Hoewel Malusi in sy eerste begrotingsrede optimisties was oor ekonomiese groei, sal landsburgers meer moet opdok vir veral in BTW, sondebelasting en brandstof.

Hier is sewe belangrike goed wat jy moet weet:

1. Ekonomiese groei:

Die land se vooruitsig vir ekonomiese groei het verbeter. Ekonomiese groei van 1,5% word voorspel. Dit is beter as wat die Reserwebank se voorspelling van 1,4% in Januarie was. Die hele begroting berus op dié voorspelling om die boeke te laat klop.

2. Petrolprys:

Verwag ’n styging in 52c/l in brandstofbelasting. Dit sluit ’n heffing van 22c vir brandstof en 30c vir die Padongelukkefonds in.

3. Sondebelasting:

Ja, sondebelasting gaan weer op. ’n Verhoging in die belasting op drank en sigarette sal jou tussen 6% en 10% meer uit die sak jaag.

4. BTW-styging:

Verwag ’n verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) van 14% tot 15%. Dit is die eerste keer in ’n kwarteeu dat ’n verhoging ingestel word.

5. #FeesMustFall:

R57 biljoen sal oor die volgende drie jaar beskikbaar gestel word vir gratis hoër onderwys beoog vir eerstejaars van huishoudings met ’n gesamentlike inkomste van onder R350 000 per jaar.

6. Staatskaping:

Die regering is gereed om ’n geregtelike ondersoek na staatskaping te begin.

7. Grondhervorming:

Die regering beskou grondhervorming as ’n “dringende” vraagstuk.

Die departement van landelike ontwikkeling het R4,2 biljoen opsygesit om ongeveer 291 000 ha grond te bekom. Sowat 2 851 grondeise moet afgehandel word en R10,8 biljoen is hiervoor begroot. 

“Geleenthede moet vir swart boere geskep word,” het die minister van finansies gesê.