Die seksuoloog Marelize Swart het geweldig baie ge
Die seksuoloog Marelize Swart het geweldig baie gewig verloor terwyl sy in die hoësorgeenheid was met covid. Foto: Verskaf

Die seksuoloog Marelize Swart (60) van Kleinmond in die Overberg was ’n maand lank in die hoësorg-eenheid waarvan sy drie weke aan ’n ventilator gekoppel was. In hierdie tyd het haar suurstofvlakke in ’n stadium tot in die 50% gedaal en het sy ’n paar keer gevoel hoe sy doodgaan.

Om alles te kroon het haar ma, Charlotte (95), saam met wie sy woon, ook die virus opgedoen, en is sy in die hospitaal opgeneem. 

“Elke keer wanneer ek voel ek glip na die ander wêreld, het ek duidelike trompetmusiek gehoor. Dan dink ek ek is seker nou besig om te sterf; jy voel hoe jou liggaam afskakel en dan raak jy weer in ’n stadium wakker.”

Die musiek wat sy gehoor het, word "Taps" genoem, die trompetgeskal wat dikwels tydens vlagseremonies by Amerikaanse begrafnisse en troosdienste gespeel word. 

“Ek was nie bang om dood te gaan nie,” vertel Marelize. In daardie stadium het ek gedink my ma is oorlede en ek was geweldig depressief daaroor. Ek het gesien hoe ek na ’n leë huis moet teruggaan en ek het skuldig gevoel, want ek was onder die indruk dat ek die een is wat haar aangesteek het. Dit was vir my oukei om dood te gaan.”

Charlotte het gelukkig sterk gebly, en al was sy ’n ruk in die hospitaal, kon sy herstel sonder dat dit nodig was dat sy aan ’n ventilator gekoppel moes word. 

Marelize en haar ma, Charlotte, voor hulle covid o
Marelize en haar ma, Charlotte, voor hulle covid opgedoen het. Foto: Verskaf

Marelize sê haar herinnering van die tyd toe sy siek geword het voor sy in die hospitaal opgeneem is, is baie vaag. 

Die hele familie het oor Desember covid gehad, en nadat sy ’n paar dae tevore positief getoets het, was almal onder die indruk dat sy besig is om op haar eie tyd te herstel. 

Op Oukersaand het sy haar broer gesien wat ’n dokter in Kanada is en in Suid-Afrika gekuier het. Hy het dadelik besef alles is nie pluis nie. Toe sy in die hospitaal opgeneem word, was haar suurstofvlakke sowat 60%. 

“Ek was heeltemal deurmekaar. Ek het nie besef ek is in die hospitaal nie. Ek het gedink ek is in die film Lord of the Rings. Die dokters het almal maskers gedra en van hulle was oranje. Ek het gedink hulle is van die onderwêreld en hulle wil my aanrand. 

“Dit het my baie aggressief gemaak, en dit het vir my gevoel ek moet baklei vir my lewe. 

“Jy raak psigoties en verloor tred met realiteit. Ek was bang en het baklei om asem te haal. Ek het nie geweet ek het covid nie en ek het nie geweet wat aangaan nie.”

Sy onthou die dorstigheid wat sy ervaar het.

“Jy kan nie praat wanneer jy aan die ventilator gekoppel is nie. Ek het hulle heeltyd geroep en met geen stem gefluister ek wil water hê, maar hulle kon nie vir my gee nie. 

“Hulle het my tande kom skoonmaak met ’n stokkie wat tandepasta op het, en dan suig ek daai stokkie leeg agter die water aan.”

Haar longe was so erg aangetas dat jy dit skaars op x-strale kon sien. Hulle verwys hierna as “lung white-out”. Dis wanneer die longe nie meer sigbaar is nie omdat daar nie genoeg lug by die long-alveoli uitkom nie. Foto: Verskaf
Haar longe was so erg aangetas dat jy dit skaars op x-strale kon sien. Hulle verwys hierna as “lung white-out”. Dis wanneer die longe nie meer sigbaar is nie omdat daar nie genoeg lug by die long-alveoli uitkom nie. Foto: Verskaf

Sy vertel sy het ook konstant die vrees gehad dat die ventilator wat vir haar asemhaal ingee, en ook self probeer asemhaal. 

Ná drie weke is sy van die ventilator afgehaal, maar toe het sy dubbele longontsteking gekry wat in erge hoesbuie ontaard het.

“Ek het my letterlik amper dood gehoes,” sê sy.

Eindelik het sy begin beter voel en is sy na ’n gewone covid-saal oorgeplaas. Daar het sy aangesterk tot sy na ’n sorgsentrum oorgeplaas is waar sy van voor af moes leer loop.

Middel Februarie kon sy huis toe gaan.  

Charlotte was ná haar opname in die hospitaal vir ’n ruk in die aftree-oord waar hulle woon se sorgsentrum waar ook sy weer moes leer loop. Sy was aanvanklik baie deurmekaar, maar het goed herstel en is middel Maart ook huis toe, vertel Marelize.

Die hele belewenis was baie traumaties, sê sy. “Ek ly beslis aan post-traumatiese stressteuring. Dit is baie erg om daar te lê, nie te kan praat nie en niemand te sien nie. Ek was op die dood se voorstoep.”

’n Gelukkige einde! Ma en dogter is nader as ooit
’n Gelukkige einde! Ma en dogter is nader as ooit aan mekaar nadat hulle covid oorwin het. Foto: Verskaf

Nou fokus sy en haar ma daarop om weer sterk en gesond te word en hulle koester die tyd saam. 

“Ek sien die lewe nou baie anders, want ek glo nie ek was veronderstel om hier te wees nie. Ek is baie dankbaar.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe