Stuart Wiseman (44) van Chelmsford noordoos van Londen, is pas 18 maande gevangenisstraf opgelê vir die ernstige beserings wat sy vrou, Madeline (42), weens sy volgehoue aanrandings opgedoen het.

Die laaste strooi was toe Madeline op 28 Oktober 2017 dit gewaag het om te gaan lê omdat sy siek gevoel het.

Wiseman het in ’n onredelike woedbui uitgebars en haar met die groentemes, kussing en leiriem aangerand. Die aanval het na bewering ure lank geduur.

Madeline het ernstige kneuswonde opgedoen en kon net met moeite asemhaal ná die aanval.

Sy het ná haar nagmerrie-ervaring vir die eerste keer met haar vriende oor die mishandeling deur die jare gepraat. Sommige het reeds geruime tyd vermoed alles is nie pluis nie.

Agttien maande van hel

Die eerste agt jaar van hul huwelik het dit goed gegaan, sê sy. Maar die afgelope 18 maande het Stuart in ’n beheersugtige en gewelddadige man verander.

Hy het Madeline se vryheid aan bande gelê en haar “toegelaat” om net ’n halfuur op ’n keer na buite te gaan.

Madeline moes ook dae by haar werk inboet om van sigbare beserings te herstel.

Volgens die ondersoekbeampte, ao Karyn Daniels, het Wiseman haar met oproepe en boodskappe gebombardeer wanneer sy nie tuis onder sy wakende oog was nie. Hy het ook al haar oproepe en teksboodskappe gemonitor en vir haar by haar werkplek gewag.

Sy het net lof gehad vir Madeline se moed om oor haar mishandeling te praat.

“Dit beteken iemand soos Wiseman, wat 'n mens mishandel, is nou in ’n tronksel toegesluit.”

Hy mag ook nie sy vrou vir die volgende 10 jaar kontak nie.

Stuart Wiseman

Natalie Bird, Wiseman se prokureur, sê hy is vol berou en skaam oor wat hy aan sy vrou gedoen het.

Hy ly na bewering aan chroniese epilepsie, moet van krukke gebruik maak as gevolg van ernstige artritis in sy bene en sukkel met leerprobleme.

Is jy 'n slagoffer van huishoudelike geweld?

Hier is organisasies wat kan help:

  • FAMSA (landwyd): Bel 011-975-7101, e-pos national@famsa.org.za of besoek famsa.org.za vir inligting en hulp.
  • Lifeline (24-uur): 0861-322-322.
  • POWA (People Opposing Women Abuse): 083-765-1235 of besoek powa.co.za vir meer inligting en hulp.
  • Legal Aid South Africa: 0861-053-425 of besoek legal-aid.co.za vir bystand.
  • Rape Crisis: 011-642-4345/021-447-9762.
  • SA Polisie-noodnommer: 10111

Bronne: essex.police.uk, gazette-news.co.uk, metro.co.uk