werkloosheidkoers te maak," voeg hy by, sal die nuwe administrasie onder Cyril egter oor hul komende termyn na 'n groeikoers van 5 persent moet mik.

IN 'N NEUTEDOP
• Die staatskas loop leeg. Die regering sit met ’n geraamde inkomstetekort van meer as R50 biljoen vir die finansiële jaar wat aanstaande maand eindig, ’n groeiende begrotingstekort wat tot 5% van die bruto binnelandse produk (BBP) kan bereik en staatskuld wat al ‘n onheilspellende meer as 50% van BBP beloop (die Internasionale Monetêre Fonds waarsku byvoorbeeld ontwikkelende lande moet alles doen om die 70%-kerf te vermy);
• Veral hoër inkomstegroepe kan die spit afbyt in Woensdag se begroting;
• BTW is die doeltreffendste en maklikste uitweg om staatsinkomste te vergroot – ’n verhoging van een persentasiepunt (van 14% tot 15%) sal meer as R22 biljoen ekstra in staatskoffers beteken. Maar waar sommige ontleders meen die regering het nie meer 'n ander keuse nie, voel ander politieke druk kan steeds ’n stokkie daarvoor steek;
• Sondebelastings (op tabak en drank) is weer vierkant in Jan Taks se visier, en moontlik ook vervoerbelastings (brandstofheffings ens.)

• Andersyds wil waarnemers sien tot watter mate daar wel op ’n veels te groot kabinet en breër staatsdiens (vergoedingsgewys ’n baie groot en dikwels vrugtelose homp uit staatskinkomste) en ondoeltreffende, verliesmakende staatsondernemings teruggesny gaan word. Onder Zuma het staatsdepartemente byvoorbeeld van 28 tot 35 vermeerder. En deur leningswaarborge staan die regering reeds pa vir R300-400 biljoen se staatsondernemingskuld.

Die 2018-begroting moet ideaal ’n besuinigingsbegroting wees waarin staatsbesteding besnoei word, som Rafael Friedman, navorser van die Helen Suzman-stigting die situasie op.

"Die onbesonne beloftes wat in Desember aan studente gemaak is, sal net die situasie kompliseer. As die begroting sleg ontvang word (deur kredietgraderingsagentskappe en beleggers) sal die druk op ons ekonomie verder verhoog . . .

"’n Stewiger greep op staatsdiensvergoeding is noodsaaklik.” Rafael meld salarisse en lone het baie skerper in die openbare as in die privaat sektor gestyg.

Ons nuwe president en die kabinet wat hy aanstel moet Suid-Afrika se finansiële situasie so gou moontlik stabiliseer en hard werk om die ekonomiese groeikoers spoedig tot bokant 2% te verhoog, sê hy.

Ekstra bronne: pwc.co.za