Die oomblik toe hy die harde skubbe onder sy kaal voet voel, wéét hy: Dis die dood wat hier onder die water skuil. Net ’n oomblik later gryp die gedierte hom aan die regterbeen – ’n krokodil.

Die 71-jarige Peter Knottenbelt veg om sy lewe; hy baklei terug. Soos ’n wafferse Tarzan stoei hy in die Olifantsrivier met die gevaarte. Die krokodil laat los sy been en gryp hom aan die bolyf.

Die water word rooi van sy bloed. Peter druk sy vingers in die vreesaanjaende reptiel se oë en spartel om los te kom. Al waaraan hy kan dink, is die veiligheid van sy 19-jarige kleindogter, Savannah, wat op die sandbank naby hom staan.

“Die oomblik toe die gedierte my vat en die lug inslinger, het ek gedink: Dood, vandag ontmoet ons mekaar,” vertel Peter, ’n boorling van Benoni, oor daardie afgryslike dag in Januarie vanjaar. “As ek geweet het krokodille is in die rivier, sou ek nooit daardeur geloop het nie, veral nie met my kleindogter nie,” sê hy.

’n Krokodil soos dié het hom verwoed aangeval. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Dit het soos ’n ewigheid gevoel voor die krokodil hom gelos en weggeswem het. Van die wildbewaarder wat hom toe uit die water gehelp het, was die bloeiende Peter skaars bewus.

Hy was in ’n waas van pyn en skok gehul, maar die eerste ding wat tot hom deurgedring het, was dat sy kleindogter veilig was. En toe kyk hy af na sy regterbeen. “Die beenskerwe het aan albei kante van my vleis uitgesteek. Ek het toe geweet die been sal dit nie maak nie.”

Van die erns van sy ander beserings het hy toe nog nie eens geweet nie. ’n Pynlike ambulansrit na Polokwane en ’n helikoptervlug na Johannesburg het gevolg. Maar die krokodilbyt aan sy been het ontsteek, en toe hy twee weke later uit ’n geïnduseerde koma wakker word, moes hy hoor die been is geamputeer.

Dit was geen verrassing nie. Hy het immers op die rivieroewer al geweet . . .

Maande se rehabilitasie het gevolg, maar vir dié afgetrede dosent in mynwese aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit kry jy nie onder nie.

Hy vat-vat aan sy prostese en verklaar: “Ek is vandag fisiek en emosioneel sterker.”

Dit was met groot afwagting dat Peter en sy familie in Januarie vir hul familievakansie na die luukse bosveldoord naby Hoedspruit in Mpumalanga is.

Peter en sy vrou, Lucy, se seun, Graham (45), het uit Nieu-Seeland kom kuier, vergesel deur hul skoondogter, Jay (45). Hul kleindogter, Savannah, wat in Suid-Afrika woon, was ook saam.

‘Ek het gedink die uitkoms van die aanval sal die dood wees’

Peter en Lucy het hul seun en skoondogter twee jaar tevore laas gesien en die vakansie sou spesiaal wees. Peter was sy lewe lank aktief en fiks. Stilsit kon hy nie. “Ons het pas aangekom en die vroue het solank begin uitpak,” sê hy oor daardie eerste dag van die vakansie. “Ek het vir my kleindogter gesê ons moet die plek solank verken.”

Hulle het by ’n inham van die rivier gekom waar ’n swaaitou aan ’n boomtak oor die water gehang het. “Dit was naby aan die vakansiehuis. Daar was geen waarskuwings teen krokodille nie,” sê Peter.

Hulle het besluit om deur die rivier te stap. “Die water het maar tot by my knieë gekom en ons was oor.”

Peter en sy kleindogter het ’n rukkie rondgestap en besluit om toe weer deur die rivier en terug na die huis te gaan – maar eers is hulle na ’n klein sandbank in die middel van die rivier. Intussen het die res van die familie ook na die rivier gestap en op die wal staan en gesels.

Peter onthou die water was dié keer borshoogte. “Savannah het op die sandbank geklim en ek het al om die bank in die water gestap.” Die water was bruin.

