Bennie Wolmarans
Vrae het oor die publisiteitsagent Bennie Wolmarans ontstaan nadat hy glo vele beloftes gemaak het wat hy skynbaar nie kan hou nie. Foto: Facebook

Met die woorde “manne, ons gaan groot” in sy diep rasperstem laat hy ’n mens glo dink hy sal berge vir jou versit. 

’n Rol in ’n internasionale fliek, ’n verskyning in ’n gewilde Amerikaanse kletsprogram, ’n borgskap . . . Die toekoms is glo blink as hy jou help op jou pad na die kollig.

“Hy kon jou so maklik paai hý is die een wat jy wil ken as jy hoop op ’n deurbraak in die vermaakbedryf,” beweer die aktrise en TV-aanbieder Lorna Greyling. “Hy het jou laat glo hy ken die elite in Suid-Afrika en die buitewêreld.”

Dié “hy” na wie Lorna verwys, is Bennie Wolmarans, die eienaar van die agentskap Active Casting Talent Management.

Gevestigde sterre en aspirantakteurs het glo sy praatjies geglo – Bennie het immers vertel hy is al deur televisiekanale soos kykNET en VIA gekontrakteer. Hy het selfs in ’n helikopter van Noordwes na Kaapstad gevlieg om die Hollywood-aksieheld Vin Diesel te ontmoet. 

Of so het Bennie na bewering vertel . . .

Maar nou beweer vermaaklikheidskunstenaars sy beloftes en stories is vals.

Bennie bemark ’n slypskool vir aspirantakteurs waarby Hykie Berg en Sandra Prinsloo glo gassprekers sou wees, maar albei sê hulle ken Bennie glad nie. Foto: Verskaf

Die laaste strooi is glo beloftes van ’n slypskool vir opkomende akteurs wat Bennie in Maart vanjaar wil aanbied, met die akteurs Hykie Berg en Sandra Prinsloo as trekpleisters. Maar albei sê aan Huisgenoot hulle weet niks daarvan nie – al pryk hul naam en gesig op die bemarkingsmateriaal. 

Nee, sê Retha Bornmann, die televisiekanaal VIA se hoof van bemarking, aan Huisgenoot, hulle dra ook geen kennis van enige werksaamhede met Bennie nie. “Hy het beslis nog nooit vir VIA gewerk nie; niemand (by VIA) ken hom nie,” benadruk sy.

Ook kykNET se bemarkingsbestuurder, Suzaan Keyter, benadruk: “Nee, ons is nie bewus van enige werksaamhede op enige van ons produksies met Bennie nie.”

Nou wil ’n groep plaaslike bekendes boonop die sluier oor Bennie se beweerde slenters lig. 

“Hy skuld my R7 500 vir slypskole wat ek vir hom aangebied het,” beweer Lorna, wat al saam met hom gewerk het.

Die aktrise Zetske van Pletzen vertel Bennie skuld haar glo R2 700. En Reno Gericke, van die musiekgroep 1925Band, eis glo meer as R20 000 van Bennie. 

Zetske van Pletzen
Die aktrise Zetske van Pletzen beweer Bennie skuld haar R2 700. Foto: Facebook

Dan is daar ontstoke ouers wat beweer daar het dadels gekom van Bennie se woorde aan hul kinders oor rolle in een van die internasionale Fast & Furious-flieks. Hy het na bewering vertel hy is die alleenagent vir rolverdeling in Suid-Afrika.

Van Bennie se kennisse beweer ook hy het vertel hy kan ’n plek voor die kameras van die Amerikaanse TV-aanbieder Ellen DeGeneres se kletsprogram kry, maar dat dit leë beloftes was.

“My kinders se drome is aan skerwe,” sê Heidi Nel, wat haar spruite vir slypskole by Bennie ingeskryf het.

Maar teenoor Huisgenoot hou Bennie vol: “Die aantygings is almal onwaar. Dis ’n komplot om my naam deur die modder te sleep.” 

Adriaan Marais
‘Hy het selfs vir my gesê hy kan dalk vir my ’n rol in Fast & Furious bekom,’ vertel die akteur Adriaan Marais. Foto: Facebook

Van sy beloftes kom glo dik dadels

Selfs gevestigde kunstenaars kry soms swaar in die wisselvallige vermaakbedryf, vertel Adriaan Marais, oftewel Buks in kykNET se Getroud met rugby

“Jou inkomste klim en val, en met tye droog dit op. Omdat ons die aard van die bedryf ken, gryp jy dikwels na geleenthede wat dalk deure vir jou kan oopmaak.”

Dis hoekom hy ingestem het om saam met Bennie te werk, sê hy. “Hy het selfs vir my gesê dat hy dalk vir my ’n rol in Fast & Furious kan bekom, dat hy met die rolverdeling werk,” beweer Adriaan. 

Maar toe kom Adriaan glo agter die fliek is reeds in naproduksie en dat daar nie meer rolle op die kaarte is nie. “Hy het genoem die fliek word in Suid-Afrika verfilm, maar dit was nie die geval nie.” 

Nog ’n akteur in 7de Laan en Getroud met rugby, wat sy naam weerhou, beweer Bennie het hom genader om toneelslypskole aan te bied.

“Hy het my vir ses Saterdae bespreek teen R5 000 per sessie. Maar voor my geskeduleerde slypskole sou plaasvind, wou hy hê ek moes ’n gasverskyning op ’n ander slypskool maak en ons het ooreengekom dat hy my R2 000 hiervoor sou vergoed. Op die einde het ek net ’n gedeelte van die geld vir die gasverskyning ontvang.”

