Mortimer van der Westhuizen (30) is Sondagaand (23 Februarie) dood toe sy voertuig in ’n stormwatersloot langs die Bothalaan-afirt van die die N1 af onderwerg na Doringkloof, Centurion, beland het.

Die sanger het vroeër ’n vertoning in Cullinan, oos van Pretoria, gehad. Mortimer is op die toneel dood verklaar, maar dit was teen Woensdagoggend nog nie duidelik hoe die eenvoertuig-ongeluk gebeur het nie.

Mortimer was volgens bekendes ’n jong sanger wat op die punt was om ’n “groot deurbraak in die musiekbedryf” te maak.

“Hy wou nét sing. Dít was sy grootste passie. Hy was ’n wonderlike, positiewe mens wat sy lewe in musiek gestort het. Ek het anderdag nog vir hom gesê ek is oortuig daarvan dat hy binnekort ’n deurbraak sal maak,” vertel die radio-omroeper en sanger Riaan Grobler.

Riaan sê hy het in die sosiale media van Mortimer se dood te hore gekom.

Mortimer van der Westhuizen
Die sportsnutsvoertuig waarin Mortimer gereis het (Foto: ER24)

“Dit was skokkend. Ek het onmiddellik van ons gemeenskaplike vriende gebel om te hoor of dit waar kan wees . . . en dit was. ’n Mens kan nie glo dat iemand so jonk – iemand in die fleur van sy lewe – sommer net so weggeruk word nie.

“Sy dood is ’n tragedie – en het ons almal wat vir hom omgegee het in stukke gelaat.” 

Die Boer soek ’n Vrou-deelnemer Damian Engelbrecht, ook ’n vriend van Mortimer, sê hy kan steeds nie sin maak van die sanger se “ontydige dood” nie.

“Dis ’n enorme skok. ’n Mens sit so half terug en vra jouself of dit die waarheid kan wees; of dit nie dalk ’n nare droom is nie. Dis altyd seer as iemand sterf. Maar Mortimer was so jonk; hy was gedrewe. Hy het soveel drome vir sy toekoms gekoester. En nou is alles weg,” sê hy.

Damian sê Mortimer het gereeld oor naweek vertonings gehou. Hy was glo ’n gereelde kunstenaar in die Cullinan-omgewing. Hy het hoofsaaklik oor naweke op sy sangloopbaan gefokus en weeksdae in bemarking gewerk.

“Ek wens ek kon weet hoe so iets gebeur het . . . Sy motor was nie eers erg stukkend nie. Dis die skrikwekkendste van alles. ’n Gemeenskaplike vriend vertel hy sou ook in die motor wees, maar hulle het op die laaste oomblik anders besluit.”

Mortimer van der Westhuizen
Mortimer van der Westhuizen (Foto: Facebook)

Sy vriend se dood laat hom met vele vrae, sê Damian.

“Hy het nie ’n maklike lewe gehad nie. Sy ma is ook op ’n jong ouderdom dood. Hy moes ontsettend hard werk vir alles wat hy gehad en bereik het. ’n Mens kan jou nie in dink dat dit alles verniet was nie. Maar dit was nie – want hy het honderde lewens aangeraak,” sê Damian.

Ook Dirk van der Westhuizen sê Mortimer se dood is ’n groot skok – vir hom en vir die hele Afrikaanse musiekbedryf.

“Ons het mekaar nie werklik geken nie, maar sou gereeld sommer op Facebook klets. Hy het nooit gevra vir aalmoese nie; nooit gevra vir hulp met sy loopbaan nie. Hy was altyd vriendelik en bedagsaam,” sê Dirk.

“Ek het baie pelle wat goed bevriend was met hom, en vir hulle almal is dit ’n geweldige skok. Vir my ook. Dis ’n eye opener – ’n mens besef nie jou lewe kan enige oomblik van jou weggeneem word nie. Alles waarvoor jy gewerk het; alles waarvoor jy gehoop het – alles net weg.” 

’n Gedenkdiens vir Mortimer word Donderdag (27 Februarie) om 12:00 by die Smutshuis in Irene, Centurion, gehou.