Wynand Vermaak is in 2017 deur sy ma, Lelani, uit hul brandende huis in Bellville gered. Foto: Facebook
Wynand Vermaak is in 2017 deur sy ma, Lelani, uit hul brandende huis in Bellville gered. Foto: Facebook

“Ek probeer daardie aand vergeet,” vertel Wynandt aan Huisgenoot. Hy is nou in matriek aan die Hoërskool D.F. Malan in Boston, Bellville.
 
“Ek kry weekliks terugflitse. Ek sukkel om te slaap,” voeg Wynandt by. “Maar ek sal deurdruk met durf, want ek het my lewe twee keer te danke aan my ma: toe ek gebore is en toe sy my gered het.”
 
Wynandt se deursettingsvermoë en positiwiteit deur al die seer, het hom die bynaam “Ysterseun” gegee en op sy 15de verjaardag het hy ’n koek met Iron Man op gekry.

“Ons het nie gedink hy sou 15 sien nie,” het Lelani destyds aan Huisgenoot gesê. Die brand het ses maande ná sy 14de verjaardag gebeur. In die waakeenheid het hy met brandwonde oor 60% van sy lyf gelê.

Wynandt Vermaak het amper in 2017 verbrand, maar h
Wynandt Vermaak het in 2017 byna verbrand, maar vandag is hy 'n gesonde en kranige matriekleerling. Foto: Verskaf

Op 7 Julie 2017  het ’n brand op onverklaarbare wyse by hul huis uitgebreek en die meeste van die gesin se besittings verwoes. Lelani het ook kwaai brandwonde aan haar voete en hande opgedoen toe sy Wynandt en sy negejarige sussie, MacKenzie (toe 5), uit die brandende huis gered het.
 
“Ons is gelukkig nog gesond en die covid-virus het nie een van ons platgetrek nie,” vertel Lelani aan Huisgenoot. “My hande is darem nou meer normaal. Dis net die vingerpunte waar die vel nog baie dun is,” gesels sy.
 
“As jy naby kyk, lyk dit soos die kraters van die maan. Ek moes my vingerafdrukke by die bank oor doen omdat my vingerafdrukke so verander het nadat dit gebrand het,” vertel die dapper ma.

Dis hoe Lelani Vermaak se voet na die brand gelyk het. Foto: Facebook

“Ek sny dit maklik raak as ek byvoorbeeld ’n appel skil omdat dit so dun is. Ek bloei langer uit my vingerpunte. My voetsole is ook nog sag. Dit het  verbrand omdat ek kaalvoet in die vlamme ingegaan het.
 
“Die are is meer sigbaar aan my regtervoet. As die hond op my voet trap, sny dit die vel. Ek moet sagte skoene dra en sonskerm aansit as ek uitgaan.
 
“Ek is so trots op Wynandt. Voor die ongeluk was hy so selfversekerd. Hy was nie skrikkerig of bang nie. Ná die brand was hy fragile. Hy slaap met die lig aan en hy wil nie 'n spieël sien nie. Sy lyf, bolyf en arms is vol letsels.

Wynandt Vermaaak hou letsels oor van 'n brand in h
Wynandt hou letsels oor van 'n brand in hul huis in 2017, maar hy is besig om die letsels na binne te genees. Foto: Verskaf

“Maar sy selfvertroue is terug. Hy begin vrede gemaak met hoe hy lyk. Sy punte het gestyg. Hy het in 2020 rugby gespeel, maar die somerhitte raak te erg. Sy sweetgaatjies is weg in sy bolyf. Dalk sal hy met winter ’n comeback maak; ek hoop so. Dit is fantasties om hom op die rugbyveld te sien,” vertel sy.

Wynandt Vermaak (middel met grys trui en mussie) tussen sy spanmaats van die Hoërskool DF Malan se o.14A-rugbyspan Saterdag voor hul interskolewedstryd teen die Hoërskool Bellville. Foto: Facebook/Word Gou Gesond Wynandt Vermaak!

Wyandt vertel hy wil in die onderwys studeer as hy klaar is met skool - as hy ’n beurs kry by die Universiteit Stellenbosch. Of hy sal ook graag by ’n kollege studeer in projekbestuur of menslike hulpbronne.
 
“My droom was om ’n vlieënier te word. Ek was ses maande uit die skool en kon nooit die wiskunde inhaal nie. Die boustene van wiskunde het verlore geraak in daardie ses maande. Ons onderhoof het my ’n paar weke gelede ingeroep en gevra waarom ek suiwer wiskunde gelos het, want my onderwyser sê ek is skerp en sou dit kon volhou. My punte lyk goed en ek werk hard om dit daar te hou.”
 
Maar “Ysterseun” het die regte houding en dryfkrag om enigiets te wees waarop hy sy hart sit.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe