Robert Pattinson (31) en die sanger FKA Twigs (29) het glo hul verlowing verbreek nadat hulle as gevolg van hulle loopbane uitmekaar begin dryf het. 

FKA Twigs en Robert Pattinson. Foto: Getty Images

’n Bron na aan die paartjie het die nuus aan The Sun bevestig. 

Die paartjie het in 2014 begin uitgaan en sewe maande later het Robert die jawoord gevra. 

"Hulle was die eerste twee jaar amper onafskeidbaar. Maar hulle het die afgelope paar maande uitmekaar gedryf en ál minder tyd saam deurgebring," vertel die bron aan The Sun.

"Rob is moeg daarvan. Hy het die verlowing verbreek en hul vriende vertel hulle is nie meer saam nie. Maar daar is nog sterk gevoelens tussen hulle; hulle het soveel geskiedenis.

"Dit is ’n moeilike situasie, maar dinge het vir ’n geruime tyd moeilik geraak en hulle het besef dit gaan nie uitwerk nie," vertel die bron. 

Gerugte het begin toe FKA Twigs, wie se regte naam Tahliah Debrett Barnett is, sonder haar verloofring gewaar is. 

FKA Twigs sonder haar ring. Foto: Getty Images

Enkele weke daarna het Robert aan Howard Stern gesê hy is "soort van" verloof. 

"Dit is een van die frustrerendste dinge ter wêreld. Jy wil meer oop wees teenoor die mens, maar dis asof jy vas is in die posisie en jy moet besluit of jy die mense in jou lewe wil toelaat," het hy in die onderhoud gesê.

Bronne: The Sun, Mail Online, Metro.co.uk