Elizabeth Kotze, beter bekend as Toodles, is  Donderdagoggend in haar huis oorval, verskeie kere keer met ’n mes gesteek en van twee selfone beroof, volgens Lichtenburg se polisie. 

“My ma het vanoggend (Donderdag) my pa gebel en gesê sy kry nie die voordeursleutel nie. Ek en my pa het haar toe in die huis toegesluit. Voor ons nog by ons besigheid aangekom het, het die buurvrou histeries gebel,” sê Markus Kotze, Toodles se seun.

Die Kotzes is bekende inwoners van die dorp en besit die Elegant Verspreiders-ysterwarewinkel.

“Hulle het haar lelik seergemaak. Dit lyk asof hulle haar gesig wou afsny.”

Die polisie sê hulle glo ’n verdagte het Toodles se sleutel gebruik om toegang tot die huis te kry en dat sy meermale met ’n mes gesteek is tot sy dood is. 

“Toe ons daar aankom, was dit te laat. In dié stadium weet ons nog min. Ons is in skok,” sê Markus. 

Die polisie sê hulle het nog geen verdagtes nie en ondersoek die saak.