Cobie Roux is 'n voormalige eiendomsagent van Krug
Cobie Roux van Krugersdorp het daarin geslaag om vier kapers se planne in die wiele te ry. Foto: Facebook/Trots Afrikaans

Sy was Maandag 2 November om 11.30 onderweg van Roodepoort na Krugersdorp waar sy woon, toe sy sien hoe vier mans ’n man in die skouer van die pad aanval.

“Ek ry gereeld daardie pad,” vertel Cobie, ’n afgetrede eiendomsagent. “Ek het gesien hoe die drywer van ’n silwer kar ’n oom slaan en het onmiddellik ’n U-draai gemaak. Ek het reguit oor die pad geskiet en voor die oom se kar gestop."

Sy was in daardie stadium op die Hendrik Potgieter-weg in die Weltevrede-woonbuurt.

“Ek het gedog hulle rand die ou oom aan. Dit was my eerste instink.”

Sy lag nou, want die polisie het haar later ingelig dat die “ou oom” soos sy hom noem Leon Botha heet en dat hulle dieselfde ouderdom is.

Kaping ter illustrasie.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Aanvanklik het die karre net verby gery, maar ná ’n ruk het 'n paar gestop.

“Ek het geskree,” vertel Cobie. “Ek het eintlik gevloek ook, maar geskree: ‘Help the old man!’”

Op daardie stadium was daar al twee van die mans in Leon se motor en sy het toe besef hulle wil die motor kaap. Leon was reeds uitgeboender en die kapers het met hom baklei om sy sleutels te kry. Skielik het een van die mans uit die voertuig geklim en Cobie het gedink hy mik vir haar.

Sy het teruggeklim in haar eie voertuig. Dis toe dat die man wat die aanvanklike slagoffer beetgehad het, na haar toe aankom. Hy wou haar uit die kar pluk.

“Hy het my aan my klere gegryp en ek het gehoor hoe die nate van my hemp bars. Hy het my aan my nek probeer gryp, maar ek het net bly sit. Ek dink die engele het my in daai sitplek gehou.”

Sy het die sleutel uit die aansitter gepluk en êrens ingedruk en die volgende oomblik het die aanvaller op haar skoot geklim in ’n poging om in die kar te klim.

“Hy klim toe weer uit en toe vou hy sy vingers saam soos ’n geweertjie – soos die kinders altyd speel – en sê toe: ‘I am going to kill you, you bitch.' 

“Ek dink hy wou ’n reaksie van my hê en het gedink ek gaan uit die kar spring. Ek het net geweier om te reageer en hy haak toe af en slaan my met die vuis deur die gesig. Ek het gedog my neus en my wangbeen is gebreek.

”Die aanvaller het toe begin hardloop, maar omstanders het hom agterna gesit en sowat 20 m van die motors af begin toetakel."

Cobie vertel daar was selfs ’n taxi-bestuurder wat die man met ’n knopkierie bygedam het.

Kaping ter illustrasie
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die polisie was gou op die toneel,” sê sy. “Twee van die mans het in die silwer motor weggekom en die vierde man is in hegtenis geneem."

Sy sê die polisie het haar gevra of sy oukei is. "Ek het gesê ek wil eers die ou 'n goeie skop gaan gee. Ek het so entjie gestap en toe sien ek my toon bloei. Die polisieman het my gevra of ek sy stewel wil leen."

Die dokter het intussen bevestig sy het geen ernstige beserings opgedoen nie.

Cobie sê sy was nie vir ’n oomblik bang nie. “Ek het gestop, want dit is net wie ek is. My kinders was aanvanklik vies vir my toe hulle hoor wat gebeur het, maar hulle weet ook dit is hoe ek is.

"Ek probeer altyd mense beskerm.”

Kaping ter illustrasie.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy sê sy voel glad nie getraumatiseerd deur wat gebeur het nie en sy glo die rede daarvoor is omdat sy op die toneel vir mense gevra het hoekom hulle nie help nie.

“Jy weet, dit is die probleem met Suid-Afrikaners. Hulle sê so maklik iets, maar niemand wil iets doen nie. Help net die ou man, het ek gevoel."

  • Die polisie se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.