Coleen Wileman (59) het by haar seun, Kyle, en sy meisie, Angie Wells, by hul huis in Rynfield, Benoni, aan die Oos-Rand gaan kuier twee weke ná die geboorte van hul babadogter, Aurora. Almal was gesond.

Klein Aurora is op 8 Mei gebore, maar net minder as ’n maand later was sy aan ’n ventilator gekoppel en het sy vir haar lewe geveg teen vier respiratoriese virusinfeksies, waaronder covid-19, in die neo-natale intensiewesorgeenheid van die plaaslike Life The Glynnwood-hospitaal.

“Dit was ’n nagmerrie,” vertel Angie oor die laaste maand.

Aurora is op 8 Mei 2021 gesond gebore. Foto: Versk
Aurora is op 8 Mei 2021 gesond gebore. Foto: Verskaf

“Ons wil dit nooit weer beleef nie,” beaam Kyle toe Huisgenoot Vrydag – die eerste keer dat Aurora sedert 5 Junie van suurstof gehaal is – met hulle en sy ma praat.

“Dit is eintlik so ironies. Hulle het juis daardie Saterdag ’n tuisgeboorte met Aurora gehad om die hele covid-19-ding te vermy,” vertel Coleen, wat ook in Benoni woon.

Kyle en Angie het saam vier kinders, Perry (17), Russel (7), Blake (2) en Aurora, wat Dinsdag ’n maand oud was.

“Toe ek die Sondag (23 Mei) daar gekuier het was almal nog oukei. Maar in die dae daarna het hulle grieperig begin voel. Aurora het net 'n bietjie gesnuif.”

Maar op 25 Mei moes hulle met Aurora na die Netcare Linmed-hospitaal in Benoni haas toe haar ma agterkom sy wil nie drink nie en dit lyk asof sy sukkel om asem te haal. 

Kyle Wileman en Angie Wells, saam met hul baba, Au
Kyle Wileman en Angie Wells saam met hul baba, Aurora. Foto: Verskaf

“Ons het nie gedink dit is so ernstig nie, maar aangesien Aurora moes opgeneem word, moes ons hele gesin vir covid getoets word,” vertel Angie.

Sy, Kyle en Perry, het positief getoets, maar Aurora en hul twee jonger kinders, Blake en Russel, se uitslag was negatief.

Aurora het beter geword en is ná drie dae, op 27 Mei, uit die hospitaal ontslaan. Maar toe word klein Blake baie siek.

Dié keer was die toets vir covid-19 positief.

“Hy en sy pa is op 1 Junie saam in die pediatriese eenheid van Linmed opgeneem waar hulle in isolasie was.”

Intussen het Aurora weer begin siek raak en Angie is op 3 Junie terug met haar hospitaal toe.

“Haar lippies was al pers toe hulle met haar by die hospitaal kom. Daar is hulle toe almal – Kyle en Blake én Angie en Aurora almal in die hospitaal. Hulle was afgesonder van mekaar, maar het ’n badkamer gedeel,” vertel die ouma.

“Haar lippies was al pers toe hulle met haar by die hospitaal kom."

Coleen vertel dit was ’n “verskriklike tyd”.

“Ek is nou amper 60, so die ouer seuns (Perry en Russel) moes na mekaar kyk met hul ouers en jong sibbes (Aurora en Blake) in die hospitaal. Ek het probeer help waar ek kon, maar dit was ’n moeilike situasie."

Angie vertel hulle het in die tyd nog toetse op Aurora uitgevoer. Die respiratoriese sinsitiale virus (RSV), die rhinovirus en bocavirus is toe ook by haar gediagnoseer. Aangesien Blake ook RSV onder lede gehad het, het die vermoede ontstaan dat hy dit dalk by die skool opgedoen het. Angie glo dit is wat Aurora die siekste gemaak het. Sy glo toe hulle as gesin met covid-19 gediagnoseer is, het dit alles net vererger. 

Baba verswak

Op 5 Junie het Aurora se toestand drasties verswak.

“Dit was die dag toe ek gedink het ek gaan my kind verloor,” vertel Angie. “Aurora het letterlik na asem gesnak. Ek het ons pediater nog nooit in die sewe jaar dat ons by haar is, so paniekbevange gesien nie. 

Klein Aurora in die intensiewesorgeenheid. Foto: V
Klein Aurora in die intensiewesorgeenheid. Foto: Verskaf

“Dit was soos ’n rillierfliek,” beaam Kyle. Aurora is per ambulans na The Glynnwood-hospitaal oorgeplaas waar sy in die neo-natale intensiewesorgeenheid opgeneem is. Hier het sy vir haar lewe geveg en is sy maksimum suurstof gegee. 

“Die RSV was baie ernstig, maar ek dink met die covid en ander twee virusse saam was dit net ’n sameloop van virusse wat haar op die ventilator laat beland het,” vertel Coleen.

“Angie moes die ondraaglike besluit neem: Bly sy by haar kind of nie.”

Aurora ernstig siek in die hospitaal. Foto: Verska
Aurora ernstig siek in die hospitaal. Foto: Verskaf

Angie vertel die eenheid, wat op hierdie oomblik as neo-natale intensiewesorgeenheid te midde van covid-19 gebruik is, het nie enige geriewe gehad nie.

“Ek sou nie daar my foon kon laai nie, ek sou nie borsmelk kon pomp nie, ek sou nie kon bad of stort nie. As jy eers in is, mag jy nie uit nie. Niks mag ingebring of uitgevat word nie. Ek het net geweet ook Kyle gaan nie alleen met ons siek tweejarige én sewejarige en 'n tiener, alleen cope nie.”

Coleen vertel "die hele Benoni" het vir Aurora gebid terwyl sy alleen om haar lewe moes veg.

"Dit was ongelooflik, ek dink mense reg oor die wêreld het later gebid.”

Kyle klink verlig. “Ons wil dit nooit herleef nie.”

Aurora is Saterdagaand uit die hospitaal ontslaan. “Dit was ’n moeilike naweek. Ons moet haar elke vier ure nebulise en sy drink nog medisyne. Dit is nog ’n lang pad na herstel, maar darem was sy gesond genoeg om huis toe te kom,” sê Angie.

“Ek wil vandag ’n beroep op ouers doen om nie hul siek kinders skool toe te stuur nie,” sê Angie. “Veral nie as daar ’n uitbreking is van RSV nie. Ons het nie gedink ons baba gaan dit oorleef nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe