Ek het geen rede gehad om my ouers op dié dag te bel nie.

Ons praat deesdae meer as gewoonlik, want ek het hulle saamgenooi op ’n reis na Nederland. Daar is kort-kort iets wat bespreek moet word, so ek bel amper elke dag.

Een voordeel van my selfoonkontrak in Australië waar ek deesdae woon, is onbeperkte oproepe na Suid-Afrika, en dit vergoed darem vir die min sien. Dit is ook ‘n welkome tydverdryf as ek in die middae van die werk af huis toe ry.

Hy is al ’n uur met die man van Telkom op die lyn.

Op dié dag wil ek iets uitvind oor hul visa-aansoek, so ek besluit om wel gou my ouers te bel. Die gesprek kring heel voorspelbaar uit na die gewone koeitjies en kalfies: die weer, beurtkrag en ons reisplanne.

“Ek wens jou pa wil van die foon af klim,” laat val my ma terloops. “Hy is al ’n uur met die man van Telkom op die lyn.”

My ouers is afgetree en woon op Stellenbosch. Op 82 is my pa, Ronnie Kriel, gesond, maar hardhorend. My telefoongesprekke huis toe is dus maar hoofsaaklik met my ma, Elrina.

Ek vra uit oor my pa se marathon-oproep, maar al wat ek by my ma kan uitvind, is dat die “Telkom-man” gebel het om te sê dat my pa ’n virus op sy rekenaar het. Ek vind dit vreemd, maar neem eers nie veel notisie nie.

Die waarheid is waarskynlik iets heel anders: dalk is daar iets fout met hulle Wifi-stellings, of dalk is dit net nog ’n bemarkingsoproep.

“Solank hy net nie sy bankbesonderhede vir hulle gee nie,” sê ek ewe, en ons gesels verder.

My pa se kennis van rekenaars is minimaal en dit is genoeg om my agterdogtig te hou.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ek reken hy weet hoe om die rekenaar aan te skakel, en hy google graag onderwerpe waarin hy geïnteresseerd is: koormusiek, stoomtreine, die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog . . . Hy verwys na e-pos as sy ”briewe”.

Ek giggel daarom saam met my ma oor die geduld van die “Telkom-man” om die sakie te probeer uitsorteer. Hardhorendheid en rekenaar-ongeletterdheid moet ’n dodelike kombinasie wees.

Ek en my ma gesels klaar, maar ek hoor my pa steeds in die agtergrond. Sy frustrasie is hoorbaar besig om toe te neem. Dit klink of die beller besig is om goed op die rekenaar te verander.

“Sê vir Dadda ek sal die man bel,” raai ek my ma aan. “Kry net vir my ’n nommer.”

Ek hoor die gesprek en die "Telkom-man” kry ‘n naam: Irvin van Wyk. Dit sukkel om ‘n nommer uit Irvin te kry, maar ek hoor hoe my pa later ’n 011-nommer neerskryf.

Maar my pa wil nie neersit nie.

“Ons is amper klaar,” sê hy ongeduldig vir my ma.

Ek begin al onrustiger voel. Dit maak geen sin vir my nie. Ek het nog nooit gehoor dat Telkom betrokke raak by rekenaarvirusse nie. Ook nie dat hulle beheer neem van jou rekenaar om die probleem namens jou uit te sorteer nie.

Allermins het ek al gehoor dat Telkom ongevraagd kliënte skakel om hulle in te lig van probleme waarvan hulle self onbewus is, en dan ure op die foon spandeer om dit vir hulle uit te sorteer.

"Gee my ’n oomblik,” sê ek vir my ma. “Ek wil hierdie nommer bel en kyk waar ek uitkom.”

Die 011-nommer bestaan nie. My onrus neem toe. Ek begin al meer vermoed dat my pa besig is om met ’n slenter gevang te word.

Ek soek solank FNB se tolvrye bedrognommer op die internet.

“Vra vir hom of hy al vir hulle sy bankbesonderhede gegee het,” versoek ek my ma, en hoop vir die beste.

“Al lankal,” hoor ek my pa onderlangs sê. “Maar hou op stres, dit was op ’n FNB-vorm.”

Ek raak yskoud.

“Druk die foon dood! Bel die bank!,” skree ek hard oor my ma se selfoon en hoop dat hy my sal hoor. My ma herhaal my pleidooie. Dit neem ’n rukkie voor my pa luister . . .

Gelukkig is my pa al teen dié tyd so gefrustreerd dat hy tog gehoor gee. Irvin van Wyk se tjank word afgetrap en die foon word in sy oor doodgedruk. Dit voel of dit ure duur.

’n Paar vinnige woorde met my pa bevestig my vrese: Hy het sy bankkaarte se nommers én PIN-nommers op iets ingevul wat gelyk het soos ’n amptelike vorm van sy bank.

“Ek moes dit gee,” verduidelik hy. “Ek is besig om lewenslange beskerming teen rekenaarvirusse te koop vir R49.”

Ek luister skaars, probeer hom oortuig om die bank te bel om sy kaarte te stop. Ek hou aan op my ma se selfoon om te hoor hoe die gesprek verloop. Ek haal eers asem toe ek hoor daar was nog geen nuwe transaksies op my pa bankrekeninge sedert die vorige dag nie.

Net ‘n paar minute later lui die foon egter weer. Dis die bank. Iemand het sopas R27 000 uit my pa se kredietkaartrekening probeer onttrek, maar dit is geweier danksy sy oproep.

Eers later hoor ons dit was al die booswigte se derde probeerslag. Die eerste keer was dit R100 000 en toe was dit R60 000, maar gelukkig was dié bedrae ver anderkant my pa se kredietkaartlimiet.

Anna-Retha Green. Foto: Facebook
Anna-Retha Green. Foto: Facebook

Die laaste poging vir R27 000 sou geldig kon wees, maar dit was kort ná my pa die bank versoek het om sy bankkaarte te kanselleer.

Die skelms se gierigheid was dus ook hul ondergang.

Ons besef nie dadelik die implikasies nie. Ek en my ouers deel ’n paar oomblikke van verligting, dankbaarheid en skok, al sit ons duisende kilometer uitmekaar.

My pa voel toenemend ook skaam en verleë. “Ek kan dit nie glo nie,” sê hy aanmekaar.

My ouers was gelukkig. Ek het intussen uitgevind dat baie mense al deur hierdie selfde slenter gevang is. Party het baie geld verloor.

So wat moet jy doen as jy in ’n slenter gevang word? Ons het die volgende dinge geleer:

  • Moenie dink dit kan nie met jou gebeur nie
  • Moet nooit jou PIN-nommer intik op enige ander toestel of platform as ‘n OTM nie
  • Teken jou bank se bedroglyn aan en bel dit dadelik as jy onraad vermoed
  • Moenie skaam wees om te erken as jy gevang is nie
  • Vertrou jou instink
  • As jy wonder of iets geloofwaardig is, vra vir ’n naam en nommer en onderneem om terug te bel
  • Indien jy gevang is, deel jou storie. Dit is al manier om die booswigte aan die kaak te stel
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.