1925Band
Reno Gericke, van die musiekgroep 1925Band, eis meer as R20 000 van Bennie. Sy broers Jeff en David-Lee is ook lede van die groep. Foto: Facebook

Hy het nie die ander slypskole aangebied nie. Hy het toe sy bande met Bennie verbreek. “Ek het eers later besef sy stories maak nie sin nie.” Een van dié stories was glo dat hy die Amerikaanse ster Mark Wahlberg se agent is.

Ook die musikale broers Réno, Jeff en David-Lee Gericke, van 1925Band, is die josie in vir Bennie.

“Hy het onder meer vir ons laat weet hy het ’n borgskap by ’n motorhandelaar vir ons bekom wat ons toerbussie sou aflos,” beweer Réno. “Toe daar weke lank niks daarvan kom nie, het ek die handelaar self gebel. Hulle het vir my gelag en gesê daar bestaan geen so ’n ooreenkoms nie.” 

Réno beweer voorts die groep wag al maande lank dat Bennie hulle betaal vir drie optredes wat hulle gedoen het.  

En dan is daar twee ouers, Diane du Toit van Lephalale en Heidi Nel van Hartbeespoort, wat woedend is oor die “blywende skade” aan hul kinders. 

Huisgenoot het een boodskap van Bennie aan Diane gesien. “Hi Diane . . . Jy kan maar gereed maak, 1 Junie 2021 is [sy] en jy saam [met] my op pad New York toe na [die] Ellen DeGeneres Show,” lees die boodskap met die belofte oor haar dogter. 

Diane beweer: “Daar was ook beloftes van kykNET-produksies vir wie hy glo ’n agent is. En dieselfde storie oor Fast & Furious. Hy het ons vertel dit word in Magaliesburg verfilm, en dat hy ’n rol vir my seun sou kry. Nou is ek die een wat vir hom moet sê geen van daardie dinge gaan realiseer nie.”

Lorna Greyling
‘Hy skuld my R7 500 vir slypskole wat ek aangebied het,’ sê die aktrise en TV-persoonlikheid Lorna Greyling. Foto: Facebook

Heidi het glo R3 000 as deposito betaal vir Bennie se beplande slypskool in Maart.

“Hy het ons laat glo daar gaan talle akteurs wees wat ons kinders kan oplei, maar nou kom dit uit baie van die akteurs weet nie eens hulle naam word genoem nie.” 

Dan is daar ook bewerings van ongerymdhede buite die vermaakbedryf.

Die aktrise Zetske van Pletzen, bekend as Julia in die sepie Getroud met rugby, vertel: “Ek wou ’n werkpermit vir my huiswerker bekom, en hy (Bennie) het my op Facebook gekontak. Hy het R2 400 gevra, en ons het die deposito van R1 680 betaal. ’n Maand later het hy laat hoor die permit sal tuis afgelewer word, en dís toe die vorentoe en agtertoe begin . . . 

“Skielik het die uitstaande bedrag verander, hy het beweer ’n drywer het die permit probeer aflewer, en later nog geld geëis. Selfs nadat ek die uitstaande bedrag van R1 080 betaal het, was daar geen teken van die permit nie, net verskonings dat die geld nie wys nie,” beweer sy.

“Hy kon nooit bewys dat die permit gekom het nie, en een jaar later het ons dit steeds nie.” 

Zetske het haar na die hof vir klein eise gewend, maar Bennie het glo nie gereageer op haar kennisbrief waarin sy R2 760  eis nie.

Hykie Berg
Die akteur Hykie Berg het ook ontken dat hy Bennie ken, al word sy naam op bemarkingsmateriaal vir een van Bennie se slypskole gebruik. Foto: Facebook

Bennie kap terug

Dis alles leuens, beweer Bennie.

Hy wou nie bevestig aan watter Fast & Furious-fliek hy werk nie, maar selfs nadat Huisgenoot vasgestel het dat die verfilming van Fast & Furious 9 reeds voltooi is, het hy volgehou dat hy die alleenagent vir rolverdeling in Suid-Afrika is. “Ons sou nou begin het met die produksie, maar ons is oorgeskuif na vlak drie toe, alle produksie is gestaak,” verduidelik hy. 

Hy sê hy het nooit “100% bevestig” dat hy vir mense rolle in die fliek kon reël of bekom nie.

En sy bewering dat hy ’n verskyning in Ellen DeGeneres se program kan reël? “Daar is ’n vertroulikheidsooreenkoms geteken; dus sal ek nie enige inligting daaroor kan bespreek nie,” sê hy.

Hy het “indirek” vir kykNET en VIA gewerk deur “buiteproduksiehuise,” reageer hy op die bewering dat sy praatjies daaroor mense om die bos gelei het.

“Geen werk binne die rolprent- en televisiebedryf is gewaarborg nie. En die kunstenaars weet dit.”

Hy sê hy het Hykie, Sandra en ander akteurs se deelname aan sy beplande Maart-slypskool per e-pos gereël, maar by navraag kon hy nie die akteurs se aanvaarding van sy uitnodiging toon nie. 

Bennie kap ook terug hy het nie met Lorna ooreengekom oor ’n prys nie, maar dat hy wel ’n betaling aan haar gemaak het. 

Op Adriaan van Getroud met rugby se bewerings wil hy ook weens ’n “vertoulikheidsooreenkoms” nie reageer nie. 

En wat die 1925Band betref, sê hy dié groep skuld hóm eintlik R150 000 vir dienste gelewer. 

Wat van Zetske se werkpermit?

“Zetske het ’n vervalste betaalbewys gestuur,” beweer hy. “Ek het dus die reg om die permit te weerhou.”

En wat van die feit dat daar volgens bekendes en aspirantsterre niks gekom het van sy mooi praatjies nie?

Byna botter-in-die-mond laat hy hoor: “Geen werk binne die rolprent- en televisiebedryf is gewaarborg nie. En die kunstenaars weet dit.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe