Na 'n lang, uitgebreide soektog het Paula na 27 dae uiteindelik haar een kat, 'n uitgeteerde Phoebe, in 'n nywerheidsgebied in Atlantis, sowat 35 km van haar huis, weer gevind.

Maar Phoebe se broer, Oberon, was skoonveld. Vir maande lank het Paula gereeld na Atlantis gery en na haar geliefde kattekind gesoek. Hy was bietjie meer as 'n jaar oud.

Sy was op moedverloor se vlakte en haar hart was stukkend.

Maar ná nege maande, op 20 Maart, het Paula se selfoon gelui.

Die oggend toe Phoebe gevind is, was sy rasend hon
Die oggend toe Phoebe gevind is, was sy rasend honger. Foto: Argief

 'n Paartjie het 'n kat in die einste nywerheidsgebied opgetel en na die veearts geneem. Hulle het sy mikroskyfie geskandeer en Paula se kontaknommer gekry.

“Ek was in ekstase gewees toe ek besef Oberon is lewend gevind,” het Paula aan Huisgenoot gesê.

“Hy was so maer gewees, vol bosluise en het wurms gehad. Die veearts vir hom medikasie daarvoor gegee.”

Maar Oberon was ongelukkig nie meer die klein, saggeaarde katjie wat Paula grootgemaak het nie.

“Vandat hy weer by die huis is, is hy baie moeilik. Hy baklei gereeld met die ander katte, veral met sy sussie, Phoebe, wat saam hom in die veld gegooi is. Hy is soms so erg dat ek Phoebe snags saam met my in die kamer moet toemaak. Vir nege maande lank moes hy op sy eie oorleef, so dit is te verstane.

“Maar ek is steeds baie, baie bly hy is terug.”

Maar die drama is lank nie verby nie, want nou staar haar buurman, die pensiontrekker Elbrecht Oswald (69), 'n klag van diefstal en dieremishandeling in die gesig.

Hy verskyn eersdaags in landdroshof in Bellville.

Die katterige drama

Die drama het vroeg verlede jaar begin in die gegoede Kaapse voorstad Welgelegen, waar Paula met vier van haar katte al vir die afgelope ses jaar woon.

Elbrecht en Paula woon in dieselfde straat, hy net twee erwe verder, in 'n rustige singel.

Elbrecht Oswald
Elbrecht Oswald. Foto: Argief

Elbrecht het gesê hy is 'n kranige tuinman en het beweer Paula se katte krap gereeld in sy beddings en wanneer hy sy hand met 'n plant in die grond steek is dit ene katmis.

Die ergste vir hom was toe sy kokketiel op 'n dag dood neergeslaan het. Hy glo dit was weens 'n hartaanval nadat die voël vir een van Paula se katte geskrik het.

En toe Paula weer sien was twee van haar kattekinders – eers Oberon en toe Phoebe – skoonveld.

Sy was verpletter.

“Ek het nie kinders nie en my katte is my alles. Toe Phoebe en Oberon verdwyn het ek baie gehuil. Hul plekke op my bed was leeg…” het Paula aan Huisgenoot vertel (My kietsies se ontvoerdrama, 2 Augustus 2018).

Later het die waarheid uitgekom. Elbrecht het die katte in sy kar se kattebak geprop en hulle afgelaai in Atlantis, 'n nywerheidsdorp sowat 35km van Paula se huis.

“Ja, ja. Ek’s baie jammer. Ek sien nou dit was baie verkeerd van my. Maar ek kon dit net nie meer vat toe my kokketiel dood is nie,” het Elbrecht destyds aan Huisgenoot gesê.

“My bloeddruk is hoog; ek stres baie. Nou moet ek op my ouderdom vir die eerste keer in die hof gaan staan.”