Skielik het Peter iets hards onder sy regtervoet gevoel. “Ek het dadelik geweet ek het op ’n krokodil se rug getrap.” Die krokodil het blitsig sy kop omgeswaai en Peter aan die been beetgekry.

Peter wys sy letsels. Hy het onder meer sy borsbeen, ses ribbes, sy sleutelbeen en gewrigte in die aanval gebreek. Foto: Papi Morake.

“Hy het my soos ’n lappop deur die lug geswaai. Ek kon hoor hoe my been in sy kake breek. Ek het gedink die uitkoms van die aanval sal die dood wees.”

Al wat deur sy gedagtes gegaan het, was om te verhoed dat die krokodil hom onder die water intrek en verdrink – en Savannah. Hy het eers later gehoor sy het deur die water na die oewer gehardloop terwyl hy om sy lewe geveg het.

“Die krokodil het my in die lug gegooi en weer aan die been gegryp. Ek het toe my greep om sy kop probeer verstewig en weer sy oë probeer uitgrawe,” sê hy.

Vanaf die wal kon sy familie nie veel anders doen as om hulp te soek nie. Twee veldwagters was toevallig naby en het die hulpkrete gehoor. “Hulle het skote afgevuur om die krokodil te probeer afskrik, maar kon dit nie waag om na die dier te mik nie. Die risiko dat hulle my sou raak skiet, was te groot.”

Die krokodil het hom toe weer die lug ingesmyt en weggeswem. “Hy het my letterlik uitgespoeg.” Later het hy besef hy het sowat 20 minute lank met die dier gestoei voor die veldwagters opgedaag het. “Ek skuld hulle my lewe. Ek dank ook die Here vir my lewe.”

Dis toe hy iemand op die wal hoor sê sy been moet afgebind word om die bloeding te keer dat hy gesien het hoe die krokodil hom verniel het. Intussen het ’n ambulans opgedaag en die paramedici het sy wonde behandel so goed hulle kon.

Later het hy gehoor die krokodil het hom ook aan die rug en skouer gebyt. Sy borsbeen het in die kragtige kake gebreek en sy hart is gekneus. Ses ribbes het gebreek, waarvan een deur sy long gesteek het. Sy sleutelbeen en albei gewrigte is ook gebreek.

Graham het agter in die ambulans by hom gesit tydens die rit na die Polokwanehospitaal. “Hy het my heeltyd moed ingepraat.”

Hy doen oefening as deel van sy rehabilitasie. Foto: Verskaf.

In Polokwane is hy reguit teater toe en omstreeks halfdrie die volgende oggend is hy per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem.

Maar infeksie het in die been posgevat. “Soos my dogter sê, krokodille borsel nie hul tande nie . . . My familie sê jy kon in die hospitaalkamer ruik hoe my liggaam vrot en die dokters het toe besluit die been moet af.”

Lucy het toestemming gegee en die amputasie is gedoen. “Veertien dae later is ek uit my geïnduseerde koma gebring. Amper die hele familie het langs my bed gestaan en ek het net ’n halwe glimlaggie gegee. Pype was nog aan my liggaam gekoppel.

“Graham het my vertel dat my been afgesit is. Dit het my nie gepla nie, want ek het geweet dit sou gebeur.”

Peter was 45 weke lank in Milpark – 44 weke daarvan in hoësorg. Daarna het die maande lange rehabilitasie begin. Ses maande lank moes hy met krukke en ’n loopraam weer leer loop. En drie maande gelede het hy die prostese gekry.

Peter is nie spyt oor die sy been nie. “Die amputasie het immers my lewe gered,” sê hy. “Ek is dankbaar dat ek vandag hier sit, want dit kon so maklik anders gewees het.

“Ek is gelukkig. Ek het vandag nie kwaai pyn nie. Ek kry nie nagmerries nie en slaap soos ’n baba. Sedert ek my been verloor het, is ek baie sterker. Ek swem elke dag minstens een kilometer in die gimnasium se swembad.”

Emosioneel is hy soveel sterker dat hy deesdae motiveringspraatjies by skole en universiteite aanbied.

Wat is sy boodskap? Moedig antwoord Benoni se eie Crocodile Dundee: “Jy kan enige trauma oorkom.”